Blouwaterbaai
hier het ek my lêplek gekry
in hangskouer paadjies gekeep vir my
waar meeue hul vlug in bindlyne weef
skaduwees in sonnige lugspieëlings beef
hier het ek goud vir rooidop verruil
tussen blou en die hemel leer tyd verwyl
my kroos gevoed op suurmelk en vis
want hier is dit manna, dis hoe dit is
waar ek smorens tot laat swartmossels oes
sonder dat ek wou sonder dat ek moes
mandjies vol genade uit die see gevra
sawens my skatte huiswaarts gedra
hier bid ek teen rowe van ‘n toiingrige kus
waar my lyf tussen dryfhout en reste rus
het ek te midde van storms, koers leer hou
wanneer rooi-gety aan my hart bly klou
hier dans ek alleen in kurwes van die maan
waar ek arms gestrek in rukwinde staan
waar nagte my in stiltes baai
die sout in my asem my naam verraai –
teen Blouwaterbaai se wind-af sy
hier het ek my lêplek gekry.
© Almarie Truter
4 Kommentare
-
Ina
Baie mooi. Jy het 'n wonderlike skryf talent gekry.
-
Vonnie
Ammie, baie dankie vir jou inskrywings vir die maand September hoor. Nog drie weke, dan is dit alweer sulke tyd!
-
Koekekranka
'Ontdek' jou nou weer op die sypaadjie van gister se 'Woes' en nou se 'Ink' en iets diep binne my roep na ook so 'n hartpaslêplekkie soos joune... Hierdie werkie van jou verdubbel die syfers op my lekkerkry skaal!!!! Baie dankie, rooivlerkpatrysie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
pragtige gedig, dit lees heerlik. welgedaan!