Jongste aktiwiteit:

In Juffrou Viljoen se skoene

Juffrou Viljoen, sy woon in ‘n skoen,
of mens kan dit seker ook ‘n eenslaapkamer plek in ‘n kompleksie noem.
Darem gee sy vir hulle ‘n dak oor die kop,
al skinder die bure so vreeslik oor die Viljoen kindertrop.

Duidelik is daar geen meer pa in die prentjie.
Waarskynlik ‘n lafhard of sommer ‘n slapgat ou ventjie.
Ja sy het foute gemaak, maar tog doen sy haar bes
met haar kinders, so baie, dalk vier of ses.

Geen wonder die vrou weet nie wat om te doen,
want Facebook is feite en die wêreld gaan groen.
Geen wonder die kinders se pap smaak so laf.
Informasie daar buite is doller as kop-af.

Suiker is selfmoord en suiwel is sleg.
Geursels en kleursels. MSG sal moet weg.
Vegan of paleo? Laevet. Geen vet. Gaan glutenvry!
Vet weet hoe enigeen sy pensie vol kry.

Almal het opinies en geeneen verkeerd.
Tog gil kleuters in winkels, totaal onbeheerd.
Maar elkeen het ‘n mondvol oor die “rapsie vir elk”
in plaas van bekommer oor ‘n jeug wat verwelk.

Elke kind is mos deesdae die hondjie se stert.
Onderwysers moet meer wees as ‘n man op ‘n perd.
Al wat aanvaar word, is Ritalin gee
as Jannie op en af spring of verwoed aanhou skree.

So wie kan nou oordeel oor Mejuffrou Viljoen?
Sy probeer so hard om vir hulle die beste te doen.
By die skool mag haar kroos dalk kaalvoet opdaag,
maar met respek vir ‘n grootmens en iets in die maag.

Maar in dieselfde klas, sit voete so skoon in ontwerper wit sokkies
van die samelewing se wetters, bedorwe klein brokkies
en langs hulle, magies wat hongerig skooltoe gestuur is.
Die regering se skuld, omdat drank deesdae so duur is.

Oormôre word die wêreld deur hierdie generasie beheer.
Dan roep ons die slimmes en dan praat ons weer.
Wie gaan dan seker wees dat ma vir hul lief was?
En wie gaan steeds wonder waarvoor dankie-sê en asseblief was?




2 Kommentare

  • Elroux

    Sterk sosiale kommentaar met 'n lag deur die traan.

  • Inkmoderator

    Nelia, dit is 'n pragtige weergawe van hoe komedie die waarsnaar tref. Ek dink jy het jouself besonders en slim verwoord. Die rymptroon in konsekwent en voel geensins geforseerd nie. Jou gedig laat my aan 'n uitgebreide limiriek dien wat goeie (en ware) kommentaar lewer op daaglikse kwessies. Ek sou aan die leestekens krap maar dink dit is onnodig. Ek sal die vers lank onthou. Skerpsinnig. Skryfgroete IM

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed