Dialoog met Suider-Afrika se Roofvoëls
Die aarde is met waarde beleër
toe God die mens uit haar stof formeer
en met Sy asem die mens begeester
om Sy skepping as rentmeester te bemeester
om Sy skepping te bewerk en te bewaak
het God Sy rentmeester getaak
dít is óns – rentmeesters van die Meester
ook jý wat nou hier lees ís Sy rentmeester
‘Maar wie is julle geveerde gevleueldes
wat onder ons rentmeesterskap staan?’
‘Rentmeester van die Groot Meester
ons is Suider-Afrika se roofvoëls
wat hier voor jou staan’
regoor Eurasië het die Skepper ons versprei
suid van Sahara in Afrika het ons kom bly
’n ongeskonde biotoop van hoop gekry
in ’n ongerepte bioom ons vlerke oopgesprei
die rentmeesters van die Meester
het ons in spesies verdeel na sy wens
en ons ook binne die orde van sy wens
in familiegroepe ingedeel en bemeester
Meester, kyk hoe stroop U rentmeester
die ongeskondenheid van ons biotoop
en vernietig die bioom waarbinne ons woon
ons smag na U ewige biotoop Almagtige Meester
in U hemel wat U rentmeester nie kan stroop
wat ons vir ewig in U Paradys kan bewoon
Pieter Mostert
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.