
Die sneltrein.
Die sneltrein.
Sneltreine is ʼn tipiese passasierstrein wat ʼn baie hoër spoed as ander tradisionele passasierstreine handhaaf. Verskillende lande het verskillende standaarde, in die Europese Unie is dit byvoorbeeld treine wat 125 – 200km per uur of vinniger reis, in Verenigde State is dit treine wat 90km per uur of vinniger reis.
Geskiedenis van sneltreine.
So vroeg soos die begin van die 20ste eeu was treinreis ʼn baie gewilde soort vervoer vir passasiers en ook vir die vervoer van vrag.
In 1933 het die eerste hoë spoed treine verskyn in Europa asook in Amerika. Hoë spoed treine is in werking gestel om mense en goedere te vervoer teen spoed van sowat 80 km per uur.
In 1939 word die eerste ETR 200-trein in Italië aan die publiek voorgestel. Hierdie trein kon sowat 203km per uur haal. Die Tweede Wêreldoorlog het egter verdere ontwikkeling van die ETS 200 in die wiele gery.
Na die Tweede Wêreldoorlog is die navorsing voortgesit en het die sneltrein weer op die voorgrond getree. So in die middel 1960’s is Japan se eerste sneltrein bekend gestel as die Shinkansen. Met hierdie bekendstelling was die spoordiens tussen Tokai en Osaka in diens met ʼn spoed van ongeveer 135 km per uur. Die Japanese woord: Shinkansen beteken “hooflyn”.
Sneltrein tegnologie in vandag se tyd.
Vandat sneltreine ontstaan het, het daar ontsettend baie vooruitgang in die tegnologie plaasgevind.
Alhoewel magnetiese levitasie (maglev) ʼn beduidende verandering was, maak die meeste sneltreine nie meer van hierdie tegnologie gebruik nie. Ander tegnologieë wat makliker is om voorsiening te maak vir direkte snelverbindings tussen stede waar nuwe spore nie nodig sal wees nie, word eerder vir hierdie doel aangewend.
Sneltreine oor die wêreld heen.
Hierdie tegnologie word nou wêreldwyd aangetref. Veral in China en Japan is sneltreine van kardinale belang. Die grootste snelspoornetwerk word in China aangetref. Voor 2007 was Japan die voorloper op die gebied. Tot vandag nog is die Shinkansen uiters belangrik en tans word nuwe maglev- en ook staalwiel-treine getoets.
Die drie gebiede wat op die voorpunt van hierdie tegnologie opereer is Europa, China en Japan. Daar word ook sneltreine as pendeltrein in die ooste van die VSA, Suid-Korea en Taiwan aangetref.
Voordele van sneltreine.
Alhoewel die koste vir die oprigting van hierdie tegnologie hoog is, hou dit ontsettend baie voordele in as die stelsel eers voltooid en in werking is. In lande waar infrastruktuur-ontwerp ontwikkeling van snelweë en lugreis-sisteme beperk, kan sneltreine die oplossing vir hierdie probleem bied.
Die doeltreffendheid van hierdie sneltreinstelsels word hoog geag. As ons kyk na passasierskapasiteit kan sneltreine ook die hoeveelheid grond per passasier verminder as dit vergelyk word met hoeveelheid van motors op openbare paaie. Nog ʼn voordeel is die spasie wat ʼn treinstasie opneem, beslis baie kleiner as byvoorbeeld lughawens. Treinstasies kan binne-in stede gebou word en dit kan reis wêreldwyd vergemaklik.
Sneltreine se toekoms in die wêreld.
Aangesien die voordele van sneltreine so hoog is, word sneltreine se gebruik wêreldwyd uitgebrei.
Europa beplan om teen 2025 baie meer verbindings in werking te stel. Die EU het ʼn voorneme om ʼn Trans-Europese hoëspoednetwerk in gebruik te kry wat dan die totale streek kan verbind. Daar is talle ander voorbeelde van sneltrein-netwerke wat beplan word, byvoorbeeld in Kalifornië tot Marokko.
In Suid-Afrika maak die gebruik van sneltreine ook sin. Die afstand tussen Durban en Gauteng is baie geskik vir ʼn sneltreindiens. As jy reken die afstand is 600km en die sneltrein kan teen die spoed van 300km per uur ry, sal jy beslis vinniger in Durban kom, (as jy woonagtig is in Gauteng) as wat die geval sal wees as jy ʼn vliegtuig moes haal.
Sneltrein-netwerke kan beslis geag word as ʼn lewensvatbare vorm van openbare vervoer in die toekoms.
©Marlene Erasmus
30/09/2022
(619 woorde)
https://af.wikipedia.org
https://af.traveldirecting.com/travel-and-tourism/37
https://af.eferrit.com/treine
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2022 Snelheids projek