Die kwessie van genadedood in ons kontemporêre samelewing
Jare gelede toe ek en ’n jeugvriend van my, Frans du Toit, nagraadse studente in Teologiese Etiek aan die Universiteit van Suid-Afrika, (Unisa) was, moes ons ’n skripsie inhandig wat handel oor die kwessie van genadedood vanuit ’n teologies-etiese gesigshoek.
Onlangse gevalle van genadedood, (soms ook “eutanasie” genoem), het my denke geprikkel om weer nou, na verloop van bykans vyftig jaar, navorsing te doen oor die Etiese, en Godsdienstige en Regsfilosofiese aspekte van genadedood in ons moderne eeu.
Genadedood konfronteer na my mening sekerlik die mees fundamentele vrae van menswees, soos onder andere: Wat is die waarde van lewe? Wanneer, indien ooit, mag ’n mens die dood verkies? Het die mens die reg om sodanige besluit te neem?
Die kwessie is gelaai met emosie, etiek, regsaspekte en godsdienstige oortuigings. In ’n stadige maar merkbare wêreldwye verskuiwing, word genadedood al hoe meer bespreek as ’n moontlike opsie vir terminaal siek mense wat ondraaglike lyding beleef.
In Suid-Afrika bly die praktyk egter onwettig, en die vraagstuk kry besondere relevansie binne ’n kultureel diverse samelewing met diep godsdienstige wortels.
Ek het met Frans probeer kontak maak om te hoor wat sy siening omtrent genadedood is, en of hy nog staan by sy standpunt van destyds dat genadedood verkeerd is … want soos hy altyd gesê het: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Min het ek kon droom dat Frans intussen besig was om ’n verbete stryd teen terminale kanker te voer. Na ’n emosie-belaaide telefoongesprek met Linda, Frans se vrou, waartydens hy versoek het dat ek hom moet kom sien, het ek onmiddellik in vir my ’n vlug Windhoek toe bespreek, waar Frans hulle gewoon het.
Ek was geskok om hom na al die jare te sien, en kon nouliks glo dat ’n groot sterk man so kon wegkwyn tot ’n patetiese hulpelose figuurtjie. Ek moes hard sluk aan die ongemaklike knop in my keel en my selfbeheersing om nie in trane uit te bars nie, is tot die uiterste beproef.
Ek het langs Frans, wat nou al die afgelope drie jaar bedlêend was, gaan sit. Hy het my hand gedruk en met smekende oë na my gekyk terwyl hy gesê het: “Mossie, my vriend, ek kannie meer nie. Dit is een van die dae weer Kersfees en my hele gesin ly as gevolg van my siekte. Hulle sê dit nie, maar ek kan sien dat ek nou net ’n las vir hulle geword het”.
“Wat kan ek vir jou doen my vriend,” het ek gevra.
Skokkend was sy versoek: “Help my uit hierdie lewe, asseblief Mossie.” Ek kannie meer nie, Mossie. Linda en die kinders sal ’n vreugdevolle Kersfees kan vier, sonder om na my te hoef omsien, asseblief Mossie my ou maat,” het hy gepleit.
Ek het sy hand gelos en met trane in my oë opgestaan. Nee jammer, my vriend,” het ek gesê. “Jy vra die onmoontlike van my. Onthou jy wat jy in ons universiteitdae gesê het,“ het ek gevra.
“Ja”, het Frans gesê: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!” maar, Mossie, nou voel ek anders oor die saak.”
“Jammer, my vriend, dit kan ek nie doen nie” het ek diep aangedaan gesê. “My bede vir jou is dat God jou lyding verlig en vrede in jou binneste bewerkstellig, totdat Hy besluit om jou te kom haal, want net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Met hierdie woorde en ’n emosie-belaaide gebed saam met Frans, Linda en die kinders het ek gegroet en lughawe toe vertrek.
Die woorde: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!” het egter in my kop bly maal.
Verlede Maandag het Linda my geskakel en gesê dat Frans vreedsaam in sy slaap oorlede is.
Teen die agtergrond van hierdie hartroerende insident het ek besluit om weer oor die onderwerp van genadedood na te vors en wel onder die volgende drie hoof-perspektiewe: eties-moralisties, regsteoreties en godsdienstig-teologies.
Ek het egter nie ten doel gestel om ’n finale antwoord te bied nie, maar om ’n genuanseerde begrip te bevorder van die kompleksiteit wat hierdie onderwerp kenmerk.
As vertrekpunt moet ons onsself die vraag afvra: “Wat is Genadedood?”
Genadedood word tipies in drie kategorieë verdeel:
1. Aktiewe genadedood:
Dit is gevalle waar ’n dokter of ander derde party doelbewus ’n middel toedien wat die dood van ’n pasiënt tot gevolg het; en
2. Passiewe genadedood:
Dit is gevalle waar mediese behandeling, lewensondersteuning of kunsmatige met behulp van masjiene onttrek word, wat die sogenaamde natuurlike dood van ’n pasiënt tot gevolg het.
3. Geassisteerde selfdood:
Dit is gevalle waar waar die geneesheer die pasiënt van die middele voorsien om om self die handeling van genadedood te kan uitvoer op hom / haarself.
Die onderskeid is belangrik, want verskillende lande laat soms slegs beperkte vorme toe. Terwyl lande soos Nederland en België aktiewe genadedood wettig gemaak het, erken baie ander lande slegs die onttrekking van mediese ondersteuning as eties aanvaarbaar.
2. Etiese Argumente Ten Gunste van Genadedood
2.1 Outonomie en Menswaardigheid
Een van die sterkste argumente vir genadedood is die beginsel van persoonlike outonomie, die idee dat elke individu die reg het om oor sy/haar eie liggaam en lewe te besluit. Hierdie beginsel vind grond in liberale etiek en mediese reg, waar ingeligte toestemming sentraal staan.
Indien ’n terminaal siek pasiënt ondraaglike lyding ervaar en geen realistiese kans op herstel het nie, soos wat die geval met Frans was, is die redenasie dat dit onmenslik is om hulle te dwing om verder te leef teen hul wil.
2.2 Voorkoming van Ondraaglike Lyding
Lyding kan fisies, sielkundig of eksistensieel wees. Ondanks moderne pynmedikasie ervaar baie sterwende pasiënte steeds:
• onbeheerbare pyn;
• verlies van funksie;
• verlies van waardigheid;
• depressie en angs; en
• totale afhanklikheid.
Kan geredeneer word dat genadedood, wat Frans versoek het, eerder gesien moet word as ’n daad van barmhartigheid, in die sin dat dit ’n manier sou wees om sy ondraaglike pyn en lyding te beëindig omdat daar in sy geval volgens die medici geen hoop vir verbetering van sy toestand bestaan het nie?
2.3 Bydra tot ’n Menswaardige Sterwe
Waar die filosofie van quality of life oorheers, word aangevoer dat die kwaliteit van lewe soms so laag word dat die verlenging daarvan eties problematies raak. Lewe op sigself word nie as absoluut waardevol gesien nie; dit is die kwaliteit van daardie lewe wat die etiese gewig dra.
3. Etiese Besware Teen Genadedood
3.1 Die Heiligheid van Lewe
Teenstanders argumenteer dat menslike lewe inherent waardevol is, ongeag omstandighede. Hierdie standpunt is diep gewortel in godsdienstige denke, maar word ook deur sekulêre humaniste gehandhaaf. Lewe is nie iets wat deur mense begin of beëindig moet word nie. Laasgenoemde in aggeneem, is dit dan mos reg as ons sê: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
3.2 Gevaar van ’n Glybaan (“Slippery Slope”)
Die wettiging van genadedood kan na my mening tot misbruik lei, in die sin dat:
• dit by bejaarde persone ingeprent kan word om nie ’n “las” vir hul familie te wees nie, (soos Frans self ook geglo en teenoor my bely het tydens my besoek aan hom);
• erfgename kan druk uitoefen op bejaarde ouers wat terminaal siek is deur middel van gedurige manipulasie;
• die gevaar is dat die toepassing van genadedood mag uitbrei na nie-terminale siek pasiënte; en dat
• die moontlikheid bestaan dat kinders, gestremdes of mense met depressie ook vir genadedood oorweeg mag word.
My navorsing het aan die lig gebring dat hierdie glybaan(“Slippery Slope”) in sommige Europese lande reeds op die mespunt van ’n hewige debat is, omdat die kriteria vir genadedood mettertyd uitgebrei het.
3.3 Swak Pynbestuur en Palliatiewe Sorg
Baie teenstanders van genadedood in veral die veld van die mediese etiek, voer na my mening tereg aan, dat beter palliatiewe sorg die meeste lyding van terminaal siek pasiënte kan aanspreek.
Die probleem is volgens hulle nie dat mense wil sterf nie, maar dat hulle nie behoorlik ondersteun word nie.
3.4 Morele Gevolge vir die Mediese Beroep
Die fundamentele mediese etiek van primum non nocere (“doen eerstens geen skade nie”) kom onder druk. Indien dokters die rol van ‘lewensbeëindigers’ kry, kan dit:
• vertroue tussen pasiënt en dokter skaad;
• die aard van die mediese beroep verander; en ook
• dokters se eie gewete teenstrydig beïnvloed.
4. Regs- en Beleidsaspekte
4.1 Internasionale Voorbeelde:
• Nederland en België:
Hierdie lande het aktiewe genadedood wettig gemaak onder streng voorwaardes. Ten spyte van internasionale kritiek toon studies dat die stelsel relatief stabiel funksioneer, maar daar is tog tekens van kriteria-uitbreiding.
• Kanada:
Het in 2016 “MAID” (Medical Assistance in Dying) ingestel. Wat as ’n beperkte wet begin het, is intussen uitgebrei om nie-terminale toestande soos ernstige depressie in sekere gevalle in te sluit.
• Die VSA:
Slegs sommige state laat geassisteerde selfdood toe, nie aktiewe genadedood nie.
• Switserland:
Laat geassisteerde selfdood toe, maar nie aktiewe genadedood nie.
4.2 Die Suid-Afrikaanse Konteks
In Suid-Afrika is genadedood tans onwettig. Tog is daar belangrike regsgevegte:
• Die Stransham-Ford-saak (2015) waarin die Hooggeregshof genadedood vir ’n terminaal siek man wou toestaan, maar die beslissing is later in die appèlhof omgekeer; en
• Parlementêre komitees het oor die afgelope dekade verskeie kere die debat heropen, maar geen wetgewing is nog verander nie.
Suid-Afrika se menseregte-oriëntasie, gemeng met sy godsdienstige demografie, skep ’n besondere kompleksiteit. Die Grondwet beskerm beide die reg op lewe en die reg op menswaardigheid, en die spanning tussen hierdie twee regte vorm die kern van die debat.
4.3 Die Reg op Lewe vs. Die Reg op Menswaardigheid
Regsteoreties argumenteer voorstanders van die toepassing van genadedood dat ’n waardige dood deel vorm van menswaardigheid. Teenstanders van die toepassing van genadedood argumenteer weer dat die reg op lewe ’n hoër orde reg is wat nie onderhandelbaar is nie. Dus: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Sommige regsfilosowe meen dat palliatiewe sedasie, (laaste-stadium pynbeheer wat die dood kan versnel), reeds ’n vorm van passiewe genadedood is, en dus dat die wet in praktyk reeds ruimtes laat vir waardige sterwe, mits dit nie die gevolg van doelbewuste lewensbeëindiging nie.
5. Godsdienstige Perspektiewe
5.1 Christendom
Die dominante standpunt in meeste Christelike denominasies is dat lewe ’n gawe van God is en slegs Hy die gesag het om dit te beëindig. Tekste soos Psalm 139 en Job 1:21 word dikwels aangehaal. Tog is daar moderne teoloë wat meen dat God se barmhartigheid ook die reg op ’n waardige dood kan insluit.
5.2 Islam
In Islam is genadedood oor die algemeen verbode. Lyding word soms gesien as deel van die menslike toetsing deur Allah, en die beëindiging van lewe word as inmenging in God se wil beskou.
5.3 Judaïsme
Tradisioneel is Judaïsme sterk gekant teen genadedood, hoewel sommige liberale Joodse bewegings beperkte vorme van passiewe genadedood oorweeg.
5.4 Afrika-gebaseerde tradisies
Verskeie Afrikagebaseerde wêreldbeskouings beklemtoon gemeenskap, voorouerskap en die heiligheid van lewe. Sterwe is deel van die siklus van bestaan, en die gemeenskap speel ’n groot rol. Selfstandige besluitneming om dood te verkies kan as kultureel problematies beskou word.
5.5 Sekulêre Humanisme
Humaniste beklemtoon vryheid, outonomie en menswaardigheid. Vir hulle is die beëindiging van ondraaglike lyding ’n rasionele en eties verdedigbare opsie.
6. Sielkundige en Maatskaplike Faktore
6.1 Depressie en Besluitnemingsvermoë
Dit is moeilik om te bepaal of terminaal siek pasiënte wat genadedood oorweeg, dit doen uit rasionele besluitneming of uit depresiewe hopeloosheid. Studies toon dat tot 30% van sulke pasiënte behandelbare depressie het.
6.2 Familie- en Finansiële Druk
Selfs subtiele druk kan ’n groot rol speel. Veroudering, kwesbaarheid en afhanklikheid van familie skep omstandighede waar pasiënte bang is om ’n las te wees. Die vraag ontstaan: Is iemand se keuse werklik vry?
6.3 Die Samelewing se Uitkyk op Ouderdom en Gestremdheid
Waar samelewings sterk fokus op produktiwiteit, kan swak gesondheid as onwaardig beskou word. Dit kan ’n gevaarlike kultuur skep waarin mense voel hulle moet sterf eerder as om afhanklik te wees.
7. ’n Genuanseerde Benadering: Moontlike Riglyne
Indien ’n land soos Suid-Afrika ooit genadedood sou oorweeg, moet streng voorwaardes geld, soos:
1. Onbehandelbare, terminaal progressiewe siekte bevestig deur onafhanklike dokters.
2. Behoorlike sielkundige evaluasie.
3. Bewys dat alle palliatiewe opsies uitgeput is.
4. Geen druk van familie of finansiële oorwegings nie.
5. Onafhanklike toetsing deur ’n etiekpaneel.
Dit sou help om misbruik te beperk en menswaardigheid te beskerm.
8. Gevolgtrekking
Dit bring my nou tot die gevolgtrekking dat genadedood ’n diep menslike vraagstuk is in die sin dat dit handel oor die spanning tussen lewe en dood, vryheid en beskerming, lyding en barmhartigheid.
Ons as mens is na my mening deur God getaak om toe te sien tot die handhawing van die fyn balans wat daar heers tussen:
• individuele outonomie en sosiale verantwoordelikheid;
• mediese vooruitgang en morele beginsels;
• tussen regte en pligte; en tussen
• godsdiens en sekularisasie
Daar is geen eenvoudige antwoorde nie, maar dit is noodsaaklik dat samelewings hierdie gesprekke eerlik, deernisvol en goed ingelig voer.
Wat ook al die uitkoms, moet dit na my mening die menswaardigheid van elke persoon, hetsy in lewe of sterwende te alle tye eer.
Dus was my hantering van Frans se versoek soos voormeld korrek in die woorde: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
————————————————————–oooOooo———————————-
©Pieter Mostert
Bronnelys
Beauchamp, T. & Childress, J. (2019). Principles of Biomedical Ethics. 8th ed. Oxford: Oxford University Press.
Dworkin, R. (1993). Life’s Dominion: An Argument About Abortion, Euthanasia, and Individual Freedom. New York: Vintage.
Keown, J. (2002). Euthanasia, Ethics and Public Policy: An Argument Against Legalisation. Cambridge: Cambridge University Press.
Sulmasy, D. (2018). ‘The Ethics of Assisted Suicide’, Theoretical Medicine and Bioethics, 39(3), pp. 183–195.
World Medical Association. (2015). WMA Declaration on Euthanasia and Physician-Assisted Suicide.
South African Law Reform Commission. (2018). Report on Euthanasia and the Artificial Preservation of Life. Pretoria: SALRC.
1 Kommentaar
Lewer Kommentaar
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek