Jongste aktiwiteit:

Die oop arms van ‘n moeder 409 woorde Silwer

Oop. Genugtig. Moet hierdie opdrag nou aan my hartskamer kom ruk. Ek sit in ‘n yskoue gang. Bloedvlekke skreeu vanaf die mure. Die stank vanaf die klein hokkie in die hoek vertel jou dat die dood hier sekelstaan. Binnekort sal die masjiene eentonig lank en uitgerek biep. Bloedbelope oë staar intens na jou, asof jy die laaste maal in ‘n doodsel is. Staatshospitaal. Die lot van almal wat mediesloos of onder die broodlyn lewe. Dit is hier waar ek vlugtig na my opdragte loer. Ek sit alleen in die wagkamer.
Net een oproep.
“Mamma daar is fout”.
Die klein ‘I 10’ se bande het behoorlik op die teerpad geklap. Die afstand tussen Alberton en Randfontein is in ‘n rekordtyd afgelê. Ek moes my trane sluk en haar rukkende skouers teen my vasdruk. Die simpatieke kyk in die suster se oë het deur my siel gebrand. Twaalf weke wat sy die klein wonderwerkie kon koester. Twaalf weke wat nou druppel vir druppel uit haar liggaam skeur. Die baarmoeder het nooit behoorlik gesluit nie. Die spelonk wat snoesig en warm ‘n lewe moes koester, was oop. Oop en leeg soos haar hart.
“Mevrou moet huis toe gaan”.
Die kreukelvingers rus op my skouer.
“Niemand mag saam met haar saal toe gaan nie. Sy sal ok wees. Ons sal mooi na haar kyk”.
Dit is met ‘n swaar hart wat ek die pad huis toe aandurf. Wat sou dit tog help om in die parkeerarea te bly sit. Ons kommunikeer per loopfoon totdat sy uiteindelik moeg en uitgeput haarself aan die slaap huil. Dan eers sluit ek my oë in stil gebed vir my stukkende alleenkind in ‘n donker onsimpatieke hospitaalsaal.
Vroegoggend swaai ek die motor se neus in die rigting van die hospitaal. Ek vind ‘n oop parkering so na as moontlik aan die hospitaal se ingang. Ek is gelukkig om ‘n oop sitplek naby ongevalle te kry. Die wag skud sy kop.
“Mevrou gaan lank wag. Die dokters doen eers na tien saalrondte”.
Ek haal my loopfoon uit en kyk weer na die opdrag. So ‘n klein woordjie met soveel betekenis. Al sit ek ook heeldag hier, ek is hier vir haar. Die loopfoon se skerm flits.
“Dit is verby mamma, wag asseblief vir my by die ingang”.
Ek sien haar hangskouer figuurtjie van ver af. Ek hou my arms oop. Sy smelt teen my bors vas. Rou snikke skeur deur haar lyf. Sy is weer kleindogtertjie klein.
“Dankie mamma”.




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed