Die Uitkamp Kwartet
Ek sal regtig nie kan sê van wie die gedagte nou eintlik gekom het nie. Gedagtes word mos sommer so uit homself gestaan en worre. En hierdie gedagte, had ek aanvanklik geglo, was ook so die wêreld ingekome. Later het ek egter introspeksie gedoen en toe ‘n baie sterk vermoede begin koester dat die duiwel iewers ‘n hand in die besluit moes gehad het. Kan nie anders wees nie…
Maar laat ek liewer die begin van die storie gaan omloop:
Ons sit die dag by een van die kinders. Té rustig en uit gewoonte ledig. Sommiges roep hierdie soort van ledig wees eufemisties kuiertjies. Gesels ons so bolangs hieroor en daaroor. Niks ernstig of verrykend nie, want ons kuier mos dan! Help so wan-en-dan ‘n stukkie ingedoopte gemorskos mond in om darem nie té ledig te wil skyn nie. En so, in die verkwistende rustigheid en lediglê, vorm gedagtes skimmerig-onskuldig soos ‘n wasempie wat net voor die ketel se kook by sy tuit uitdamp. Maar mettertyd bepraat ons die skamele dampie tot ‘n swanger wolk wat naderhand onhanteerbaar tot uitstorting dreig. En toe die wolk breek word daar ondeurdag besluit ons gaan uitkamp en visvang. Net so! Kant en klaar! (Dis nou ek saam met Skoonseun en hulle twee knape wat al amper groter is as wat ons wil hê, want so met die groterword kom mos die ellende van hormone wat alles wat normaal en egaal is krom trek tot onverstaanbare abnormale verstaanbare normale pubergedrag!)
Ma probeer haar bes om water te gooi op die gedagte en Ouma teem saam, maar tevergeefs want ons manne het mos ons ondeurdagte besluit om ten alle koste te handhaaf. G’n niks skrikkerig of bang vir die vroue nie en hulle notisie dat as ‘n vark eers sy lê in ‘n poeletjie modder gevroetel het, jy maar kan was en seep maar keer dat hy weer na sy modderpoel t’rugkeer? Nooit gesien nie piekanienie!
Toegegee, die besluit was altemit impulsief geneem. Maar die voorbereiding was eersteklas en met spoed, omdat Ousus dalk ‘n tweede asem kon skep met haar gekeerdery… En woeps-warts, is alles gepak, gelaai en daar trek ons kwartet Rietvleidam toe, al singende die stinkende, rokerige, dynserige middestad deur en ek sit nie maar net met ‘n lied in die hart oor my geluksaligheid nie, nee, ek bring hom ter lippe oor stembande wat ongangbaar valserig die ander tog nooi om te join. So aardigsingende kom ons prosessie dan met ‘n hélemal oorlaaide sleepwa by die dam aan. Besluit nie oorhaastig om die eerste die beste gaatjie binne te val nie, maar rustig te verken. Altans so dag ek wat met die afklim met een van die-reeds-aange-kome-en-visvangende-hengelaars ‘n kennismaakgeselsie brand maak. (Weet mos nooit of jou proviand gaan hou nie en ‘n maat tydig gemaak kan mos altyd uithelp, dan nie?)
Maar sowat van kennismaking is mos nie ‘n alte vinnige affêre nie, want jy moet diplomaties die ding mos rek sodat die toekomstige potensiale hulpverlener nie geafronteer word nie. Dus vertoewe ek toe ietwat langer as wat bedoel was, dog tog vir ‘n goeie saak. (En terloops, om enige wanvattings en lastige gevolgtrekkings te ontman: Die uitgerektheid het bloedwynig met die aangebode paar doppe te doene gehad vir ingeval daar gewonder en geskinner wil word…)
Nou ken ek mos ook darem mense. Kan so maklik goeie voornemens in hulle se haas om uit te kom waarvoor gekom is sommer so eenkant toe verloor. En terwyl ek nog besig is met kennismaking deeskant is skoonseun anderkant besig om tent op te slaan saam met die twee seuns. Maar met my derwaarts vind ek tot verstommenis dat die sware vrag van tafels, stoele, skottels, potte, panne, waterkanne, tente met vlappe en alle byhorigheid, kussings, slaapsakke, kosvorraad, drinkgoed, toiletware brandmaakgoed en noem maar op, op ‘n klipbank, van alle plekke(!) afgelaai en uitgestal staan. Ek probeer deur die logika van die grysheid hulle aan die verstand bring dat tentpenne nie daar ingeslaan sal kan word nie, maar soos bronstige hoenderhaantjies wat vir weke gehok gestaan het, byt hulle behoorlik die toom vas en druk deur! Word so onder hulle se ywerigheid om alles staan te maak skielik stokdoof. Hoor geen sprak van my se kant af nie. Noodgedwonge gee ek toe maar bes en om uit hulle se pad uit te bly gryp en stoot en sleep en pak ek ook maar saam.
Wat soos eeue later voel, val my ou liggaam sonder my bewuswees in ‘n semi-beswyming deur uitputting in ‘Oupa se stoel” neer. Gereed vir, en reeds oorgegee, aan afsterwe, want teen hierdie tyd was ek al erg verniel met eenkant se alleen se gesukkel…
Uiteindelik! Die tente, grondseiltjies, ‘oorhoofse dak’ (Nie van my Armie-dae se groenvaal gehalte natuurlik nie, maar sulke rafelrige sakkerige spogswart stukkies lap!) staan tog uiteindelik spoggerig die oorkantste naderende wolkekolom en bewapper, en ons gaan sit almal moeg maar met ‘n eiesoortige sielsvrede in die hart. (Wat natuurlik, vind ons later uit, vir ons in ons se stil wees reeds belieg het met “Welgedaan!” ) Net: My onrustigheid dwarrel doer by die oorkantste wolkemassa wat al meer eienaardiger en aardiger vir my raak. Hou aanvanklik maar my bek, want Pa het as kind vir my gewaarsku dat mens jou uit die weer moet hou want, het Pa altyd bygevoeg, die weer kan mens se gat aan die brand slaan…
Ewenwel, toe dit later ‘n vlokkie skuim uit die sfere se ruim word wat groei in die blou tot ‘n stapelblou van marmer wat krul en leef – kolossaal monument op sy swart fondament, waar die bliksems in brul en leef, toe weet ek: Patattaranke! (Die kursiewe uit ‘Die Vlakte’ van Jan F. E. Celliers.) Kon toe nie my gevoelte van naderende onheil my eie geheim hou nie. Blaker dit skaamteloos uit tot enigeen wat gewillige ore het. Maar nóg Skoonseun nóg sy telge sien enige steurnis of naderende chaos. Dag ek by myself ek is darem die pater, bewaarder van belange en sedes en aldus geroepe om aan te spreek en ek skep asem en probeer weer waarsku…
Ongenadiglik verlos die natuurkragte my van my onmag om te oortuig want waarskuwingloos vlieg die ‘oorhoofse dak’ onseremonieel die lug in, dwarrel en verwring ‘n keer of ses potsierlik (Met as agtergrond ‘n grys stortreen wat die aarde teen ‘n hoek van dertig grade van sy aan-komkant tref!) en slaan neffens ons in die langgrasse neer. Skoonseun kry eerste bloed in sy bene; spring op, storm wind-op om te keer dat die groot tent nie moet bollemakiesie nie. Verdedig die natuur se woede aan die teenkant van die wind net om geleer te word dat mens nie tentpenne op ‘n klipplaat vir ankers kan inslaan nie! Natuurlik tot skande te laat, want die tentpenne wat maar eina in die bogrond geslaan was ‘pop-pop-pop’ soos popcorn die gryse lug in! Sy stem, gewoonlik sterk en respekafdwingend, piep skielik in verkeerde valse note dat ons moet kom help om die anderkant te anker anders gaan hy keuseloos in orbit! En ons dóén, so goed ons kan. Ek vat die flappende tentlyne onnosel dubbelhandslag om te probeer keer dat die wind nie die tent onder ons uit moet trek nie. Maar goeiste, ek dag die wind amputeer net daar my twee onhandige maar broodnodige hande. En my pyngille word gesmoor deur donderweer, loeiende wind en losgoed wat wapper en ons vierstuks word vir ‘n wyle vliegvaardig. Ons is skielik almal verdwaal in die grysigheid van ‘n soenamie. Rigtingloos. Soos Klara Majola toentertyd. Hoor niks, sê niks sien niks en doen niks –soos daai prentjie van die vier apies- omdat ons kragteloos nie in staat is tot enige aksie nie…
Behoorlike donderstorms leer mens eers ken as jy in die Wes-Transvaal opgegroei het of daar in die geweste van Kingross somertyd gaan draai maak het. In Wes-Transvaal het doekgoed gespeen geraak so tussen die bliksems en die swaelreuke. Onthou nog toe die Kapenaartjie kom gesig wys het en toe die donder nog sommer dóér annerkant die mangaanrantjies doffies rommel, toe beginne die kêrel al oë omdop en toe die eerste slag so amper saam met die bliksemstraal voorslag, toe duik die stomme mens hom nerf-af teen die kombuistafel se poot om onder die tafel rustigheid te soek. Ons lag natuurlik, maar Ma raak broeisig oor die knaap met die lelike skrik en grootoog vir ons en ons zip dadelik ‘n lip, want ons kén as Ma omgesukkeld word. Ma paai en vou toe, maar die knaap lê sy lê al te stewig onner die tafel. (Sal maar nie vertel wat alles later gebeur het toe die lug behoorlik beginne krioel met starlites en die kombuis na swael beginne ruik nie. Kan egter vir die waarheid belowe dat dié aand se swael ietwat sterk van ‘n rioolreukie geskinder het, maar Ma wou nie kommentaar toe ek dit diplomaties ophaal nie.) Ja, Ma het die geskrikte likkewaan darem onder die tafel uit kon kry en hom met sy angsaanval na kalmte kon begelei.
En ja, ámper so belewe ons vier manne met ons uitkampery iets soortgelyks. ‘n Ervaring wat jou in donker nagte met die geklank van nagmerries skielik laat regop sit. So ampertjies soos wanneer die basuin met die oordeelsdag geblaas word as ‘n mens nie gereed is nie!
Later, met ‘n tweeselflitsie, lê ons kwartet sterk ankers binne in die tent om só te probeer om dit van opstyg te besweer. Ek lê deeskant saam met Ouboet, en Skoonseun leg oorkant met Kleinboet. En ons lê laag om te hou! Maar Skoonseun –eie aan sy positiewe aard- sien geen donkerkant nie. Neem foto’s in ons ingeslote ruimte vir die huisblyers vir later om in ons avontuur te deel. Bid jou aan!
Ons vang toe geen vis nie. Nee, ek jok: Kleinboet het een gevang wat Skoonseun gesukkel het om onder lens te kry want dit was kleiner as Kleinboet se pinkie en Skoonseun kon nie mooi onderskei nie…
Weer gaan uitkamp? Ja! sing ons kwartet soos een man met vier verskillende stembande, almal vals.
(…Maar dan nie weer op ‘n baster klipkoppie nie neem ek my voor!)
4 Kommentare
-
-
Toom
Baie mooi vertel! Baie mooi verteltrant! 'n Styl soos Oom Silaas by die kampvuur. Wil geleer word. Van soiets hou ek baie. GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Hierdie was nou soos Jan Spies van ouds, se koffie: RYK EN LEKKERRR! Ek voel of ek twee bakke malvapoeding met vla in het, van al die lekkerte wat ek hier kon in-lees!! Luide en staande applous vir jou!!!!