Die heel beste van alles
Brons afdeling- Juanri Jansen van Rensburg
Wat is die mooiste prentjie in die wêreld as dit kom by die liefde? Is dit daai paartjie wat skelm-skelm handjies vashou neffens die Eiffel Tower en die beste roomys van Parys kan eet terwyl hulle in mekaar se oë verdrink? Of dalk daardie aangrypende oomblik wanneer ‘n ma vir die eerste keer haar pasgebore baba vashou en waar dit net hulle twee, lyf- teen- lyf by mekaar is – of die pa wat sopas sy eersteling se naelsting geknip het en hom verwelkom in die wêreld ? Kan die mooiste prentjie dalk ‘n bruid wees – bruid wat blosend belowe om die res van haar lewe sy aan sy saam haar bruidegom te staan en hulle twee weet dat hulle vir altyd aan mekaar gegom is?
Hierdie is maar bloot ‘n paar gesteelde oomblikke wat, vir my, nog betreklik nat-agter –die-ore tiener, die Liefde uit en uit spel. Tog dra ek geen sekerheid, geen wete uit ervaring, van wát ware liefde behels nie…
Die mooiste prent een wat ek wel kan ervaar en hier diep binne my voel, vorm die grootste liefde verhaal van ‘n alles opofferende liefde wat nimmer nooit sal verander nie.
Ek praat van daardie oomblik wat Jesus gesê het, “Dit is volbring.”
Waar Hy my en jou sonde gevat het en dit op daai kruis vas gespyker het. Na my mening is daar niks groter liefde as daardie keer toe Jesus net aan my en jou gedink het en vir ons sy lewe gee het nie,
Hy het net vir ons op daai kruis sy laaste asem uitgeblaas sodat ons die eerste asem in die ewige lewe kan gee. Soos die pa wat die naelstring knip sodat die baba die eerste asem in die nuwe wêreld kan inasem.
Dit is wonderlik, en dit my mense, na my mening, dít is liefde,
Sy Liefde.
Ek het dit onlangs misgekyk, en die grootste Liefdes verhaal amper vergeet. Mý enigste harts begeerte – vandat ek kan onthou – was om die perfekte familie te hê.
Ek wil die beste vrou wees, getroud net die mees romantiese man op aarde – met die soetste kinders wat hierdie aarde nog ooit bewandel het. Ek het my planne agter mekaar gehad.
Dit was my grootste jong meisie droom – en ook my aakligste nagmerrie!
Dit sal só lekker wees om verlief en verlore daai wit trourok oor my kop te gooi, om bewerig opgewonde saam pa die blomestrooide paadjie af altaar toe te stap, reg om myself oor te gee vir iemand wat ek lief het. En wat my liewer as homself of sy ma of sy kar het.
Dan na n paar jaar het ons ‘n string engelsoet kindertjies wat lag-lag grootword in ‘n wonderlike gelukkige wêreld, waar alles NET goed gaan.
Ek sal die gelukkigste ma op aarde wees.
En dan die nagmerrie gedagtes, wat kort-kort my prentjie met ‘n donker kleur strepe getrek het…
Wat as dit nie so gebeur nie, wat as ek nie so iemand kry nie?En wat as my Liefdesverhaal nie presies so verloop nie?
Hiermee het ek baie gesukkel, en ek is seker ek is nie die enigste droomverlore jongmeisie nie! Hoe op aarde kry ek iemand wat in mý sal belangstel, wat jaar na jaar my sal lief hê?Ek met my lig en my donker?
Iemand wat na my sal kyk en nie teleurgesteld sal wees nie, iemand wat my sal vat net soos ek is, maak nie saak of ek die mooiste skraal lyfie het nie of so dik soos ñ olifant is nie?
Bestaan daar ooit so persoon in die regte wêreld?
Op die oomblik is dit ‘n raaisel, Al bestaan hy – sal ek ooit weet?
Dis nie asof ek die mees sosiale mens op aarde is nie, ek maak nie maklik vriende nie. Dit is wat deur
my gedagtes gegaan het – dag na dag.
Op n dag by n Vroue Konferensie in Pretoria het daar n vrou gepraat wat my baie geinspireer het.
Sy’t begin om haar getuienis met almal te deel, en die storie het my baie geraak. Sy het eendag net na die Here toe gegaan en alles wat haar pla het sy net so vir die Here gegee. Sy het die begeerte gehad om te trou met goddelike man, en sy wou ‘n groot gesin te hê, Nes ek. Na ñ paar weke staan sy die oggend op en sy maak haar bybel oop, en dit slaan oop in Jesaja 54:5, ” Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy naam.”
Hierdie vers het my ‘n paar dinge geleer,
Soos my gedagtes dwaal keer dit telkens terug na die vers wat sê my man is die Here.
Eers was ek teleurgesteld toe ek die vers lees – maarhoe meer ek die saak met die Here sit en uitpluis, hoe duideliker raak die uiteensetting daarvan.
Ek moet eers nader aan Hóm kom.
En die spreker by die konferensie vertel hoe sy na daai dag elke dag twee koppies koffie gemaak het, twee stoele uit gesit en elke oggend n lekker gesprek met die Here gehad het, en haar verhouding met die Here het eksponensieel gegroei.
ñ Ruk later het sy wel iemand ontmoet – ‘n goddelike man- meer as wat sy gevra het – en die Here het soveel wonderwerke in en deur haar lewe gedoen.
Ek kom tot die gevolgtrekking: as jy bereid is om daai een stap te neem doen die Here die res.
Na die konferensie, luister ek een oggend na n preek van Andries Vermeulen : “Gee jou boot vir Jesus”.
So baie in wat hy sê weerklink diep in my hart. Hy raak toe aan n vers in Matteus 6:29, “Beywer julle allereers vir die Koningryk van God en vir die Wil van die Here. Dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Nou gee ek my drome van die ewige liefde en wat dit is of moet wees – alles vir die Here – Ek gee mý ou bootjie vir Jesus.
Hy ken my gedagtes, Hy ken my harts begeertes, Hy ken my as ediepe sielsoeke beter as enige iemand anders.
Wat het ek om te verloor?
Ek kan net wen.
Wat is die mooiste prentjie in die wêreld as dit kom by die liefde?
Vir my…’n goddelike man en ‘n groot familie…ek wed jou Jesus het klaar die regte persoon vir my gekies en so ook vir jou,
“Jesus kom klim pens en pootjies in my boot, kom vorm my en maak my nes U wil, sodat ek die antwoord op ‘n goddelike man se gebed kan wees.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.