Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 24

HOOFSTUK 24

Die tweede helfte van 1967 raak n tyd van stille afwagting na al die woelinge van die eerste helfte van die jaar. Ronel se tweede enetjie word gebore maar maak klein Dirk Struwig ook sy opwagting Julie maand.
Met die elektrifikasie van die Kroonstad Harrismith lyn word fluks gevorder maar raak die rooster nog korter soos die manne korter rus uitdraai met die konstruksietreine.
Hans bly dus nie baie lank op die rangeer nie en breek die dag ook aan wat hy sy eerste rit op die hooflyn dryf.
Dit is n bittere koue Julie oggend toe hy aanteken as drywer op die agterste loko van trein 650 met “Boerboel” Olewage as die voorste drywer op 2890. Toevallig is “Windhond”, sy seun, Hans se stoker. Toe Hans sy kosblik op 2885 se voetplaat neersit is Windhond al feitlik klaar met sy voorbereidings en gaan Hans aan met olie en ghries. Die koue maak die ghries hard en moet Hans die ghries geweer met mening pomp om die laers geghries te kry. Hy is ook net terug op die voetplaat toe Boerboel wegfluit voor. Hans laat sy oog vinnig oor die meters gly, die stoomdrukmeter is op 210, peilglase is half en fluit hy ook weg. Die vakuumnaalde klim en begin hulle vorentoe beweeg tot by die dwergsinjaal waar hulle stop en Boerboel uitbel. Toe die sinjaal opgaan trek hy hulle vorentoe tot oor die wissels en stop hulle daar. Sinjale terug werf toe en Hans begin hulle terugtrek. Oor die wissels swaai die kolewa en begin die rangeerder hulle terugwaai om op die vrag te gaan koppel. Hans speel met die rem tot hulle met n sagte stampie op die vrag koppel.
Die treinafsender wag vir hulle en gee vir Boerboel die walys en die vrag, n ligte vrag 740 vir 148, n vrag leë graan trokke wat hulle op Arlington moet afsit en dan moet hulle daar n gelaaide vrag optel vir Kroonstad.
Die treinafsender is skaars agter of Boerboel fluit weg. Die kontrolerangeerder gee hulle aan vir die seinhuis en gaan die sinjale op. Die twee klas 15E lokos vat die vrag maklik en tel vinnig spoed op om maar weer in die stasie te gaan stop vir die passasierstrein van vooraf om te kruis.
Hulle staan egter nie lank nie of die passasierstrein hardloop in op platform 3 en bring die stasievoorman die tablet vir Langspruit.
Windhond het n stewige vuur aangegooi en toe Boerboel wegfluit antwoord Hans en trek hulle die regulateurs oop. Die geblaf deur die skoorsteen versnel vinnig met die ligte vrag en tel hulle vinnig spoed op.
Boerboel is bekend daarvoor dat hy n harde ryer is en toe die agterste deel van die trein oor die wissels gaan kyk Hans terug. Hy raak skoon benoud toe hy sien hoe die trokke oor die wissels swaai maar begin hulle klim Langspruit toe. Nie lank nie of die spoedmeternaald begin klim na tagtig toe. Hans oorweeg n slag om bietjie rem aan te sit maar besluit daarteen. Boerboel het nog nooit in sy lewe van die pad afgeklim nie, hoekom sal hy nou.
Hulle seil Langspruit deur Meets toe waar hulle terugstaan vir n kruising en toe val hulle in die pad Valsrivier toe. Naby Valsrivier is dit n lang afdraande, dan maak die spoor n draai na die brug oor die rivier toe en dan wer n draai in die stasie in.
Dit is teen hierdie afdraande wat Boerboel Hans laat bloed sweet toe die spoedmeternaald begin aankruip negentig toe. Hans se eerste gedagte dat hulle dit nie teen hierdie spoed gaan maak om die draai nie. Vandag beland hulle in die rivier, hierdie is hopeloos te vinnig vir die draai. Hy wil net die rem aansit toe die vakuumnaalde begin sak en die remblokke begin skree, Boerboel het rem aangesit en die spoedmeternaald sak vinnig.
Toe hulle in die stasie stop kom Boerboel na hom toe en vra: “En toe maat was dit n bietjie vinnig vir jou”.
Hans sê nie n woord nie en gaan aan met ghries.
Van Arlington af gaan dit bietjie beter met die gelaaide vrag want nou moet hulle albei trek aan die swaar vrag en kan hulle nie die spoed handhaaf wat hulle tot Arlington gehandhaaf het nie. Hans is maar dankbaar daarvoor want vir hom het Boerboel darem te vinnig gery al sê hy die geheim lê daarin om net die vrag styf te hou. Die terugrit is ook n gelaaide vrag van Kroonstad af en is dit net teen die afdraandes wat Boerboel bietjie vinnig na sy sin gaan maar sê hy niks. Toe hulle afteken is hy net dankbaar dat die rit verby is. Boerboel se afskeidswoorde in die roosterkantoor is: “Ek het jou maar net bietjie mak gemaak”.
Genadiglik vir Hans teken hy af as drywer op die oorlaai Modderpoort toe die volgende dag. Dit is afboek op Modderpoort en kom hy eers Saterdag terug om bietjie langer rus uit te draai oor die naweek. Dan loop die konstruksie treine nie en word baie goederetreine gekanselleer. Daarvoor is Hans bitter dankbaar want hy kan nie vinnig genoeg by die huis kom waar Elsabe en klein Dirk vir hom wag nie.
Hans stook die res van die jaar omtrent nooit meer nie en kry hy November maand ook sy drywers aanstelling.

Die eis teen Willem Roets vir skadevergoeding is ook in hierdie tyd ingestel maar het sy prokureur laat weet dat Willem die eis gaan teëstaan. Die saak gaan dus hooggeregshof toe en moet nou op n datum gewag word wanneer die saak sal voorkom. Hy het besluit om met Phillip Engelbrecht buite die hof te skik en het die skikking hom finansieël n lelike knou gegee. In werklikheid kan hy nie nog so n hou hanteer nie want hy moes vir die ander plaas ook opdok.
Hulle het egter nog gereeld kontak met Boskop via Ramatsi wat gereeld soontoe gaan en dan kom verslag doen as hy weer in die dorp kom. Hy het werk by die romery gekry as vragmotor bestuurder en kom dus gereeld op Boskop om die melk op te laai romery toe. Ramatsi byt ook maar vas want Bernard het hom belowe dat hy kan terugkom Boskop toe die dag as hulle terugkom.
Elsabe is dus die eerste wat die nuus eerstehands van Rmatsi verneem toe Ramatsi kom vertel: “Maria het vir my gesê dat jy Marietjie moet laat weet dat Sophie se basterkind gebore is”.
Die Sondagoggend ry sy en Hans Senekal toe om vir Marietjie en Hans te gaan vertel van die kind.
Toe Marietjie die nuus verneem glimlag sy en sê: “Dit het tyd geword om toe te slaan op Willem Roets. Ek het net hiervoor gewag, nou kan ons hom dwing om tot n skikking met ons te kom of ons hang hierdie verkragting, en die geboorte van die kind as gevolg daarvan, aan die groot klok op en ek glo nie hy sal dit wil laat rugbaar word nie. Sy vrou sal hom weggooi soos n vrot ding en as Sophie n saak teen hom maak is die tronk sy voorland”.
Toe sy haar sê klaar gesê het kyk sy hulle aan en dan kom die begin van haar wraak: “Al wat ek en Bernard wil hê is die trust se volmag om die saak namens die trust te hanteer. Hierdie is my oomblik van wraak omdat hy my en Bernard soos honde van Boskop af weggejaag het”.
Op hulle vraende blik lê sy haar plan vir hulle uiteen. Dit is n skelm geslepe plan maar n meesterlike plan.
Daardie aand skryf sy in haar dagboek: “Liewe dagboek. Die oomblik van wraak het aangebreek. Ek gaan n skikking op Willem afdwing of sy vaderskap van n baster kind word aan die groot klok opgehang. Die trust het vir my en Bernard volmag gegee om voort te gaan met my planne. Ek kan nie wag om Willem Roets se gesig te sien nie. Vir my gaan dit n soete oomblik wees en gaan ek en Hans ons belofte nakom dat Boskop weer die Struwigs se plaas gaan wees. Die wiel het gedraai.
Dit lyk nie vir my of Hans op hierdie stadium gaan bedank om plaas toe te kom nie. Hy geniet sy werk en sal ek en Bernard die boerdery moet gaan behartig as Boskop weer in ons hande is. Ek gee nie om nie want ek het in hierdie paar maande agter gekom dat Bernard nie werklik n dorpsjapie is nie. Hy is n man vir die veld en boerdery is in sy bloed soos die plaaslewe in my bloed is”.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed