Winterbelofte #Brons
Winterbelofte
Die dagbreekgordyn word later en later oopgetrek. ‘n Fyn sproei soos miggie-piepie bring ‘n sagte wasigheid aan die oggendstond. ‘n Verlange na vêr voëltjies spartel soos druppels teen die ruit. Vir ‘n oomblik verpoos hul op die vensterraam tot dit soos ‘n slakkie streepsel al langs die muur af loop om aan te sluit by die grootplas op die veranda.
Soos ‘n vars gebreekte eier lê die geel son tussen die bleek wit wolke. ‘n Belofte uit ‘n mandjie vol potensiaal. Elke dag ‘n kunswerk op sy eie.
Glinsterdiamantklokkies hang soos ‘n string krale aan verlate grofbruin takkies. In die dwarrel van die wind het geroeste blare lankal hul weg na dieper dinge gevind en vorm ‘n snoesige kombers vir wurmpies en goggas wat ‘n skuilplek soek.
‘n Rooiborsie kom maak sy opwagting by die saadbak. Hy loer angstig rond. Die geringste beweging in die venster laat hom vinnig spaander na die veilige arms van die bome.
Juffrou Lyster met haar swart gewaad en geel skerp snawel, steel ‘n korreltjie of twee en sweef selfvoldaan die wolke in.
Twee groot bosduiwe gooi hul lywe heen en weer, al waggellend oor die lang gras. Nuuskierig nader hul die kosbak, amper soos twee lomp uitgevrete ou vrouens wat kom skoorsoek. Druppels gly soos water van ‘n eend se rug oor hul vere.
Die byt in die lug knaag aan tone en vingerpunte. Serpe en warm musse word nader getrek. Opgepof soos kapokhaantjies word wind en weer aangedurf. Die donker natseisoen bring ‘n heimwee en nostalgie.
Gekleurde liggies soos gehekelde kant om huise se dakke en verligte feesfigure in tuine, skep ‘n vrolikheid ten spyte van die depressiewe donker. Dennebome se vaalgroen word opgehemel met verrassende versierings. Gebreide sneeumanne, gehekelde muise en selfs ‘n toiletrolletjie of twee. Elkeen bekroon met goue flikkerende liggies en een glansryke ster.
In die donkerste nag skyn ‘n klein liggie op sy helderste. Die maan, ‘n silwer weerkaatsing van die son, verlig die nag se duister. ‘n Kersie gooi haar glans in ‘n eensame afgeleë pandok. ‘n Teken van lewe in ‘n somber seisoen.
Soos die koue insypel, so bring ‘n enkele kooltjie en sy maats hitte na binne. Hul dans flambojant met rooioranje grasie. ‘n Warm rooiwyn aroma sweef in huis en haard.
Wanneer die donker wolwe sirkel rondom verlange se hut, bring die Stêr van Bethlehem ‘n mandjie wat oorloop van vrede, liefde en ‘n lig wat nooit ophou skyn.
‘n Helder hoop vir hawelose harte!
Christa Diederiks ©
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek