Jongste aktiwiteit:

DIE KRITIKUS

ORRELIS
Ek sing my hart uit voor ’n swart plank op ’n leë verfblik; my gesangeboek balanseer teen ’n baksteen, my vingers gly op en af – ek is ’n orrelis in my verbeeldingswêreld. Ek kyk kamma-kamma na die note voor my, blaai om, trap met my voete op die onsigbare pedale en trek aan ’n knop om die klank te verstel.
Jare daarna skakel my ma van haar werk af. Hulle kom lewer ’n linnekis af wat in die sitkamer moet staan.
Ek het ’n klavier begeer. Om ’n orrelis te word, is uiters moeilik, het ek gedink. Daar is soveel knoppe en skakels – buitendien, my musiekonderwyseres is ’n piranha en ek het musiek opgeskop. Ek is gelukkig met my melodika. Die orreltjie met die tien gekleurde note het lankal die gees gegee, maar dit het jare gehou.
Ek wens ek kan die blydskap, verbasing, skok en verrassing beskryf toe die linnekis eintlik ’n Lowrey orrel was. Daardie orrel het so baie plesier aan ons almal verskaf – as kinders, vir gaste en selfs toe Groep Twee by ons gekuier het. Ek het gespeel en dan val oom Gert van Tonder in met sy trekklavier. My Lowrey het eendag van ’n trok afgeval en in die straat beland, maar Lowrey het gespeel vir ongeveer 20 jaar van my lewe. Ek het op die ou einde die orrel aan ’n sendingkerk geskenk. Om ’n orrelis te word, was nie vir my bedoel nie.

ONDERWYSER
Skool-skool in die buitekamer, soms met niggies en later jare met my suster se kinders. Ek het kunsklas gegee en almal geleer teken en verf of hulle wou of nie. Tog was dit groot pret. Ek het darem by die kunste gebly tot in matriek, maar onderwys was óók nie beskore nie. Ek het wel ’n ander weg gevind – Sondagskoolonderwyser – graad 3. Ek het só uitgesien na elke Sondag se les en om al die kinders se stories te hoor en wás daar stories. Ek is steeds in kontak met van my kinders. Ek moes dit prysgee weens werk.

AKTEUR
Ons speel konsert-konsert. Ek wil ’n bekende akteur word – my naam in ligte, vertel ek my ma. Op die verhoog van die kinderkranskonsert dans ek in my skoolhemp en kouse, ballerina Mia se ballet tutu aan. Almal lag tot dit in ’n histerie ontaard. Ek het myself uit die tutu gedans en staan in die lelikste borriegeel onderbroek op die verhoog van die kerksaal – ontbloot.
Ek is reeds twintig en speel die rol as ‘Gewete’ in ’n verhoogstuk in die Operahuis. Ek is onkenbaar gegrimeer, swart klere aan wat my laat wegsmelt teen die swart gordyne. Die kritikus sê ek kon meer soos ’n ballerina beweeg het om die karakter interessanter te maak. Ek speel weer in ’n ander rol en hulle sê my spel is ‘wooden and unattractive’. Ek probeer weer en die keer noem hulle nie my naam nie, maar gooi in skimpe wat allesbehalwe goed klink. My laaste poging – ek speel ses verskillende rolle in een drama. Toe die ligte verdoof en ek die stuk moet open, huiwer ek vir ’n oomblik. Daar was ’n ongemaklike stilte. Die regisseur fluister deur sy tande uit die kant van die verhoog. Dáár het ek vir ’n oomblik besef dat ’n kritikus kan mens maak en breek – indien jy dit te harte gaan neem. Ek het myself oopgemaak, alles binne my laat gaan, my hart daardie aand ontbloot – Die lied van ’n jong bokkie.
Agterna vra die kritikus: ‘Waar was hierdie jong akteur al die jare?’
Ek maak daardie aand my finale buiging. Ek is geensins spyt nie. Die kollig was nie werklik op my nie.

So sing mens jou fasette en jouself. Jy leer die lewe speel-speel ken. Jy ontbloot jouself op die speelvlak van die lewe en vind jouself binne ’n oopboek waar die kritikus jou met ’n blinde-oog raaksien. Om te skryf is dieselfde. Moenie moed verloor nie. Soms, wanneer jy dit die minste verwag, val die kollig op jou. Neem jou buiging, maar moenie wegstap nie – wag vir die staande applous.

©Nico Schamrel




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed