Jongste aktiwiteit:

Skoert Ouma!

(Woordtelling 490)

Ja, dis ook maar moeilik om Ouma te wees! Sug. Veral wanneer Kleinman sê hy hou nie van jou nie en wil hê jy moet nou huis toe gaan. Hierdie vreeslike drama het afgespeel nadat Ouma vir
Kleinman ʼn vuurwarm loesing belowe het as hy nie dadelik van die muur sou afklim nie. Selfs vinniger as ONMIDDELLIK!

Ongelukkig is Ouma se geduld is nie so lank soos Mamma sʼn nie en lek sy ook nie iemand totdat die ander een uit pure moedeloosheid omdop en ingee nie – of nie. Die lewe is te kort vir twak en as sy sien dat iemand nog nie die gevolge van sy dade ken nie, trek sy die streep diep in die sand. Of in die goed versorgde grasperk. Sommer enige plek waar dit op daardie oomblik saak maak. En as Kleinman steeds nie hoor nie, krimp haar mor-metertjie se lont onbetaamlik vinnig en alles wat onaangenaam is spat in derduisende rigtings. Voor hy sy twee ogies kon knip, verander die Oumatjie in ʼn vuurspuwende draak, iets wat hy glad nie verwag het nie.

Kleinman klim dikbek van die muur af. Mamma bly darem ook nou bietjie lank weg en hy wil hê dat hierdie verbrande Ouma in haar kar moet klim en na haar eie huis toe ry (en ook sommer baie lank daar bly). Hy het gʼn lus dat iemand vir hom vertel dat dit gevaarlik is om op ʼn hoë muur te klouter nie en dat Ouma kop gaan verloor indien hy daar sou aftuimel en iets breek nie. Sy wil nie eens sien dat hy ʼn nael breek onder haar sorg sal breek nie, en sy armpies en beentjies lyk vir haar maar so bietjie aan die dunnerige kant.

Sussie het net so geskrik toe die wêreld so onverwags met ʼn gebulder geskud het, en sy begin ook sommer tranerig na Mamma soek. Ouma is al bietjie uit oefening, en hierdie skielike tranerigheid van almal in die omgewing ontspoor haar so bietjie. Die klein stemmetjies wat al hoe hoër reik is veel erger as die polisievoertuig se blou ligte.

Sqeeck-sqeeck skree die eendjie, maar dit help nie. Die wollerige olifant word geskud tot sy klokkie raas, maar Sussie raak net nog kwaaier en nog rooier in die gesig. En ouma sit hande in die hare. Maar ja, sy weet van stories en boeke! Maar waar is daai verbrande boekrak vol karton boekies boekies vir kwaai kleuters? Ons blaai die een boekie na die ander deur, kyk prentjies van roomyse en kindertjies wat speel. Ons ontdek olifante en tiere en sommer baie ander vreemde diere. Ons rym en maak stories op, en die tranerigheid verdamp gou-gou weer.

Volgende keer moet Mamma maar liewers die tee in die kas los en ʼn ander soort drankie in die koppie gooi – dis vir die kinders natuurlik… Ouma sal mos nooit “op die job drink nie!!”

Kinders oppas? Oe-ê-ê. Dis verseker nie vir sissies nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed