Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Kwessie van Klas

Deur Adri
Datum gepubliseer: 22 Desember 2021 Aantal woorde: 2353 508 Kere gelees 10

ʼn Kwessie van klas

Dertig stemme, en al wat sy hoor is haar hartklop. Dertig gesigte, en al wat sy sien is een gesig. Daardie gesig wat die lewe in haar aan die gang hou. Sy vergeet al die duisende dae wat verby is, onthou net daardie eerste dag en hierdie dag.
Hy is hier, en haar hartklop daal na normaal en sy is rustig.
“Nou-ja dames en here, siende dat ons mekaar moontlik elke dag vir die volgende paar jaar sal sien, dink ek moet ons hierdie eerste periode gebruik om mekaar te leer ken.”
Nou is daar stilte, “Ek sal begin met die bekendstelling en dan begin julle hier voor om julself bekend te stel. Wie jy is, waar woon jy, watter skool jy in was, wie jou ouers is, en waarom jy medies aan hierdie Universiteit wil studeer.”
“Ek is Professor Evanne Guilherme, drie jaar gelede by hierdie Universiteit aangesluit,” en sy wuif in die rigting van die eerste student.
Die voorstel is soos dit altyd is vir hulle, baie lag, hande geklap, skalkse opmerkings, maar vir haar gaan dit oor daardie een voorstel, daardie een stem waarvoor sy so lank gewag het.
Daardie een oomblik se lugleeg-stilte sodra dit sy beurt is, die oomblik wat die agtien jaar se wag moet oorbrug, die oomblik waaraan sy twee jaar gelede begin werk het.
Daar was geen toeval in sy koms na hierdie Universiteit toe nie, niks in haar lewe was weer toeval sedert daardie dag agtien jaar gelede nie. Haar lewe is beplan, elke dag, elke daad die afgelope sewentien jaar. Sy het elke dag geweet waar elkeen van die ander drie mense in sy gesin was, wat elkeen gedoen het: sy ken hulle lewens beter as wat hulle hulself ken.
Niks kon in haar pad staan nie, dit was so maklik om te verseker dat ‘hy’ hier sal wees, hier by hierdie groep, haar groep.
Die voordeel wat briljantheid, vriendskap en beplanning bring. Dit is wat sy en haar mense oor agtien jaar gebruik het om hierdie dag te verseker.

“Ek is Zarret Richeleu,” en dit word begroet met die gebare van die oopmaak van ʼn bottel en die skink van ʼn drankie, maar hy is ongesteurd, “En soos my van aandui is ook ek uit ʼn wynmaker geslag,” en sy stem is soos sy gedink het dit sal wees, diep manlik en so bekend, maar nie bekend aan hom nie.
“Ek kom van Stellenbosch, het gematrikuleer aan Paul Roos Gimnasium, en woon op die wynplaas Drie Bergen saam met my pa, oupa en ouma.”
Dan een oomblik se stilte, “Ek is hier omdat ek onder Professor Evanne Guilherme wil studeer,” en hy kyk haar in die oë, en die vreugde wil haar versmoor.
Die gelag en gespot oor die moontlike ‘romantiese’ konnotasie vat nie aan hom nie, hy staan en wanneer hulle stil word sê hy duidelik, “Dit is dit, dit is hier waar ek wil wees.”

Die res van die voorstelling gaan verby, sy weet wie hulle is, maar haar gedagtes is by hom, en sy voel die trane van vertroetelde pyn in haar brand.
Die einde van die periode ontketen daardie haas waarmee studente die volgende ondervinding aangryp, en wanneer sy opkyk is hy voor haar lessenaar, en die groen van sy oë, haar oë, vang haar onkant, want dit het sy nie in die een dag oue baba agtien jaar gelede gesien nie.
“Jammer oor die impak van my verklaring Professor, maar wat ek gesê het is waar, ek wou altyd ʼn dokter word, en van daardie opedag, twee jaar gelede toe ek Professor in die hospitaal gesien het, het ek geweet dit is by hierdie Universiteit onder u waar ek wou studeer,” en sy onverskrokke eerlikheid laat haar stom.
Sy kyk na hom en wil hom aan haar hart druk, haar kind, die een wat met geweld van haar weggeneem was, en haar lewe begin weer.
Hy sien die emosie, en wanneer sy haar bril afhaal en haar gesig lig, is dit hy wat na sy asem snak, ‘sy oë’, en die eendersheid daarvan maak sy wense waar, en hy is seker.
Sy glimlag op na hom, “Dankie.”
“Za…” begin hy.
“Ek weet, Zarret Richeleu, van die Stellenbosch se wynmakers,” en hoe haat sy daardie van, maar aan hom het sy dit lief.
Hy troetel elke emosie op haar gesig, kyk net na haar, wil net haar nabyheid beleef, net asemhaal in haar teenwoordigheid.
Sy herwin haar balans, “So behalwe die studies, wat anders doen jy,” en sy ken die antwoord, Springbok swaardvegter, Suid Afrikaanse junior kampioen, drie jaar in ʼn ry, en sy sien haar pa in hom. Hy wat lank gelede die Franse kampioen was, wat sy vernuf en kundigheid oorgedra het aan hulle wat haar kind gesteel het, en haar en haar ouers soos honde van hulle grond afgejaag het, maar vandag, hierdie oomblik, word haar haat oorskadu deur haar vreugde aan hierdie pragtige kind, haar pragtige kind.
Sy wag vir die dag wanneer sy hom sal wegvat van hulle af, daardie dag wat die Richeleu’s sal voel wat sy nou al vir agtien jaar voel, die dieptes van ellende.
“Fencing”, ek is ʼn swaardvegter, professor weet mos,” en hy tree terug en ‘saluut’ haar, en die lag is in sy oë, en sy drink dit in, want dit wat in sy hede lê, is haar bloedlyn se verlede.
Sy sien daardie iets in sy groen oë, wat so bekend is in hare, hartseer en vertwyfeling, en met ʼn knip van sy oë en ʼn, “Nogmaals wonderlik om hier te wees, sien Professor môre,” Is hy uit die vertrek.
Zarret Richeleu gaan staan met sy rug teen die muur buite die ouditorium, hy weet wat dit is, hierdie was ʼn bepalende oomblik in sy lewe. Dit wat hy die afgelope twee jaar vermoed het, vanaf die oomblik dat hy hierdie vrou aan die foto in sy pa se Bybel gekoppel het, is waar, en maak sy drome ʼn werklikheid.
Hierdie Professor Evanne Guilherme is die pragtige vrou op daardie foto in die Bybel… al sê die naam agterop die foto ‘Lucienne’, en haar oë so groen soos sy eie, sê sy is sy ma, en die hunkering na dit wat hy nie ken nie, is in hom.
Evanne bly staan met haar pols kloppend teen haar keel. Here wat sal ek doen as hy my nie as sy ma wil hê nie, my nie nodig het soos ek vir hom nie?
Sy gaan sit en die vermoeienis druk haar kop vas teen haar arms op die lessenaar. Net vir die heel laaste keer wil sy onthou wat hierdie pynlike agtien jaar voorafgegaan het.

Hulle was die ‘Italiaanse bywoners’ van Charles Richeleu, en sy was verlief op die ‘Kroonprins’, Xavier Richeleu – watter meisie was nie.
Sy onthou sy vriendelikheid, sy sjarme, sy respek teenoor haar. Sy onthou die drie maande se liefde, die een wees, die ekstase, die gevoel in haar, die ewige liefde wat hy haar beloof het. Sy onthou daardie aand voor hy weg is Frankryk toe vir drie jaar se studies.
Sy voel die warm asem van daardie nag teen haar voorkop, sy kloppende lewe teen haar lyf, en die absolute vergetelheid wat die passie gebring het, en sy moet haar oë toemaak om die emosie te onderdruk.
Die volgende dag was hy weg, en ses weke later was die waarheid daar, hulle het ʼn kindjie verwek, en hy het dit nie eers geweet nie, nie omgegee nie, nooit weer ʼn woord nie.
Charles Richeleu was soos die duiwel van self toe haar pa en sy met hom praat. Die dreigemente dat hy haar pa sal laat arresteer vir diefstal… vir enige iets, as hulle nie doen soos hy wou nie. Dit het hulle geen keuse gelaat nie, daarvoor was die Richeleu’s te magtig.
Die hel van die volgende agt maande, maar die vreugde in haar oor daardie klein mensie wat in haar gegroei het, wat uit soveel liefde gebore is.
Sy het nie eers haar baba afgeteken nie, die Richeleu’s het hom net gevat, en die volgende dag was sy en haar ouers op ʼn vliegtuig terug Europa toe.
Hulle is Tuscany toe, terug na die familie toe. Sy voel weer die skok in haar, soos daar ʼn jaar later toe sy en haar ouers deur ʼn prokureursfirma navraag gedoen het om haar kind te kry. Sy was gesoek deur die polisie, daar was ʼn saak van kinder versaking teen haar hangend, en die haat is in haar.
Die familie het onmiddellik besluit die Dos Santos naam moet vervang word met die Guilherme stamnaam van haar ma se kant om te verseker dat die Richeleu’s hulle nie kan opspoor nie. Skielik was die lewe van Lucienne Dos Santos uitgewis, maar nie haar onthou nie.
ʼn Jaar later toe die Richeleu’s ʼn nuwe wynmaker soek, het haar oupa verseker dat haar oom daardie pos kry, en het sy elke dag, elke detail van die Richeleu’s geweet.

Sy het haar mediese studies voltooi en ʼn spesialis geword. Toe drie jaar gelede kry sy die boodskap vanaf die prokureursfirma, die saak is jare gelede teruggetrek, hulle het al die tyd probeer om haar op te spoor, sy was vry om terug te keer na Suid Afrika.
Binne maande was hulle terug, eienaars van die wynplaas Langverwagt in die Oranjerivier Distrik, en sy Professor Evanne Guilherme. Drie mense met ʼn nuwe identiteit, ʼn nuwe lewe, maar ʼn ou missie.
Haar lewe was vol hierdie drie jaar. Dae verdeel tussen lesings, hospitaal ure, en dit wat haar lewe die moeite werd gemaak het, die volg van haar kind se lewe, elke dag, elke detail in haar gedagtes vasgebrand.
So ook die detail van die Richeleu’s se lewens, die ouderdom en verval op Charles en Arminda Richeleu se gesigte, die wete dat daar geen vreugde in hulle lewens was nie, en sy was bly daaroor.
Die kennis dat Xavier Richeleu nooit getrou het nie, dat hy elke dag van sy lewe dieselfde eensame lewe as sy gelei het, hopelik dieselfde doodsheid beleef het, en sy het gebid dat dit is oor wat hulle haar aangedoen het, maar sy het geweet, sy was sekerlik nie eers een oomblik se gedagte in sy dag nie.
Sy is, en was, lankal reg vir hierdie dag, hierdie dag wanneer haar kind agtien jaar oud sou wees, nie ʼn sewentienjarige kind soos sy agtien jaar gelede nie. Nee volwasse sodat hy self kan kies.
Nou is die dag van vergelding vier dae weg, sal hulle hierdie Saterdag gedurende die eerstejaars ope-dag dinee aangesig tot aangesig voor mekaar staan, en sy sal vir haar kind sê wie sy is, en sy sal daardie enigste iets wat hulle lewens die moeite werd maak wegvat van hulle af, en sy voel die rus in haar.
Hy is eerste in die ouditorium en die laaste om te loop, elke dag, en sy sien die vrae in sy oë, en haar hart breek vir hom, maar sy wag.
Dan is dit die agtien jaar se wag se dag, en se uur. Hulle sit daar, vier mense in die effense skemerte van die saal, by die tafel so effens weg van die ander, die tafel wat sy self vir hulle gekies het, en wanneer sy na hulle kyk sien sy geen ekstase, geen samesyn, geen vreugde… net daardie grys leegheid wat sy op hulle gesigte gesien het hierdie afgelope drie jaar, en die gevoel wat dit in haar bring is onbekend vir haar.
Sy sit by haar tafel, sy kyk na hulle, en sy wag dat die verrigtinge verby moet gaan.
Wanneer die laaste bedankings gedoen is, die laaste gereg bedien is, staan sy op en haar voete stap doelgerig na daardie tafel in die skemerte, terwyl haar emosie ʼn honderd ander paaie loop, van oomblik tot oomblik.
Hy sien haar aankom, het nooit sy oë van haar afgeneem nie – en hy staan op, kyk na haar elke tree – en wag vir haar. Die drie kyk na hom, en dan in die rigting wat sy stralende gesig kyk, en dan stap sy die ligkring in, en tyd staan stil.
Evanne staan daar in die agtien jaar se beplande oomblik. Sy het geweet wat die emosie op die drie se gesigte sou wees, geweet wat sy sal sê, geweet hoe hierdie oomblik sal afspeel, hoe sy sal voel.
Wanneer sy kyk in die oë van Charles en Arminda Richeleu, is die emosie daar, die skok, die vrees – dit is daar – maar meer as die vrees is daar vreugde, ‘vreugde’ slaan dit in haar vas.
Die kras van ʼn stoel oor die vloer, die draai van haar kop… en dan staan hy daar… met arms oop… en trane wat uit sy siel uitloop.
“Jy is hier,” en haar voete en haar emosie loop skielik dieselfde pad… in sy arms in tot teen dieselfde hart wat daardie nag teen haar geklop het.
“Waar was jy al hierdie tyd my hart… waarom kon ek in al my soeke jou in agtien jaar nie vind nie?”
Daardie woorde bring agtien jaar se liefde terug.
Voel sy die sterk jong arms wat haar en Xavier Richeleu om-arm, en sy draai haar kop en kyk in die groen van haar eie oë, “Jy is my ma Professor?” sê hy met sekerheid, en die aarde begin weer draai… die tyd weer aanstap, en sy kan nie onthou wat sy agtien jaar lank gedink het sy vandag aan hulle sal sê nie.
“Ek is… en ek lief jou meer as die lewe self… “
Sy kyk op in die oë van die een wat sy nou weet, altyd geweet het, sy nooit kon ophou liefhê nie.
“Moenie weer weggaan nie,” en dieselfde warm asem van agtien jaar gelede is teen haar voorkop “Ek het jou so lief… altyd liefgehad… moet asseblief nooit weer weggaan nie. Ek smeek jou om vergifnis van ons almal… moet net asseblief nooit een oomblik weer wegwees uit my lewe nie.”
Sy klou aan hulle vas, voel twee oumens arms teen haar rug en sy kan nie die pyn onthou nie. Sy kan net die vreugde voel wat in haar is, sy is tuis.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 54
Kommentaar telling: 1

Ek is huidig ʼn Projek Bestuurder in een van die grootste Finansiële Instellings in Suid Afrika, met ʼn twintig jaar betrokkenheid by hul Afrika Instellings. Ek beskik oor verskeie graad-, nagraadse- en Industrie kwalifikasies met ʼn PhD van die Universiteit van Pretoria, in Organisasie Gedrag. Ek skryf reeds oor die afgelope twintig jaar kort- en langer verhale. Ek het deur Dagbreek Uitgewers twee boeke gepubliseer. Waar Liefde Begin 2019 en Waar Liefde Eindig 2021.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 191 gaste aanlyn

Bydraes – Argief