Jongste aktiwiteit:

Stefanus Kleinsmit

Stefanus Kleinsmit gesels kerk.

Ek het vandag ’n nuwe vriendskap bevestig.

Sy naam is Stefanus Kleinsmit, maar die gemeente noem hom broer Steven. Hy is 89-jaar oud en hy werk nog elke dag van 09:00 tot 16:30, netjies geklee en altyd in ‘n pak klere of ten minste met ’n onderbaadjie, as dit te warm is.

En elke dag met ’n das. Oom Steven is ’n godsman en ’n kerkmens.

Die afgelope Paasnaweek het sy kerk ’n samekoms op Saldanha gehad. Hy sê die ou mense het al vroegdag die Donderdag by die saal bymekaargekom, om betyds te wees vir die bus wat vieruur vertrek. Hy sê hulle het nogal ewe lekker sappies en broodjies op die bus gekry en toe hulle daar in Saldanha aankom, het die vriendelike mense vir elkeen gewys waar sy kamer is. Volledig met komberse en lakens en lepels en vurke. Alles wat hulle nodig het.

“Het Oom toe die naweek geniet?”

“Nee, nie eers nie. Die jonges raas te veel.

Die Vrydag en Saterdag wou hulle net “praises en worships”; daar is nooit ’n oomblik se stilte, soos in die ou dae nie. Net die Sondag. Toe was die diens soos ons dit onthou. Mense kon sit en luister na die pastoor. Dit was lekker. En die Maandag was ons weer terug in die Kaap.”

Sonder dat ek eintlik gevra het en sonder om my kans te gee om die gesprek kort te knip, vertel oom Steven verder dat hy bekommerd is oor die klomp hedendaagse kerkmense, “wat nie meer weet wie hulle is nie.”

Hy sê elke Afrikaan ( alhoewel hy die meer xenofobiese en minder politiek korrekte benaming gebruik ) wat êrens ’n Bybel en ’n leë winkel in die hande kry, maak ’n kerk oop.

“In die ou dae het die mense geweet dat die kerk altyd op dieselfde plek was. Sondag smorens dan trek jy jou skoon en beste klere en das aan, en dan stap jy die pad wat jy elke Sondag kerk toe stap. Nie soos met die lot van vandag nie.

Vandag is die kerk hier en môre is hy sommer weg!”

Oom Steven sê ook dat hy bekommerd is oor die moraliteit en respek (weereens die versagte bewoording, aangesien die vergelyking wat hy van sekere predikers van die Woord met hoere en geldgrypers maak, moontlik fynbesnaarde mense kan ontstel; of dalk die regte mense laat giggel …)

“Die gemeente moet ophou om die dominees en die pastore so op hulle se voorname te noem. Ek hoor die naweek daar op Saldanha dat selfs die pastoor se vrou sommer op haar naam genoem is én as jy en jou aangespreek word. Dit is nie reg nie.

Dit hoort nie so nie. Hierdie mense is geroep om by die gemeente te wees. Hulle is die mense, wat saans wanneer ek en jy en die ander lede slaap, dan staan hulle op hulle sê knieë besig om elke gemeentelid voor te bid. Hoe kan ons hulle dan sommer net so onrespekvol behandel?”

“Dominee is dominee, pastor is pastor en hulle vrouens is Mevrou. Dis ’n belangrike werk, weet jy!”

Dis eienaardig waar mense mekaar deesdae ontmoet en geringe vriendskappe ontwikkel. In die milieu waar ek my genadiglik die afgelope jare bevind, is die ruimte om mense te ontmoet meer as waarna ek soms uitsien. Die skadukant van hierdie sonnige bestaan is egter ook ’n werklikheid ten opsigte van nuwe vriendskappe.

Die doenighede en voorkeure en afkeure en oordele wat daar binne, rondom en tussen ons as medemense bestaan, maak die vestiging van nuwe ware vriendskappe bykans onmoontlik; of dalk is dit net my siniese beskouing vanuit my hoekie van die wêreld, maar ongeag van my uitkyk en insigte hierin, is dit egter wel so dat ek tog vandag ’n nuwe vriendskap kon smee.

Na ons gesprek vanoggend, soos so baie oggende vantevore, het ek met ’n glimlag van Parow-poskantoor af weggery. Sommige saamlesers sal nou moontlik ’n sluk-sluk en ’n sug-sug en mor dat dit net nóg ’n Parow-storie is, maar helaas moontlik nie…

Want, Oom Stefanus Kleinsmit is ’n 89-jarige motorwag in ‘n munisipale parkeergebied. Hy werk nie vir ’n onderneming met kleredragreëls en protokol nie; uit respek vir die mense wie se karre hy bedags oppas, trek hy sommer so self sonder voorsegging netjies aan. Hy kom elke dag werk toe; nie omdat hy die kaart moet laat “klok” om sy minimumloon aan die einde van die week te verdien nie, nee, maar wel omdat hierdie deel van die parkeergebied “sy verantwoordelikheid is”. Dis sý mense en hul karre.

Ek was al ’n ent terug op pad kantoor toe, toe ek die sedan se stuur draai en ’n omkeer maak, terug poskantoor toe. Met die stadige aanry nader na daar waar hy die soveelste kliënt vir dag met ’n vriendelike waai en tandelose glimlag groet, is hy verbaas om my so gou weer te sien.

Ek stop die motor; klim uit en vra vir oom Steven, “kan ek ’n kiekie van Oom neem?”

“Wat?” vra hy terwyl hy sy ou oorflap met ’n bakhand buig en nader staan.

“Kan ek ’n foto van Oom neem?

“Ja-ja, maak maar so.”

My vriendskapstroos, sou ek Maandag of enige ander oggend weer gaan pos uithaal en oom Steven nie daar vind nie, dan sal ek tog sy kiekie hê, maar sal ek ook sy vriendskap hê, sekerlik tot ons mekaar weer sal sien.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed