Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 14

HOOSTUK 14

Oujaarsaand 1965 is Hans by die huis en hou hulle tussen die drie van hulle n vrolike oujaarspartytjie by die huis. Hulle almal sien met groot verwagting uit na 1966 want dit is die jaar wat Marietjie en Elsabe een en twintig word en dus mondig. Hans braai vir hulle vleis op sy braairooster wat hy by Elsabe vir n kersgeskenk gekry het en maak hulle slaaie in die kombuis voor hulle by Hans langs die braairooster aansluit net toe die vlamme begin bedaar om die kole te laat gloei.
Die twee meisies is in koel somersrokkies geklee en is dit Hans wat vir hulle elkeen n brandewyntjie ingooi toe hulle by hom aansluit. Dit is n gewoonte wat hulle begin aanleer het om met elke braai ietsie te drink want die kans daarvoor is min genoeg. Baie Saterdae is Hans op die pad en deur die week maak Elsabe vir hulle kos.
Elsabe kom sit op sy skoot met haar drankie terwyl hulle wag dat die kole regkom en is dit toe Marietjie opmerk: “Julle twee gaan seker hierdie jaar trou sodra Elsabe een en twintig word want dan het sy mos nie meer die weesheer se toestemming nodig nie”.
Elsabe lĂȘ haar kop op Hans se skouer neer en kyk Hans met groot liefde en deernis en vol afwagting aan. Alhoewel hulle verhouding baie innig en diep is het hulle nog nooit oor trou gepraat nie. Hulle was nog altyd tevrede met hulle liefde vir mekaar en kon hulle hulleself nog altyd beheer voordat hulle liefkosings hande uitruk.
Hans is die een wat antwoord terwyl hy Elsabe styf ten hom vasdruk: “Natuurlik gaan ons trou, ons het immers lank genoeg gewag. Sodra Elsabe Augustus maand maand een en twintig word trou ons”.
Marietjie kan maar net vir hulle glimlag maar vra: “Hans, ek hoop net nie julle vergeet van Boskop nie”.
Elsabe is die een wat antwoord; “Nooit Marietjie want as ek en Hans getroud is is ek n Struwig en kom Boskop ons kinders toe. Hoekom dink jy het ek daardie tyd vir julle gesĂȘ dat my trustgeld saam met julle geld in een trust moet omskep word”.
Die kole kom reg en klim Elsabe van Hans se skoot af sodat hy die vleis kan opsit, vir elkeen n stukkie wors en skaap boudtjop wat deur die middag gemarineer is.
Onder die braai deur word gelag en gesels en gooi Marietjie vir elkeen nog n brandewyntjie in. Dit sal hulle laaste rondte wees want Hans werk drie uur Kroonstad toe en hy wil nog n bietjie gaan slaap. Marietjie en Elsabe wil egter wakker bly tot middernag toe maar Hans sien nie daarvoor kans nie, hy wil nie met n moeë liggaam gaan werk nie.
Hy gaan klim dus vroeg in die nadat hulle klaar ge eet het en kuier die twee meisies alleen verder nadat Elsabe hom gaan nag sĂȘ het soos dit haar gewoonte geword het.
Dit is toe hulle onder nog n brandewyntjie vir die eerste keer ernstig oor die jaar wat voorlĂȘ begin gesels. Marietjie is die een wat vra: “Elsabe, was is jy ernstig om saam met my en Hans in n trust in te gaan en jou geld na ons toe te laat oordra as jy een en twintig word”.
Elsabe antwoord haar dadelik: “Ja Marietjie want dan gaan ek n Struwig word en gaan Boskop ons kinders, en jou kinders as jy ooit eendag trou, se erfenis wees. Dit lyk egter nie vir my of jy in mans belang stel nie. Eers het jy Andries n koue skouer gegee en ek sien dat van die jong boere wat daar in die goederekantoor kom ook maar n koue skouer by jou kry”.
Marietjie draai haar glas ingedagte rond om tyd te wen. Sy weet dat Elsabe n antwoord verwag maar het sy nie regtig n antwoord op Elsabe se stelling nie. Sy weet dat Elsabe die waarheid praat. Sy ontmoedig enige manlike belangstelling in haar.
Dan antwoord sy: “Elsabe as die regte man kom sal ek val vir hom. Ek sal hom alles gee soos jy vir Hans al jou liefde gee. Dit is vir my n wonderwerk dat julle dit so kalm vat en nog nie saam in die bed beland het nie. Ek glo nie ek sal dit regkry met die regte man nie. Ek sal hom wil bed toe sleep want ek is nie regtig so yskoud soos jy dink nie. My hele wese hunker na n man om lief te hĂȘ en ek word groen van jaloesie op jou en Hans as ek sien hoe gelukkig julle is en so volmaak bymekaar pas”.
Elsabe glimlag maar net en bly n antwoord skuldig.
Twaalf uur wens hulle mekaar n voorspoedige nuwe jaar toe en gaan kamers toe om te gaan slaap. Oudergewoonte stoot sy Hans se kamerdeur sag oop en loop tot by sĂȘ bed en sĂȘ sag vir hom in haar hart terwyl hy voort snork; “Nag my liefling jou Elsabe sal jou alles in die lewe wees”.
Drie uur maak die roepman se geklop aan die kamer venster Hans wakker: “Hans vieruur aan diens vir 660 Kroonstad toe”. Hans staan op vat die roepboekie deur die kamervenster en teken dit.
Elsabe word gewoonlik ook wakker as die roepman Hans opklop en staan sy altyd dadelik op om vir Hans te gaan koffie maak en gou sy blik te pak. Sy gooi altyd sommer net n kamerjas oor haar slaapklere terwyl sy in die kombuis doenig is en tot sy Hans tot siens sĂȘ en sy weer gaan slaap nadat hy weg is.
Vanoggend is dit egter anders en is dit toe Hans in die kombuis kom dat die lig haar jong liggaam skerp afteken. Hy sien die lyne van haar jong liggaam duidelik onder die dun kamerjassie afgeteken soos die lig deur die kamerjassie skyn en Hans voel iets in hom wakker word. Hy raak intens bewus van n behoefte in hom om die liefde tussen hulle sy volle loop te laat neem en haar volkome syne te maak. Terwyl hulle koffie drink kan hy sy oë nie van haar afhou nie en te vinnig moet hy haar groet. Dit is toe hy opstaan en sy styf teen hom kom staan om hom te groet wat hy die drukking van haar liggaam teen hom voel en dit die hunkerings in hom net verder aanwakker. Haar soen is passievol en lank en die soet van haar mond raak byna vir hom te veel.
Oppad loko toe deur Bethlehem se stil strate, wat dof deur die straatligte verlig word, kry hy sy gevoelens onder beheer en is hy sy ou self toe hy sy fiets bĂȘre. Oudergewoonte staan hy n paar oomblikke stil om die ry blasende lokomotiewe onder die geel ligte te aanskou maar dan frons hy. Daar staan twee 15E lokos eerste uit op nr 2, 2876 en 2880. 2927 is nĂȘrens te sien nie maar toe val dit hom by dat sy vandag geboek is vir n keteluitwas.
Toe hy aanteken maak die roosteropsteller nog n grappie met hom: “Gee jou n graafkar vandag. Ek wil net seker maak dat die arms nie te pap word van nie meer stook en die meganiese stoker die werk moet doen nie”.
Hans glimlag maar net en gaan kry die gereedskap en olies in die store, stoot dit met die kruiwa oor en begin die lokomtief voorberei. Hy is net klaar toe Jannie se blik op die voetplaat neerplof en Jannie inklim. Eers wens hulle mekaar n voorspoedige nuwe jaar toe en gaan ghries en olie gou die wiele. Hans maak seker dat die kolewa vol water is en dan sit hy die injekteur aan. Hy begin die vuur ritmies te voer, eers die hoeke, dan die kante en dan oor die middel van die vuur. Die simfonie van die geskraap van sy graaf word aangevul met die gefluit van die dinamo en die geraas van die blower. Dit is al vir hom of sy spiere bietjie sag geword het want dit is darem lanklaas wat hy op n 15E was en hulle het nou nie van die kleinste vuurkiste wat daar is nie. Hans is egter gou weer in die roetine in en met n beker koffie in die hand klap die witveer toe die stoomdruknaald op 210 gaan staan. By die skoorsteen borrel die rook uit soos die blower die rook deur die skoorsteen jaag en is die vuur witwarm.
Jannie fluit weg en met n kort fluit van die agterste drywer, n geslaagde stoker, gee Jannie die omstellerwiel drie draaie vorentoe, maak die remme los, vakuumnaalse klim na 17dm toe, en trek die regulateur effens oop.
Blasend en sissend kom hulle in beweging en stop Jannie by die rooi dwergsinjaal om uit te bel. Dwergsinjaal gaan op en beweeg hulle oor die wissels en stop. Die agterste drywer begin hulle terugtrek in die werf in waar die rangeerder hulle inwag om hulle te koppel. Die laaste entjie word sand gestrooi om te help met die vastrap as hulle wegtrek.
Die treinafsender is dadelik by met die walys en sien Jannie dat dit n swaar vrag is, 2242 vir 148, n vrag kole.
Toe die treinafsender agter kom kontroleer hy die vakuumdruk in die kondukteurswa en tevrede daarmee hoor hy Jannie wegfluit voor. Hy gee hulle n groen lig en die sinjale gaan op voor hulle met die kontrolepunt rangeerder se groen lig voor hulle.
Jannie trek die regulateur half oop en toe hulle begin beweeg nog n entjie. Blasend en sissend deur die slinderkrane kom hulle in beweging. Die eerste blaf kom deur die skoorsteen en dan gaan die agterste loko aan die gly. Jannie trek oop en die agterste man maak toe maar trek weer oop toe die gly uit is. 2876 is n vastrapper en kry hulle die vrag opgetel sonder dat sy eenkeer aan die gly gaan. Jannie gee die omstellerwiel een en n half draai terug vir 45 en maak oop. Spoedig storm hulle deur die stasie met rooksuile wat die lug inpomp en n geblaf wat die stasiegebou laat bewe, swaaiend en wiegend onder die groot krag wat na die silinders toe gaan.
Hans vang die Bethlehem Langspruit tablet by die stasievoorman en toe hulle by die huise verbygaan gee Hans n lang en twee kort fluite om Elsabe te laat weet dat hulle oppad is. Dit is ook n gewoonte wat lankal onstaan het en sit sy in die nag haar kamerlig so twee keer aan en af om tot siens te sĂȘ. Vannag is egter anders en staan sy op die stoep om vir hom te waai.
Die klim teen die Langspruit bank begin en rol die geblaf oor die veld met die rooksuile wat die lug inpomp en dan stil bly hang tot die wind dit wegwaai. By Boskop verby, dan Vlakspruit, Willem Roets se plaas, en dan by Phillip du Plessis se Langspruit wat tot anderkant die stasie strek. Die dag breek in die Ooste en die opkomende son teken gou die prentjie van die trein teen die horison af. Op Langspruit gaan hulle op die uitwykspoor in vir n kruising en begin hy en Jannie gesels toe hulle stil staan. Jannie wil weet of daar al trouplanne tussen hom en Elsabe is want hulle is darem nou al drie jaar saam.
Hans glimlag toe hy antwoord: “Sodra sy Augustus een en twintig word Jannie gaan ons afhak want daardie meisie is my hele lewe. Ek het sover nog kalm gebly maar ek glo nie ek gaan dit lank meer regkry nie’.
“Al wat ek kan sĂȘ is sy is n juweel, maar dit lyk nie vir my of Marietjie enige belangstelling in mans het nie”.
Hans skud sy kop: “Lyk vir my ook nie so nie. Baie van die jong manne het my al gevra om hulle aan haar voor te stel maar sy wil niks weet nie”.
Die trein van voor af hardloop in en n paar minute later kry hulle die Langspruit Meets tablet. Meets gaan hulle deur en kom met Hans se “Hokaai” onder die waterkolom op Valsrivier tot stilstand. Die kolewa se deksel word oopgegooi en die waterkraan oopgedraai om die stroom water in die kolewa te laat inloop. Dan begin die harde werk om die klinkers in die vuur met die vuurysters deur te krap, die vuur te skud en die as te laat deurval in die aspan in voor dit in die asputte laat val word. Voordat dit in die asput laat val word moet die gloeiende klinkers eers doodgespuit word met die spraypipe. Intussen moet die vuur aan die gang gehou word en die stoomdruk moet dopgehou word.
Intussen hardloop n trein van voor af verby en met al die vuurskoonmakery klaar word die vuurkis weer gepak, die water word toegemaak en die injekteur aangesit. Die blower word oopgemaak en vinnig klim die stoomdruk en die witveer klap, hulle is reg om te ry.
Een kyk na die sinjale voor hulle vertel hulle dat daar nog n trein van voor af oppad is en besluit Hans dit is tyd vir ietsie te eet. Dit is toe hy sy kosblik oopmaak wat hy die koevertjie met n paar lipstiffiemerke en n hartjie met n pyl daardeur in sy toebroodjiebak ontdek. Jannie sien dit ook raak en gee n lang wolwefluit wat Hans bloedrooi van verleentheid laat maar kom Elsabe se beeld van vanoggend by hom op wat opnuut n hunkering in hom losmaak.
Nadat hulle klaar n stukkie ge eet het hardloop die voorste trein in en bring die stasievoorman vir hulle die tablet Kaallaagte toe om verder te gaan.
Die res van die reis verloop voorspoedig en draf hulle die werf op Bethlehem vyfuur die middag in met n vrag mielies vir die hawe in Durban. Toe hulle deur die stasie gekom het het Hans sy lang en twee kort fluite gegee om Elsabe te vertel dat hy terug is en wag n heerlike bord kos vir hom nadat sy hom met n lang soen en ontvang het.
In haar hart voel Marietjie ook n verlange na iemand in haar lewe en besluit sy sy gaan die volgende dag by Andries hoor hoekom hy so skaars is. Dalk is Hans en Elsabe reg en is sy besig om haar lewe weg te gooi.
Jannie en Ronel loer n bietjie later in en natuurlik kry klein Ronel met haar rooikoppie al die aandag van die vrouens af want hulle reken dat sy nou op amper nege maande die oulikste dingetjie is wat daar is.
Dit is toe hulle weg is wat Marietjie opmerk: “Ek sal darem nie omgee om self so n ou babatjie te hĂȘ nie”.
Hans koes te laat vir n vlieĂ«nde kussing as beloning vir sy opmerking: “Hulle val nie uit die lug uit nie, n meisie het n man nodig daarvoor”.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed