Jongste aktiwiteit:

Bande wat Bind

Bande Wat Bind
Die woede in haar ruk haar ingewande soos ʼn vyf op ʼn Richter skaal — ‘Wie de duiwel dink hulle is hulle,’ Flits dit deur haar gedagtes wanneer sy die vreemde skeerroom ruik, en die groot skoenspoor in die sneeu sien.
Sy gly geluidloos oor die sneeu na die buitehuis, sit die ski’s teen die hout muur, en stap deur die ondergrondse gang tot by die loergat in die hout muur. Sy sien hom, en hy maak ʼn indruk, baie groot en baie sterk.
Sy trek haar pistool uit die holster, haal hom oor, druk hom in die parka se sak, en stap terug deur die gang en die sneeu die hoofhuis binne.
Die koue wind stap saam met haar die huis in, en vries die gesprek tussen die drie mans onmiddellik — die vreugde op ‘die twee’ se gesigte, “Sus, Ren, jy is terug.”
Hulle gryp mekaar vas, en buite die omhelsing sien hy haar, en die gedagtes maal in sy kop, ‘Liewe Vader, is hierdie klein mensie die hoog aangeskrewe Dokter Ren Ratzhorn, befaamde wetenskaplike, die persoon vir wie hy moet ‘oppas’, volgens die waarskuwing van Nathan Schnell, die Buro Hoof’.
Vir Robert Connors is die waarskuwing skielik ʼn groot grap, sy wat nie eers tot by sy skouer sal reik nie.
Haar oë hou syne vas, daag hom, en die blou daarvan verras hom, net soos die van die twee seuns vroeër.
Haar stilswye dwing hom om te verduidelik, en skielik is hy stom, wat sê ʼn mens, ‘Ek kom jou broer haal, lewend of dood, want hy is ʼn verraaier.’
Sven Ratzhorn verbreek die stilte eerste, “Ren, hierdie is Robert Connors, hy kom van Amerika af en hy soek na Mats.”
Die woorde kom lê tussen hulle, en Robert Connors sien dit in haar oë, en hy weet, sy weet reeds alles, sy teenwoordigheid in haar huis, die doel van sy besoek, en skielik is daar geen grap nie.
“Ek weet,” is al wat sy sê, terwyl haar oë hom vaspen, en die klank van haar effense hees stem omvou hulle.
Alles wat hy die afgelope weke gedink het om te sê, is skielik ongedaan, en al wat hy kan doen is om sy hand na haar uit te steek.
Vir ʼn oomblik dink hy sy gaan die gebaar ignoreer, maar sy wikkel haar los uit die omhelsing, trek die handskoen uit en vat sy hand. Die aanraking is net een enkele oomblik, maar die impak daarvan laat hom na sy asem snak.
Sonder om ʼn oog te trek, draai sy om en praat met die seuns, “Sven, bring jy en Bertil die goed van die slee af in, ek sal vir ons ʼn drinkding maak.”
Robert Connors bly besluitloos staan, maar sy het haar ewewig herwin, en sê gelykmatig, “Sit gerus,” en die effense hees stem kleef aan hom.
Met die afgooi van die groot parka, is die fynheid van haar postuur sigbaar, maar hy weet, dit is ʼn baie misleidende fynheid, en hy weet, hy sal wel moet ‘oppas’, miskien nie vir haar liggaamlike krag nie, maar vir haar psigiese krag.
Wanneer sy die beker koffie voor hom neersit, praat hy, en hy is onverbiddelik eerlik, “Ek is hier om jou broer, Dokter Mats Ratzhorn, te kom haal.”
Sy maak hom stil met die swaai van haar kop, “Nie nou nie, later wanneer ‘die twee’ slaap.”
Later, kom baie laat in die nag, wanneer ‘die twee’, soos sy hulle met soveel deernis noem, deur die keldergang na die buitehuis weg is. Die gesprek is vir albei pynlik, vir haar omdat dit Mats is, haar Mats waarvan hierdie dinge gesê word, en vir hom omdat hy ʼn ongekende deernis vir hierdie drie mense voel wat so seer gaan kry.
Alles kom ooreen met professor Pelsinger se feite eergister in Zermatt. Die aanklag van verraad, en hierdie man se vasberadenheid om Mats te kry.
Hy kyk haar reguit in die oë wanneer hy sê, “Ek gaan hom terug neem, lewendig of dood, dit moet jy weet.”
Sy wyk geen aks nie, “Indien my broer enigsins enige skuld het, en ek weier om dit te glo, daarvoor ken ek hom te goed, reken ek jy en jou opdraggewer is effens voortvarend. Daar is so ʼn paar dinge wat julle vergeet; eerstens die 1996 uitlewerings ooreenkoms tussen ons twee lande, die tyd wat die uitlewerings proses sal neem, en natuurlik indien julle die doodstraf in gedagte het, kan jy vergeet om my broer ooit in jou land te sien.”
Hy wil haar in die rede val, maar sy kyk hom stil, “En laastens, of jy hom enigsins sien, vergeet van ‘vat’, daaroor sal ek besluit, en ‘dit’ moet jy weet.”
Haar kalm afgemete woorde tref hom, maar hy is beslis, “Jy sal my nie keer nie.”
Die beslistheid is in die skud van haar kop, “Nee ek sal jou nie keer nie, maar ek sal jou ook nie help nie.”
In Robert Connors se gedagte kom lê die wete wanneer hy dink aan die ongenaakbare toegeysde wit landskap buite, ‘Sonder haar hulp sal hy nie net Mats Ratzhorn nooit kry nie, maar hier sal hy wegraak en sterf,’ en hulle twee verstaan mekaar.
Vir nie een van hulle is daar slaap in die nag nie, die onrus is in albei, hulle weet, dit is nie net Mats Ratzhorn wat tussen hulle is nie, maar ook daardie gevoel wanneer jy iemand uitsonderliks ontmoet.
Sy sê dit sonder ophaal aan die ontbyt tafel, “Ek en Robert gaan môre buitepos toe om Mats te sien.”
Die vrae is in ‘die twee’ se oë, “Die winter is al ʼn paar weke oud, en die storms het reeds begin, hoe sal julle dit maak.”
Robert Connors hou haar gesig dop, maar sy trek nie ʼn spier nie, “Ons sal dit maar moet vat soos dit kom, maar gaan, sal ons gaan, want Mats het ons nodig.”
Daarmee is dit afgehandel, en die res van die dag pak sy die rugsakke en maak sy seker dat ‘die twee’, vir Robert Connors toerus met wat nodig is vir die tog na bo.
Die lug is grou en grys, en die wind ysig wanneer hulle tog begin. ʼn Staptog wat hulle deur die Matter vallei rondom die Gorner gletser sal vat tot meer as vier duisend meter op teen die Monte Rosa. In haar is ʼn kommer oor Robert Connors se vermoë om hierdie tog te voltooi, maar in haar vind sy geen simpatie vir hom nie.
“Indien ons aan die einde van die winter nie terug is nie, kry die lug-reddings eenheid en kom soek ons,” Is al wat sy sê wanneer sy hulle teen haar vasdruk, en hy moet hom haas om by te bly.
Die stap in die dik sneeu is in stilte, en lank voor die aand voel hy die uitputting en die pyn in sy liggaam. Wanneer hy na haar kyk waar sy hul kos warm maak oor die klein stofie in die sneeu, groei ʼn respek vir haar soos wat hy nog nooit vir niemand gevoel het nie.
Hy verloor sy positiewe in die slaap, en met ʼn pyn in elke sel van sy liggaam staan hy ure later op. Sy gee hom kos, swaai haar rugsak op haar rug en stap aan sonder ʼn teken van uitputting.
Teen die einde van die tweede dag se stap slaan ʼn helse storm toe, en voel hy die dood in hom, en is dit net haar warmte hier teen hom in die tentjie wat hom by sy positiewe hou.
“Slaap,” Sê sy, terwyl sy hom toevou met die parka en hy verloor herinnering van sy hele lewe, behalwe sy wie se hitte teen hom is.
Teen die vierde nag bring die engte van die tent ʼn gekheid oor hom, en ruk hy die tent oop, en val die koue onsigbaarheid in. Die storm slaan hom met die geweld van ʼn hamer met een slag in die sneeu neer. Haar warm hand vat hom sag, maar ferm aan die kraag, en hy kruip agter daardie hand aan tot in die welkome warmte van haar nabyheid.
Sodra die ergste storm stil word, begin die folterende stap weer, tot daar waar hy nie weet of dit dag of nag is nie, of hy stap en of hy droom nie, en net daardie klein figuurtjie, en die hand wat hom telkens aanraak, en in die regte rigting dwing hou hom aan die lewe.
Wanneer hulle die buitepos se rook sien, voel dit vir hom of sy siel sy liggaam verlaat, voel hy die dood in hom, maar wanneer sy omdraai en haar hand na hom uithou, kom die lewe terug, die lewe wat sy hom gee.
Hulle sleep-dra hom die hut in, en lê hom neer op die vel kombers langs die oop vuurherd. Dan omhels hulle mekaar en vloei die trane. Hulle bly langs die vuurherd, en hulle praat, en hulle treur oor die doodsengel wat oor hulle pad gekom het.
Mats Ratzhorn praat sag-hakkelend, met die dood wat reeds in sy liggaam te sien is, “Ek het alles gedokumenteer sodat jy dit vir professor Pelsinger kan gee, hy sal sorg dat reg geskied, maar ek wil dit vir jou vertel, en ek wil dit vir hom vertel, sodat julle sal weet wat die waarheid is.”
ʼn Doodse moegheid kom oor Ren Ratzhorn, ʼn moegheid van dae sonder slaap, ʼn moegheid van die wete dat sy die keuse sal moet maak, die keuse tussen hierdie twee mans se lewens, Mats haar tweeling, haar maat, haar ewebeeld, en hy wat ʼn vuur in haar kom aansteek het.
Sy laat hom praat, en saam met die waarheid kom die wanhoop, en sy los hom eers langs die vuurherd en vlug die koue wit nag in, vlug om alleen te huil oor hulle lot.
Hulle lê weerskante van die oop vuurherd, en sy vou die velkomberse om hulle met ʼn liefde in haar, en sy weet, hulle wat hier lê, is twee van die kosbaarste mense in haar lewe, en sy voel ʼn ongelooflike pyn vir wat gaan volg.
Sy vou Mats se dokumente oop en sy weet die lees daarvan sal pynlik wees, so pynlik as wat die hoor daarvan was.
Ons was drie wat in Julie 1995 begin werk het aan projek ‘CONTAINER MAGNUS’, ek, Conrad en, Tanner. Die monitering van die veilige berging van kernafval, ons lewens ideaal.
Ons opdragte het gekom van die Amerikaanse Departement van Energie en ons sukses om onwettige giftige kernafval sowel as defekte en nalatigheid op te spoor was gou en baie. Ons het beskik oor toerusting en ʼn metodologie wat ons ʼn uitgesoekte groep gemaak het. Die opdrag was in werklikheid om al die ander lande se insidente uit te wys terwyl die insidente in die land self stilswyend oorgesien is. Terwyl die oopvlek van insidente in Brasilië, Indië, Rusland en Frankryk voorbladnuus in die wêreld was, het ons meer en meer insidente in Amerika self geïdentifiseer. Ons het besef dat daar duisende insidente jaarliks plaasvind terwyl werkers blootgestel is en geen beskerming of vergoeding gekry het nie. Die eise van die regering was skielik daar. Die inplanting van ʼn spesiale ‘sender’ in ons, vir ons veiligheid.
Sy sien die verskil in die handskrif en sy weet hier was ʼn insinking.
Vanaf November 1996 identifiseer ons by verskeie geleenthede by die regering se Hanford Ingenieurswerke gruwelike nalatigheid om te verseker dat die kritiese veiligheidsprosedures gevolg word om die veilige hantering van kern materiaal te verseker.
In Mei 1997 ontplof ʼn tenk met giftige chemikalieë wat onwettig in die Ingenieurswerke gestoor was. Die gevolg was die vrylating van twintig- tot dertig duisend gallon plutonium besoedelde water. Die Departement van Energie het ons verslag vernietig en alles ontken. Mediese toetse van verskeie werkers is ook vernietig.
Een nag baie laat is ek na ons hoof se kantoor om ʼn dokument te gaan soek, en toe vind ek die lêer oor projek ‘HUBBAD — Human Brain Bomb Activating Device’, en ek maak die fout van my lewe, ek vra op die rekenaar al die inligting oor ‘HUBBAD’ aan. Van die oomblik dat ek geweet het dat die sender in ons brein ‘HUBBAD’ is, was ons lewens niks werd nie, ek het ons doodsvonnis geteken, dit, net dit is my verraad.
HUBBAD het twee doele, een, om te verseker dat die Instituut elke oomblik geweet het waar ons is, en twee om met aktivering ‘A’ ʼn vloeistof vry te stel wat ons brein binne sestig dae vernietig.
Sy sien weer die verskil in handskrif, en sy weet Mats se agteruitgang kan in dae getel word.
Die storie oor ons verraad is alles versinsels om ons stil te maak, want die openbaarmaking van al die insidente sal die departement se dade ontbloot en eise van miljarde laat instroom van werkers wat die afgelope vyftig jaar onder uiters gevaarlike omstandighede sonder beskerming gewerk het. Dat hulle ons drie sal kry is seker, maar julle kan sorg dat die insidente openbaar gemaak word, dat die werkers se veiligheid verseker word, en dat vergoeding betaal word.
Sy kyk deur die ander dokumente en sien die verslae oor ‘HUBBAD’ en sy vou die dokumente toe, en bêre dit, want dit is die enigste getuienis.
Wat die ander twee persone se lot is, weet sy nie, maar wat sy wel weet is aktivering “A”, is reeds op Mats gedoen, en sy sestig dae sal in ʼn paar dae verby wees.
Sy voel die woede en die wanhoop, en wanneer sy na die twee slapende mans kyk, voel dit of sy alles wat die moeite werd is in die volgende paar dae gaan verloor, en sy voel ongelooflik hartseer by die wete dat hy wat sy so graag in haar toekoms sou wou hê, aan die ander kant van hierdie hartseer einde staan.
Deur die nag bly Mats se woorde by haar ‘Ek is besig om my verstand te verloor, en dit gaan vererger totdat ek ʼn redelose monster is, en net jy sal my kan stop voordat ek julle leed aandoen.’ Sy bid en sy smeek, sy beloof, en sy bid weer, maar in die oggend weet sy dit is alles verniet, Mats is sterwend en niks gaan dit verander nie.
Sy sê die groot man niks wanneer hy twee dae later wakker word nie, sy sê hom nie dat hy twee dae verloor het nie. Sy wil hê hy moet alles hoor, moet voel hoe wanhoop en woede voel, sodat hy sal verstaan waarom hy nie die een sal wees wat sal besluit wat sal gebeur nie.
Deur die dae wat volg, gee sy hulle kos en laat sy hulle in vrede om te gesels. Sy en Robert Connors kniel saam langs Mats om hom vas te hou in die ure wat sy brein knak, en hy ʼn totale sinnelose monster word.
Die aangetrokkenheid is voelbaar tussen hulle, bring dit daardie gevoel wat jou liggaam ʼn warm tinteling gee, daardie gevoel wat in ekstase en passie wil oorgaan, maar hulle noem dit nie – want tussen hulle staan die pynlike werklikheid van Mats Ratzhorn se einde.
In Mats se rasionele ure lag hulle, gesels hulle, wys hulle hierdie groot man die plekke waar hulle as kinders gespeel het, leer hulle hom ken en liefkry, en leer hulle hom om hulle lief te kry, en Robert Connors weet, hy het gevind wat hy vir die res van sy lewe wil hê, ʼn liefde wat alles oorheersend is, weet hy ook, hy is nie meer seker of hy wel Mats Ratzhorn wil wegneem uit hierdie witheid nie.
Die ure voor die oop vuurherd wanneer Mats slaap, is gevul met ʼn ekstase in hulle. Geen woord, geen aanraking, net die brandende begeerte na die ander, en albei sien dit in die oë van die ander, en albei weet, hulle gaan iets kosbaars verloor saam met die verlies van Mats se lewe.
Hy sê dit met ʼn smeking laat in die nag onder die vallende sneeu, “Ren, jy weet, jy sal my dood moet maak,” en terwyl sy haar kop heen en weer skud, sien sy die smeking in sy oë.
“So kan jy nie dat hulle my vat nie,” en wanneer sy praat is die smeking in haar stem, “Hoekom ek?”
Hy kyk na haar, met haar eie oë, “Omdat jy my liefhet.”
Sy trek haar parka styf teen haar tenger liggaam vas, en vlug weg van hom die koue wit nag in, en terwyl sy daar swart spikkel teen die sneeu staan, vra sy, “Here hoekom ek,” en bid sy dat hierdie beker by haar verby sal gaan.
Sy vind geen antwoorde nie, en vroeg môre gaan lê sy tussen hulle op die velkombers langs die oop vuurherd, sit sy ʼn hand sag op hulle slapende liggame, voel sy die warmte en die lewe, en sy stort haar trane, en sy vat die verantwoordelikheid wat hy gevra het aan.

Die waansin in die gil ruk haar uit die slaap, en wanneer sy die twee leë slaapplekke sien, sterf dit in haar. Die vat en oorhaal van die geweer is haar kruistog, en die aanskoue van die groot bebloede man in die sneeu, haar bitter beker.
Die roep van sy naam in die vakuum van totale stilte, die bloed spatsels oor die dierbare gesig, die waansin in die ‘ander Mats Ratzhorn’, se blou oë, wanneer hy die byl lig vir die finale kap wat die monster aan sy voete sal uitwis, brand in haar geheue vas soos wat suur sal inbrand in haar weefsels.
Wanneer die skoot klap kyk hy haar met sy blou oë aan, en in sy doodsnik sê hy haar naam met liefde, en wanneer hy langs die sestien-pond byl in die sneeu val, gil sy haar leed ten hemele.
Robert Connors tel sy stukkend gekapte lyf op uit die sneeu, en val-vlug die onherbergsame witheid in — soveel leed kan hy nie aanskou nie.
Sy kom vind hom in die koue witheid, met die bloed hard geys op sy wonde, en sy neem hom na die hut, en sonder woord of verwyt, verpleeg sy hom deur al die nagte waar hy huiwer tussen opgee en hoop. Hy leer die diepte van sy liefde vir haar ken in hierdie tyd, maar ook die diepte van die kloof tussen hulle.
Die dag wanneer hulle gereed is om Mats Ratzhorn se lyk na Zermatt te neem, kom lê daar ʼn verwydering tussen hulle wat vir albei in ʼn diepe eensaamheid in dwing.
Hy, toegewoel in die hitte van die velkombers, vasgemaak op die slee langs die koue lyk van Mats Ratzhorn, en sy, met die hartseer in haar gesig en hele wese, sy wat die slee uur na uur stuur deur die koue sneeu, na daar waar sy weet geregtigheid wag, maar ook afskeid van wat sy bo alles begeer.
Die genade is aan hulle kant, en kom hulle vyf dae later in Zermatt aan.
Vir Robert Connors word die aflê van die verklarings, die na-doodse ondersoek van Mats Ratzhorn, en die oopmaak van die waarheid ʼn obsessie.
Dit is wanneer sy oor die breedte van die vertrek haar afskeidsgroet na hom wuif, wanneer hy daardie swart hare en ongelooflike blou oë sien dat hy voel hoe alles om hom ineen stort, hy weet, ‘hy is besig om te verloor wat sy hele lewe is,’ en hy voel die eensaamheid hom versmoor.
Die teruggaan na Washington, die oopvlek en aftakel van wat Mats Ratzhorn en sy kollegas vernietig het, word Robert Connors se kruistog. Hy en die Buro breek die geheime oop, strooi die feite die wêreld in, en laat die wet, en die wêreld, hulle wat die helse spel gespeel het, oordeel en veroordeel.
Die dag agtien maande later, wanneer ʼn woordvoerder van President Clynton aankondig dat duisende kontrak werkers, wat in die Amerikaanse kernwapen fasiliteite blootgestel was aan giftige en radioaktiewe stowwe, gedurende die afgelope vyftig jaar, aansoek kan doen vir regerings kompensasie vir verwante siektes, bedank hy, verkoop hy sy huis, sy motor, sy alles, en gaan hy terug na daardie wit ongenaakbare wêreld, om te gaan probeer vind wat hy weet sy lewe is.
Deur al die vertwyfeling en al die verwyte voel hy sy hele lewe aan een enkele garingdraad van hoop hang, ‘hy leef en sy het daarvoor gesorg’.
Wanneer hy in Zermatt aankom, groei die een garingdraad na twee, want daar is vriendskap en aanvaarding in Professor Pelsinger se groet.
Hy sê sonder dat hy vra, “Sy is by die buitepos, was net hier vir die begrafnis, maar die twee vat môre voorraad uit, voordat hulle Afrika toe gaan vir ʼn vakansie.”
Die vreugde is in die weersiens, en sy garingdraad groei tot ʼn dun tou. ‘Die twee’ omhels hom, en hy voel hulle blydskap oor sy terugkoms.
Hulle bring die dag by Mats se graf deur, en hy hoor van haar verdriet oor die tweeling boetie van haar, en in hom huil dit, hoe kan sy hom ooit liefhê, hy was die oorsaak van hom wat sy lief gehad het se dood.
Deur die nag in die hotelkamer, slaap hy niks, bid hy vir die vergifnis van haar wat vir hom vrede moet bring, weet hy al sou sy hom nooit lief kan kry nie, sy hom net moet vergewe.

Die sneeu is ferm, en vier dae later sien hulle die rook van die buitepos, en terwyl ‘die twee’, oorloop van vreugde by die weersiens van haar, bly hy staan, weg van die vreugde in die sneeu.
Die aanskou van die blink swart hare, met die enkele grys vlek in die kuif, bring ʼn blydskap in hom wat versmorend is, en hy bid sonder ophou.
Die ontmoet van hulle oë, en die vlietende vreugde op haar gesig, laat die dun tou waaraan sy hele toekoms hang, groei tot ʼn anker tou. Die warmte van haar hand in syne, en die heesheid van haar stem, laat herinneringe van maande terug se vreugde in hom woel.
Met die sit by die tafel wil hy praat, voordat sy moed hom begewe, maar sy wuif hom stil met die kop, “Nie nou nie, later.”
Later kom nie daardie dag of daardie nag nie, en in die oggend sê hy, “Miskien is hierdie nie die regte tyd nie, miskien moet ek saam met die seuns terug gaan.”
Sy skud haar kop, “Bly, bly vir eers net hier by my,” en die woorde bring warmte en hoop in hom.
Wanneer die seuns dae later uit die oog verdwyn, bly hulle staan, albei te bang om terug na die hut te gaan, te bang vir dit wat in hulle is, tussen hulle is.
Sonder woorde stap hulle deur die sneeu na waar die hoop brandhout meters hoog gestapel is, daar waar Mats se einde was, en hy kyk na haar, en die trane loop uit sy siel uit, en wanneer hy wil praat, sit sy haar hand teen sy lippe, skud haar kop liggies, en iets in haar oë bring rus in hom.
Saam stapel hulle die hout op die slee, en dra dit stomp vir stomp die hut binne, en steeds is die tyd nie reg nie.
Dit is laataand wanneer hy moedeloos van die oop vuurherd omdraai, dat die opening daar is, “Ek is jammer, so jammer dat ek sy dood veroorsaak het.”
Haar oë hou syne gevange terwyl sy praat, “Die feit dat ek my broer dood geskiet het, het niks met jou te make nie, dit was wat ek aan hom verskuldig was, dit wat hy my gevra het, en ek hom beloof het.”
Hy dink vir ʼn vir oomblik sy het van hom vergeet, “Die feit dat ek hom op daardie oomblik geskiet het, het wel met jou te make.”
Hy voel die vrees, “Wat?”
Hy sien die blink in haar oë, en hy bid weer, “Weet jy nie?”
Met trane wat onbeheersd oor sy wange rol, smeek hy, “Sê my asseblief.”
Sy huiwer ʼn lang oomblik, “Want ek het jou lief, het jou van die begin af so ongelooflik lief gekry.”
Hy tel haar in sy omhelsing in, en wanneer sy teen hom rus, sê hy sag teen haar kroontjie, “En ek vir jou, meer as die lewe self.”
Daar kom ʼn rustigheid tussen hulle, en die warmte van die aanraking kring stadig uit tot dit hulle wesens vul, en hy sit sy lippe op haar kroontjie, trek haar vas teen sy hart en hy huil. Sy sit haar arms om hierdie groot sterk mens, en sy weet, hier is waar sy vir ewig wil wees – styf teen hierdie mens se hart.
In die na-nag staan sy binne die sirkel van sy omhelsing onder die onsigbare hemel, met die vertroue dat Mats sal weet, sy lewe is deel van die ewige anker van hulle liefde, en sy soeke na die waarheid het duisende mense se lewens verander.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed