Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die peetpa

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 6 September 2018 Aantal woorde: 948 634 Kere gelees 9

Die peetpa

Ek sal die een of ander tyd seker ‘n samevoeging van al my Voortrekkerweg -gedagtes en -ervaring kan neerpen, maar tot dan, is hierdie nog een van “daai” stories wat sommige mag geval en ander sal laat spaander.

“Something is going down…” dit was ál wat die netjiese jongerige sakeman kon uiter, terwyl ek en sy kollega versteen voor hul onderdelewinkel “innie Voortrekkerweg innie Maitland-in” staan.
Hierdie deel van die dorp het gerieflike breë sypaadjies, waarop ons huurders selfs hul motors kan parkeer, maar ten spyte van al daai breedte voor en agter ons, was die benoudheid om nie te kan beweeg nie, erger as ‘n stormloop uit Nuweland se Spoorwegpawiljoen!

Terwyl ek luister na die voorstelle wat ons huurders vir die veranderinge aan die buitekant van die ou statige 1962-gebou beplan en waar hulle watter promosie tekens wil aanbring, stop daar so ‘n paar tree van ons af ‘n donker kleurige BMW X5, iets wat nie buitengewoon vir hierdie deel van Voortrekkerweg is nie, aangesien die onderneming agter die roldeur en toonbank eintlik net BMW onderdele verkoop.
Die amper vaal gebeurtenis was egter meteens vol kleur toe die vier motordeure oopswaai en ons drie sypaadjie staanders summier op die plek vasgepen word.

Vyf mans, nie klein sportmotor entoesiaste of perderuiters nie, nee, 5 mans wat ‘n bruin rolverdeling in “The Godfather” sou kon staanmaak, swiep uit die kar; die twee grootste ouens lig instinktief die pant van hul swart leerbaadjies en plaas hul regterhande flink op die pistole wat aan hulle gordels blink; die een stap vinnig vooruit, gevolg deur ‘n ietwat ouer weergawe van ‘n meer gesette en donker bruin Robert De Niro of dan een van die rolle wat hy gespeel het – sonbril, donker klere en swart baadjie.

Die ernstige groep stap tussen ons en die gebou verby, hulle vermy nie juis oogkontak nie en op daardie oomblik weet my brein en gesigspiere nie eintlik watter van my vele gedagtes die meer gepaste reaksie moet wees nie.
My brein dwarrel en hier teen my regterslaap raak ek nou baie bewus daarvan dat ‘n aar wild begin klop…. “sal ek die manne groet” dink ek amper hoorbaar… wat van “awe, aweh, ahweh”?
“Nee my donner, is jy mal”…val ek myself in die rede…”bly stil en kyk weg…kyk af as dit moet, of kyk vir die straat!”

“Robert” en vier lede van “die familie” stap al terugkykend by die voordeur in. Die ander wapendraer bly buite staan.
Hy kyk Voortrekkerweg op-en-af en op-en-af, so al asof hy ‘n bus of dalk ‘n tsunami verwag.

Ons drie staan steeds stil.

Toe die wapendraer weer wegkyk, neem ek onderlangs ‘n kiekie van die kar…”mens weet nooit”… dink ek ewe trots op my kalmte.

Dit was nie lank nie, miskien ‘n uur of wat, of so het die drie minute gevoel, toe haas die “familie” hulle weer verby ons, terug na die duitse koets toe; terwyl die drie inklim, “Robert”eerste, wag die ander twee buite en toe die donkerman seker was die “tsunami” is nie oppad nie, glip hy voor-in en die X5 stoot sy agterwiele al vretende Voortrekkerweg af, in die rigting van Kensington; waar daar blykbaar ook onderdele winkels is… en ander aankope gedoen kan word.

Die jonger van die twee mans wat steeds op amper dieselfde plek staan, laat vir die eerste keer sy tong wip met “this is not going to work!”…sy vennoot val ook weg met ‘n stortvloed woorde en sinne wat iets te doen het met die agteruitgang en ons lewens wat in gevaar is en die kinders en die ou mense en… al wat ék op daardie oomblik en ‘n klompie daarna voel, sien en dink is daardie regterhand op die vuurwapen en my afwagting dat hy dit enige oomblik uit die skede langs sy heup gaan trek en ek die koue voorkant van die pistool sien, en die ontploffing van ‘n helder snuitflits en ‘n oorverskeurende knal en die skerp geur van verbrande kruit…

Oppad kantoor toe het ek gewonder of Christo en Patrice en Markus ook dae ervaar waarin hulle twyfel aan ons voortbestaan. Wanneer hulle deur die ou nywerheidsdele en die Vlakte van die Kaap vleg, met hul motors se neuse na die Atlantiese osean en die Berg gerig, of wanneer die ander syferkunstenaar verby Hermanus se onluste sukkel om by sy wegkruipplek uit te kom; dink hulle ook dan daaraan dat die werklikheid van georganiseerde misdaad ‘n florerende saak is met rolspelers van alle kleur en belange met huise en karre en perde, en ‘n “peetpa” wat na sake omsien, net soos hulle.
Markus weet dit seker reeds.

Vanuit Voortrekkerweg tot Adderleystraat en Saxonwoldrylaan is daar myns insiens meer “Vito Corleone en seuns” doenig as wat enige iemand met redelike oplettendheid, ‘n nuuskierige aard en helder verstand sou wou raaksien. Tewens, hier en nou in die middel van 2018 verkies baie van ons mense om eerder oor die dade van die verlede te wonder en boeke en koerante op te raap wat vertel hoe mense wat eens as “ons eie” gereken was, tóg feilbaar en moontlik selfs meer kon wees.
Ons “hash-tag” elke nuwe opdieping van die sondige verlede om soms saam te kan skel: “sien jy!…I told you!”

Moontlik het die skrywer, Mario Puzo, meer as net die romantieke van ‘n “Godfather”-lewe vir die armes en die rykes van elke samelewing in gedagte gehad toe hy hierdie storie verewig het met..…“I don’t trust society to protect us, I have no intention of placing my fate in the hands of men whose only qualification is that they managed to con a block of people to vote for them.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Kiekies

    7 September 2018

    Ai tog dis so waar. En hoe maklik is dit nie om mense te ‘con to vote for them’ nie?
    Ek soek na daai mannetjie met die klappende handjies, vir hierdie een!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 225 gaste aanlyn

Bydraes – Argief