DIE NAG RAAK ROOI
Die nag raak rooi
wanneer die dag sy nova oorjas aantrek
en die nag sy flikkerende kerse uitblaas in die hemelruim
om plek te maak vir dag
Die nag betoog en stoot sy misnoeë
saam met die wit dros spookasems
oor die randjie by die damwal
wanneer die dag se stoker die kookpot in die oggendure roer
Groen gras verkleur na silwer
wanneer die nag plek maak vir die dag
en die vooros kinders van die oggendson
strepies spore op die dou gevulde gras kom maak
Die laaste laatslaper kind van die nag
skarrel en verdamp in die son se oggend opstaan glimlag
en laat ‘n afgeknipte slaap traan van die nag
as legkaart vir die nag wat wag
Die nag raak rooi
bloos ‘n mooi rooi
want die dag se goudgeel vingers
vertoon sy nag se handewerk
op die retina van ons oog se verhoog
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Vonnie
Sjoe! Louie, baie baie dankie vir al jou inskrywings hoor. Jy is 'n positiewe en gemotiveerde Inker.