Jongste aktiwiteit:

Ben en Generaal Brul.

Klein Ben was ses jaar oud en vol lewe. Hy was ’n baie brawe seuntjie – behalwe as dit by die plaasdam kom. Die dam was groot, omring deur hoë riete wat in die wind gesuis het. Vir meeste kinders was dit die ideale plek om in die somer se hitte af te koel, met helderblou water wat soos glas gelyk het. In die winter was die oewers bedek met modder, perfek om in te speel. Waterlelieblare het soos klein bote op die oppervlak gedryf. Maar Ben het anders oor die dam gevoel. Dit was nie die water waarvoor hy skrikkerig was nie; dit was wat daar in die water kon wees.

Dit het alles begin op daardie warm middag toe Ben en sy pa, Theo, langs die dam gesit het. Die water was rustig, die oppervlak het net effens gerimpel deur ’n sagte briesie. Die son het helder geskyn en die water het gespog met weerkaatsings van die blou lug en wit wolke. Ben was opgewonde om by die dam te wees, maar toe die water skielik in die lug in geskiet het, het hy opgekyk en ’n groot, groen brulpadda gesien wat met ’n sprong uit die dam gevlieg het. PLOP! Dit het soos ’n klap geklink toe dit die oppervlak tref en ’n naaldekoker in die lug gryp. Die padda het dit vinnig opgeëet, en Ben het homself boeglam geskrik. Dit was nie ’n gewone padda nie – dit was ’n monster!

Daardie dag het sy liefde vir water vir Ben verander. Dit was nie meer ’n vriendelike waterwêreld nie, maar die huis van ’n groot, gevaarlike ding! Elke keer as Ben net in die rigting van die dam gekyk het, het sy hart vinniger begin klop. Wat as die padda regtig ’n monster was wat hom wou aanval? Wat as daar meer paddas was wat saam ’n geheime groep gevorm het? Wat as hulle hom kom vang? Dit was alles baie meer as wat sy sesjarige gedagtes kon hanteer. En so het Ben die dam begin vermy. As hy wel naby die dam gekom het, het hy met ’n stok in die hand gestaan, gereed om dit as ’n swaard te gebruik, net in geval die padda hom wou aanval.

“Ben, gaan haal gou ’n paar stukkies vuurmaakhout by die stapel naby die dam,” het sy ma, Lien, vir hom gesê. Ben se maag het saamgetrek. “By die dam?” het hy huiwerig gevra. “Wat as Generaal Brul vir my wag?” Sy ma het hom met haar hande op haar heupe staan en aankyk. Sy kon Ben se vrese verstaan, maar het besluit dit was tyd om die water “te tem.”

“Generaal Brul?” het Lien met ’n glimlag gevra. “Wie is dit?”

Ben het ernstig na haar staan en kyk. “Ek was nie seker of die brulpadda ’n naam het nie, maar ek het hom Generaal Brul gedoop. Hy is nie net ’n gewone padda nie. Hy is die koning van die water. Hy het daardie naaldekoker met een hap opgevreet. Wat as hy weer honger is?”

Lien het hom laggend aangekyk, maar het ’n idee gekry. “Hoe sal dit wees as ons hom kan leer ken?” het sy gevra. “Dalk sal jy dan nie meer so bang wees vir hom nie? Dit is makliker om nie bang te wees vir iemand as jy hom ken nie.”

Dag na dag het Ben die dam en sy “vriend” vermy, maar iets het begin gebeur. Die dam met sy groen water was nie meer so ’n groot bedreiging nie; dit het Ben begin nader roep.

Een dag, toe Ben verby die dam geloop het, het hy iets vreemd gehoor – nie die normale gekwaak van paddas nie, maar ’n ander geluid, soos iets wat spook en spartel. Dit het geklink soos iemand wat in die modder vasgesit het.

Versigtig het hy stadig nader gestap, sy hart het vinnig begin klop en sy gedagtes het hom amper laat weghardloop van die dam af. Wat as Generaal Brul dit weer doen, wat as hy hom nader lok om hom in te sluk? Wat as daar meer paddas was wat met Generaal Brul saamwerk?

Toe het hy dit gesien. Generaal Brul, die groot groen padda, het vasgeval in die modder! Sy groot liggaam was al half in die modder begrawe, sy groot uitpeuloë het oor die rand van die modder geloer. Sy voorpote het heen en weer geskop soos hy gesukkel het. Sy vet, ronde magie het die modder rondom hom ingesluk. Dit was nie ’n monster nie, maar net die Generaal wat vasgesit het.

Ben het hardop gesluk. Sy hart het in sy keel begin klop. Dit was asof sy lyf vir hom probeer sê het: “Hardloop, Ben! Moet nie nader gaan nie!” Ben se bene het begin bewe, sy hart het in sy keel geklop. Elke deel van hom het geskree om weg te hardloop, maar hy het diep asemgehaal en die vrees probeer onderdruk. Wat as die padda nie ’n gevaarlike monster was nie? Wat as hy, net soos Ben, dalk hulp nodig gehad het? Ek moet dapper wees, het hy gedink terwyl hy stadig nadergestap het.
Ek weet nie of ek dit moet doen nie, het Ben in sy gedagtes geredeneer, maar hy het die gedagtes afgeskud en besluit om te gaan help. Hy het ’n tak gevind en dit na die padda toe gehou. “Gryp vas, Generaal!” het hy geskree terwyl sy hart nog in sy keel geklop het.

“Ek weet nie of jy my sal luister nie, maar as jy nie die tak wil hê nie, dan sal jy net daar bly!” het hy met ’n huiwerige glimlag gesê.

Die padda het sy groot, klam pote rondom die tak gesit en begin trek. Ben het gesukkel en gestoot, sy hele lyfie ingespan. Die modder het terug baklei, maar na ’n moddergeveg het die padda uiteindelik vrygekom!

Generaal Brul het Ben met sy groot oë bestudeer, asof hy hom vir ’n oomblik herken. Toe het hy met ’n diep, vriendelike kwaak in die dam verdwyn. Dit was asof die dam vir Ben geglimlag het. Ben het sy bors trots uitgestoot. Hy het nie net die vreesaanjaende padda oorwin nie, maar ook sy eie vrees!
Met sy nuwe selfvertroue het Ben vir sy ma en pa vertel, “Ek het Generaal Brul gehelp, en weet julle wat? Ek dink ons is nou vriende.” Hy het sy arms hoog geswaai, die klein seuntjie wat die “monster” van die dam oorwin het.

Daardie aand, toe sy ma vir hom ’n storie vertel van dapper ridders en helde wat hulle vrese in die gesig staar, het Ben besef: hy was nie meer net ’n kind wat bang was vir die dam nie.
Hy was ook ’n held.

©MarleneErasmus
01/02/2025
(1128 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Amelia het n geregistreerde lid geword

  • Net_Anri het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak