Jongste aktiwiteit:

Desember 2021 Metafoor projek – Uitslae en Kommentaar

Baie geluk aan hierdie 10 lede!

GEDIGTE
GOUD
1ste – No 18 Andries Fourie met Beroerte
2de – No 19 Andries Fourie met Kasgeraamtes
3de – No 4 Anzé Bezuidenhout met Eggo’s van Bakkrans

SILWER
1ste – No 13 Amanda De Meillon met Winterspore
2de – No 14 Palet met Nakend is die nag
3de – No 9 Carmen Edwards (IronLady) met Waterstrome

BRONS
1ste – No 2 Ian Nel met Hartklop
2de – No 15 Velma Barnard met Volla sonder spoed –

GORREL
1ste – No 1 Christa Diederiks met Kyk na die berge en wag
2de – No 2 Marlene Erasmus met Heuning op die tong

RUBRIEKE
geen –

ARTIKELS
geen – –

VERHALE
1ste – No 3 Marianne Fourie met Die vere maak nie die voël nie

KOMMENTAAR:
GEDIGTE
Brons
2..Hartklop
Dit is ‘n heel aardse vers met mooi gebruik van onomatopee wat enjambies aangebied is. Ek het geen kritiek hierop nie. Goed gedoen.

5..Lewensdraad
Ek vind die herhaling van sekere woorde en terme steurend. Die nuwe strofes begin met hoofletters sonder dat dit deur punktuasie voor afgegaan word. Die vers lees baie kripties en dit maak afbreek aan die ritme.

10..Liewe maan
As jou vers gesluit het: “maar vir nou skryf ek briefies op (aan) die maan” sou dit myns insiens ‘n sterker beeld maak. Moenie nuwe strofes met hoofletters begin as jy nie die voorafgaande sonder punktuasie sluit nie. Indien jou vers met ‘n hoofletter begin MOET jou vers met punktuasie sluit. Jou vers het baie potensiaal en kan met bietjie redigering treffend wees.

11..Spore
Jy herhaal spoor/spore 12 keer. Jy begin jou vers met ‘n hoofletter en sluit hom nie. Strofes begin met hoofletters sonder dat dit met punktuasie voor afgegaan word. Jou vers beskik oor potensiaal maar ‘n ernstige redigering is nodig.

12..Die God van wonderwerke
Die herhaling in die vers is hinderlik. Jy kon die boodskap steeds oordra sonder die gebruik van herhaling.

15..Volla sonder spoed
Ek hou van die motor se optrede as metafoor vir menslike ervaring van die jaar wat uitgeloop het. Daar is plekke wat die konstruksie van die vers vir my effe slordig is maar dit kan met redigering maklik reg gestel word. Dit is mooi as digters onomatopee in hul verse inwerk. Die gebruik van die ellips is nie funksioneel nie. Oor die algemeen is dit ‘n interessante vers.

20..Die lewe is ‘n mengelmoeskardoes
Jy maak gebruik van oorbeskrywing wat lei tot lang sinne wat die ritme hiervan kortwiek.
Ek wil een voorbeeld gebruik:
“die lewe is ‘n mengelmoeskardoes in sagte saffraan…”
1. Waarom sou jy gebruik maak van “in sagte saffraan”? Saffraan is rooi en verbitterlik duur. Jy beskryf dus die lewe as rooi óf duur? Die sin sal steeds sin maak sonder die onnodige stert wat aangelas word. Digterlike vryheid is wonderlike ding maar steeds moet die konsepte wat ons in ons verse vermeng, funksioneel wees. Sonder hierdie maatstaf word dit eenvoudig ‘n leë geklingel van woorde. Sny hieraan en ontdek die skat wat daarin opgesluit is.

21..Geen woorde meer
Ek dink elke digter was al een of ander tyd op so ‘n plek. Die kriptiese aanbieding dra by tot die verslaentheid. Ek sou wou sien dat die vers nie so stomp eindig nie, want dit maak effe afbreek aan die ritme. Goeie poging.

23. Stiltes se boodskap
Ek vind die vers geyk. Daar is niks vars wat die emosie van verlange omskryf nie. Die sinne is ook op plekke baie lank want jy oorbeskryf. Soms is minder meer.

SILWER
1.. Narcistiese doodsangel
Jou vers het baie potensiaal. Kontak my op inkmoderator@gmail.com. Ek wil saam jou hieraan torring.

6..Waar is Pa?
Die konstruksie, woordorde en – keuses kort effe redigering. Die gedig lees stokkerig sonder vloei. Daar is ook konsepte soos “roek omtrent straf” wat ek glad nie verstaan nie. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

7..Waterstrome
Die gedig is kripties en slordig. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

8..Parade
Keurig. Dankie vir jou deelname.

9..Vryheid
Dit is ‘n treffende vers. Die slot is veral vir my skerp met die keuse van die woord “verspreide”. Dit is ‘n term wat in weerkunde gebruik word as goeie en versekerde reën voorspel word. Die gebruik daarvan skep ‘n verwagting dat die belofte van geluk ‘n gegewe is. Ek dink dit is ‘n slim metafoor. Mooi gedoen.

13..Winterspore
Dit is ‘n aangrypende vers. Jou vers is ryk aan metafore, tintelende beeldspraak en ‘n uitsonderlike ritme. Ek sou wou sien dat “koue” en “winter” wat herhaal word afgewissel word met sinonieme, maar dit is tog nie só hinderlik dat dit afbreek maak aan die vers nie. Dit is asof ek die koue kon voel terwyl ek jou vers lees wat so beeldend aangebied is. Ek is beïndruk. Welgedaan.

14..Nakend is die nag
Wat ‘n besonderse kragtoertjie is hierdie nie. Welgedaan. Die einde van geen dag was nog ooit vir my só mooi aangekondig nie. Ongelooflik!

17. Groepe
Die gedig eindig vir my stomp en maak dit dus moeilik om te verstaan watter boodskap die digter eintlik wou oordra. Ek twyfel ook of die tipografie enigsins bydrae lewer om die gedig te laat slaag. Is dit sosiale media of aktuele nuus wat in hierdie narratief vrees en bewing teweeg bring? Die vers het potensiaal maar die aanbieding in sy huidige vorm is bloot net nie op Silwer standaard nie.

22. die kat is uit die sak
Dit is ‘n interessante vers wat ‘n bekende Afrikaanse idioom personifiseer. Die rympatroon werk op sekere plekke mooi maar op sommige plekke hinder dit die ritme. Ek hou hiervan en is oortuig dat die vers baie potensiaal opgesluit hou. Ek dink egter die konstruksie kan meer vaartbelyn gemaak word. Goeie poging nietemin.

GOUD

3..Innerlike stryd
Die derde strofe in hierdie vers is losstaande die mooiste metaforiek wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die eerste twee doen afbreek aan die geheel. Verder moet die leser mooi verstaan wat jy hier met “didimus” bedoel. Didimus, soos jy dit gebruik is die naam van ‘n besie wat die speltoetser as korrek gespel identifiseer. Ek weet daar word in die Bybel na Thomas as Didimus verwys, wat natuurlik in Grieks “tweeling” beteken. Ek het probeer nalees oor die spelling “dudymus” maar spoor dit nêrens in ‘n Afrikaanse bron op nie. Bronne wat ek het praat van “Didymus” as tweeling en “Didimus” as ‘n besie. Johannes 20:24 verwys wel na “Didimus” en daarom dink ek jy verwys na die vertaling as “tweeling”. ‘n Voetnota hier sou die leser kon help.
Sneeu in die hare wat na ouderdom verwys, en die oë wat ‘n tuisland word waarin die skrywer weerlig domp is van die mooiste beskrywings wat ek ooit gelees het. Die derde strofe is ‘n vers op sy eie en is baie mooi. Strofe 1 en 2 het my nie geval nie.

4..Eggo’s van Bakkrans
Een van my geliefde digters, Carma Shaw, het altyd die natuur en sy skoonheid ingespan om ‘n epiese storievers te skep. Jou vers het my vir ‘n oomblik aan haar laat dink. Die vers is besonder beeldryk en lieflik. “in kragdrade se span kraaines maak” is ‘n pragtige beeld. Dit is ‘n besonders heerlike vers.

16..Op pad na more
Dit is ‘n geslaagde vers maar die inhoud het my nie geboei nie. Dit is asof die crux daarvan al té veel ondersoek is. Die beeld van die doringkroon, wat dit ook al vir andere sal verbeeld, is vir my mooi omdat dit kan dui op vasklou aan die verlede of selfs iemand wat nie vryheid van oorwinning besef nie. Baie potensiaal maar ontbreek aan ‘n uitklop hou.

18..Beroerte
Nie alleen is dit ‘n teer vers nie, maar ‘n meesterstuk. Die beelde wat jy hier geskep het is so raak aan die waarheid maar tog so kwesbaar mooi. Ek het lanklaas ‘n vers gelees wat my nie net geboei het nie, maar ook verstrengel het in die skoonheid van talent. Kan so ‘n onderwerp ooit mooi wees? Vir seker nie, maar die teerheid, respek en liefde waarmee dit geskryf is, wel. Baie geluk met die mooiste, mooiste vers. Jou talent skitter.

19..Kasgeraamte
Wat ‘n uithaler vers. Ek kan nou gaan delf om al die versteekte beelde te interpreteer, maar waarom sal ek? Mens krap mos nie aan iets wat werk nie. Die wiel is rond en funksioneer die beste so… dieselfde met jou vers. Elke woord het ‘n funksie, elke rus het sy plek en elke sin het ‘n ritmiese bydrae gelewer om ‘n pragtige stukkie kuns te verwoord. Briljant!

GORREL
1..Kyk na die berge en wag
Dit is ‘n kwesbare, persoonlike worsteling. Ek dink jy het dit mooi verwoord. Maak tog maar daarvan ‘n punt om die bronteks in ‘n voetnota by jou skrywes aan te heg. Goeie skryfsel.

2..Heuning op die tong
Heerlike stukkie leeswerk, dankie. Jou laaste sin sou so lees:
“Mag ek nie die lesers verveel nie, en só streef na ‘n hoër standaard in my werke.”
Sonder die tweede ontkenning (nie) klink die sin nie reg nie. Voeg ook (‘n) in jou sin. Mooi gedoen.

RUBRIEKE
1..Metafore: ‘n Waterstroom wat vloei deur ons taallandskap
Alhoewel jy goeie navorsing gedoen het, hoort hierdie skrywe van jou nie onder die rubrieke kategorie nie. ‘n Rubriek is bloot ‘n persoonlike mening oor ‘n saak, of beter, ‘n meningstuk. Nagevorsde skrywes soos jou is eerder ‘n artikel.

VERHALE
1..Wat sal dit wees?
Dit is ‘n oulike verhaal. Dit is net asof die storie so effe stomp tot ‘n einde kom. Kom ek noem hoekom ek so sê. Skielik is die karakters in die skoolsaal sonder dat die skrywer motiveer waarom. Hoekom kon dit nie in die klaskamer gebeur het nie? Slegs die protagonis word vernoem terwyl dit mooi sou wees as die ander karakters ook, met ‘n motivering, vernoem kon word. Daar was nie ‘n woordtelling limiet nie en daarom kon die storie baie lekker verder ontwikkel word. Die einde is mooi, maar die skrywer kon die karakters wat voorgestel is gebruik het om sy/haar storie meer omvangryk te maak.

2..Mashalan Taben
Alhoewel die verhaal sekere lesers sal boei, en ten spyte daarvan dat daar interessanthede in die storie is, vind ek die ontwikkeling van die vertelling traag. Daar word terme en woorde gebruik wat net op die leser gestort word sonder dat daar ‘n poging is om dit te verduidelik. Selfs ‘n voetnota sou kon help. Die storie spring tussen gebeurlikhede sonder dat die skrywer die leser lei. Daar is vir seker baie potensiaal hierin vervat maar die haas waarteen die verhaal ontvou het my ontneem van ‘n positiewe ervaring.

3..Die vere maak nie die voël
Dit is nie net komies nie, maar ook ‘n menslike verhaal wat in die waarheid seëvier. Ek hou van die platvloerse dialek op plekke in jou storie, die verwronge Afrikaans om die uitspraak van die pastoor na te boots en bloot die verteltrant.
Jou storie is heerlik ontwikkel met ‘n begin wat dadelik die aandag aangryp, ‘n middel vol vleis en ‘n slot wat nie nét die titel ondersteun nie, maar ook die verhaal mooi saamvat en sluit. Jy het ‘n goeie skrywers talent en ek vertrou jy sal dit voortdurend ontwikkel. Welgedaan.

4..Gedwonge verhuising
Die konstruksie, ontwikkeling van karakters en storielyn is baie slordig. Jy het my as leser verloor na die tweede sin. EK het die “storie” drie keer gelees en kan steeds nie kop of stert uitmaak van die draad daarvan nie. Jou “verhaal” het baie redigering nodig.

5. King Kong en die nagwag
Alhoewel dit ‘n “komiese” kykie in die onbenulligheid van ‘n opleidingstraktaat is, dink ek tog dat die storie veel te wense oorlaat vir die verbeelding. Dit sou ook goed wees indien u melding kon maak van die oorspronlike bronteks wat jou storie geïnspireer het. Dit was nietemin heerlik om hieraan te lees.

6. Die mooiste kersgeskenk
Die sinkonstruksie in die verhaal is baie swak. Die storie ontwikkeling is nie op goeie standaard nie en die verhaal is deurspek van spelfoute. Redigeer asseblief.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak