‘n Afrikaner in Rooinekland se skadu #brons
‘n Afrikaner in Rooinekland se skadu
Tyd stap aan soos Celliers se osse van ouds —
geduldig, gedienstig en gedweë.
Al klap die sweep, al skree die drywer,
laat tyd hom nie aanjaag nie;
en die wawiel hou aan draai.
Tyd loop soos ‘n liedjie van lank geleë:
“Links, regs, links, regs, aanstap rooies
die pad is lank en swaar.”
Deur wind en weer, sonskyn en reën,
ploeter ek voort oor vreemde grond.
Hier waar ek my eie spoor moet trap
in die nat aarde van dié eiland,
voel ek soos ‘n voortrekker van my vaderland,
wat die Afrikanerperd opslaan en fluister:
“Uit die blou van onse hemel,
uit die dieptes van ons see
oor ons ewige gebergtes
waar die kranse antwoord gee…”
Want Afrikaner-wees lê steeds in my murg en bloed.
Maar, o koud is die windjie en skraal
soos Marais dit in Winternag laat snak,
hier in die rooinek-land se skadu,
klou die koue soos vlieë aan ‘n miskoek.
So wyd soos die Heer se genade,
so wyd lê die velde onder dieselfde sterre.
Tog is die hart en hand van my mense vêr,
anderkant die gebergtes van herinnering,
waar ek wens die kranse sou kon antwoord
op die roepstem na my jong Suid- Afrika.
En terwyl tyd sy loop loop
is ons weë reeds deur ons Vader uitgekoop.
Ek rig my oë op na die Een wat hemel en aarde gemaak het,
en nooit laat vaar die werke van Sy hande nie”.
Ek fluister ‘n liedjie van ouds,
“Liewe maan, jy seil so langsaam deur die awendwolke heen…”.
Kom haal my, maan, kom vat my terug
na die mense wat ek lief het
wat groei op my soos mos
soos Laurika sagkens neurie.
‘n Warboel van onthou
het oor tyd begin vervaag.
My denke is nou ‘n verhaspelde mengsel van gedigte van ouds, liedjies van tuis.
Maar Sonja, saam met jou
begeer ek net ‘n bietjie meer tyd om lief te hê,
nog ‘n dag in my moederland,
want dit maak nie saak wat voorlê
of wat daar op ons wag,
om te verdwaal in woorde en herinnering,
gee ‘n vryheid wat ‘n Afrikaner in die vreemde beskore is
en laat hom stil wees in sy eie tyd.
Christa Diederiks ©
Met apologie:
Jan F.E. Cilliers (Die Ossewa)
B.A. de Wet en Pierre Malan (Aanstap Rooies)
C.J. Langenhoven (Die stem)
Eugene Marais (Winternag)
Psalm 138:8
B. Kok en Helen Malan (Liewe Maan)
Laurika Rauch (Die mense wat ek liefhet)
Sonja Heroldt en Jan de Wet (‘n Bietjie meer tyd)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek