
Die rooi stoep (Goud)
die rooi stoep lê in my
ge-anker en gehoek
vasgeberg oor jare
uit die resesse van my togte
verskyn hy weer en weer
as ‘n uitsig en ‘n uitgang onder meer
ek sien die appelkoosboom
en ek sien oom Jan se huis
die druiweboord, die droë tuin
die windpompe wat draai
die oor-die-dak begrafnisboom
en ‘n winterwind wat waai
ek hoor Alma in haar kamer
met haar skoolwerk redeneer
ek sien vir Steve en Trudie
gisterlag en môrehuil
in die sonnetjie lê Wagter
teen die ysluggie verskuil
die rooi stoep was ons bokskryt
ons plekkie om te speel
die roete na die voordeur
en die uitkoms na die straat
ek sien klein Johan en Riaan
ure lank daar kinderpraat
in die ou huis was daar krake
en die sinkdak het gelek
in die verte van ons vrede
was die onweerswolke blou
maar die rooi stoep het ons almal
in sy arms toegevou
die rooi stoep sê nooit iets nie
hy was inderware stom
in sy hart was daar ‘n weemoed
deur sy rooi verf aangedaan
al noem hy nooit jou naam nie
het hy altyd als verstaan
Andries Fourie (Seirdna)
2022.08.23
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2022 My huis is my woning projek