Jongste aktiwiteit:

Gee my jou hand

Gee my jou hand

Jan-Hendrik maak sy oë stadig oop. Die aanbreek van die nuwe dag wys teen die gordyne in die kamer. In die skemer sien hy die vae lyne van die skildery teen die muur; die spieëltafel in die oorkantste hoek. Hy sien die blomme in die vaas wat sy skoondogter gister op die tafeltjie neergesit het. Sy is ‘n sorgsame, geduldige vrou. Hy hoor die geluid van die vleiloeries. Die klank van die mannetjie en wyfie wat in perfekte harmonie roep, stem hom altyd baie rustig. Hoe goed onthou hy nie skielik dat sy oupa eendag gesê het die mannetjie roep aanmekaar tot hy die wyfie kry wat met sy stem harmonieer. Dan is hulle lewenslank maats. Hy weet nie hoeveel waarheid daarin steek nie, en of sy Oupa vir hom ‘n lewensles wou leer nie, maar hy het altyd gedink dat die lewe baie minder kompleks sou wees as dit met mense ook so sou kon werk.
Die deur gaan op ‘n skrefie oop. Hy sien Vlekkie wat om die deur loer. Sy kyk na hom; onseker of sy mag nader kom. Hy weet dit word nie toegelaat dat sy op die beddens klim nie, maar hy skuif tog eenkant toe. Sy spring op die bed en lê styf teen hom aan. Ingedagte vryf hy die gladde oortjies. “Hoe lief kan ‘n mens nie vir so ‘n diertjie word nie,” dink hy en hy skuif die suurstofpypies in sy neus reg.
Hy is dankbaar die nag is verby. Die pyn het in vlae deur sy liggaam geskeur. Hy kon nie slaap nie. Het maar net so met sy toe oë gelê en na die naggeluide geluister. Die pille het nie gewerk nie. Hy wens die einde wil vinniger kom. Hy is moeg. Op twee en sewentig is hy nog relatief jonk, maar hy voel nie so nie. Daar was ‘n tyd dat hy nogal stewig gebou was. Maar nou sit sy oë agter in sy kop. Hy het maer geword. Die chemoterapie het hy gelos. Dit help tog nie. Sy kinders het gepraat en mooi gevra, maar hy wou niks verder weet nie. Hy is moeg gestoei. Wat moet gebeur, moet nou maar gebeur en klaar kry. Hy het geen wroeging om te sterf nie. ’n Vol lewe lê agter hom. Hy glo en vertrou dat sy geestelike boedel in orde is net soos sy testament en al sy ander dokumente wat hy lankal reeds in orde gekry het. Daar is egter net een ander ding wat hy nie kon regmaak nie, maar daaraan kan hy op hierdie laat stadium van sy lewe niks doen nie. Al die tyd in die wêreld sal dit nie ongedaan kan maak nie.
Die geroep van die bosduiwe dwing sy gedagtes weer in ‘n ander rigting. Sy vrou het altyd graag daarna geluister. Hermien. Hy sug. Hy was destyds verpletter toe sy in ‘n motorongeluk oorlede is. Hannes was nog nie eers in die skool nie. Dit was vir hulle almal ‘n baie moeilike tyd. Ja, sy lewe het vir lank stilgestaan. Hulle was baie lief vir mekaar. Hy en Hermien. Dit het lank gevat voordat sy lewe weer begin koers kry het. Die kinders het hom besig gehou. Hy was Ma en Pa vir hulle. Hy wou nie weer trou nie. Dit het vir hom nie reg gevoel nie en boonop wou hy nie sy kinders van hom vervreem nie. Twee seuns en ‘n dogter. Jan-Hendrik, vernoem na sy Pa van wie hy ook die naam dra. Petronel, weer, vernoem na sy skoonma. Hy is ‘n tradisievaste mens. Ander mense het allerhande opmerkings gemaak oor die gee van familiename, maar hy het vasgeskop. Sy kinders sou weet waar hulle wortels lê. Hulle het nie gedink hulle sou weer kinders hê nie, en toe uit die bloute is Hannes gebore. Sy skoonpa was uit sy vel van blydskap, want hy het nooit seuns gehad nie. Vier meisiekinders op ‘n ry, en toe het sy skoonma vasgeskop. Klein Hannes was die enigste kleinseun met sy skoonpa se name. Johannes Lodewikus Bredenkamp Fourie. Die “Bredenkamp” het hy op die ingewing van die oomblik bygesit. Dit was sy skoonpa se van. Hy wou hom so volledig as moontlik vernoem.
Hy kry die geur van koffie. Hy is dankbaar dat Jan-Hendrik, op aandrang van sy skoondogter, gesê het dat hy op die plaas moes kom bly toe hy sieker geword, en hy besluit het om nie voort te gaan met die behandeling nie. Vreemde mense gee nooit regtig so baie om nie. En boonop verpes hy die alewige troetelnaampies en verkleinwoordjies. “Oupatjie.” En hy is nie eers so danig oud nie. “Wil Oupatjie bietjie koffietjies hê? Wat van ‘n beskuitjietjie?” Hy kon dit nie meer uitstaan nie, maar het stilgebly. Hy wou nie die kinders verontrief nie. Hulle het hulle eie lewens om te lei. Hy kan egter nie genoeg dankie sê dat die kinders hom plaas toe gebring het nie.
‘n Vinger klop saggies aan die deur. “Binne!” sê hy moeg en Jan-Hendrik loer om die deur. “Is Pa al wakker? Lekker geslaap?” vra hy gemaak opgewek toe hy instap. Hy sit die skinkbord met twee koppies koffie en ‘n paar beskuite in ‘n bordjie op die tafeltjie langs die bed neer.
“Soos ‘n klip geslaap,” jok hy. Die kinders sal net onnodig op hol raak as hulle moet weet dat hy feitlik nie meer slaap nie.
“En as Vlekkie vanoggend op die bed is? Sy was soos blits by my verby toe ek vanoggend die agterdeur oopgesluit het.”
Hy kyk ingedagte na Vlekkie langs hom. “Los haar maar ‘n rukkie. Dis lekker as sy so teen my lê.”
“Kan ek vir Pa bietjie suiker ingooi?”
“Dankie, ja. Twee soos altyd. Roer ook sommer anders mors ek net weer die lakens vuil.” Jan-Hendrik help sy pa om bietjie meer regop teen die kussinge te sit. Daarna gooi hy twee lepels suiker in die koffie, roer dit en saam met ‘n beskuit, gee hy dit vir sy pa aan. Vlekkie kwispel met haar stert. Sy verwag ‘n stukkie beskuit.
“Is Pa orraait? Pa se oë lyk nie lekker vanoggend nie. Die kringe lyk donkerder. Slaap Pa regtig goed, of sê Pa maar net so?” Hy doop sy beskuit in die koffie.
“Ai ou seuna, die pyn maak my klaar,” ontwyk hy die vraag. Sy seun weet nie eintlik hoe om te reageer nie. Hy sê liewer niks, voel half verleë. Saam drink hulle hulle koffie en eet beskuit. Vlekkie spring af toe Jan-Hendrik vir haar ‘n stukkie beskuit op die vloer neersit.
Dis verder stil in die kamer. Orals is daar die bekende vroegoggend geluide. Die voëls in die tuin, die geluid van skottelgoed, ‘n pan wat klap, die stortdeur wat oop en toegaan, stortwater wat val en klein Jan-Hendrik wat dink niemand hoor hom in die stort sing nie. Ja, die Vader was vir hom goed. Ses kleinkinders waarvan drie sy naam het. Hy is dankbaar sy kinders sit die tradisie voort.
Jan-Hendrik sit sy koppie in die skinkbord neer. “Is Pa klaar? Kan ek maar die koppie vat?” Hy gee die koppie aan. Vlekkie spring weer op die bed. Jan-Hendrik sit met die koppie in sy hande, maar staan nie op om te loop soos gewoonlik nie. “Pa?” Hy kan sien daar is iets anders vanoggend. Jan-Hendrik draai die koppie om en om en om.
“Ja Seun?”
“Pa …….. daar is iets waaroor ek vanoggend met Pa moet praat.”
“Ja Seuna?”
“Pa, ek is bang as ek dit nie vanoggend doen nie, gaan ek dalk nie die kans kry nie. Elke oggend as ek hier in die gang afkom is ek bang dat Pa ….. wel …..”
“Dat ek dalk dood is?” help hy sy seun om die sin klaar te maak.
“Pa sê dit so gelate. Is Pa nie bang vir die dood nie?”
“Nee, Jan-Hendrik. Ek is nie bang nie. Dit sal eerder vir my ‘n uitkoms wees. Die pyn maak my klaar. Dis asof dit elke dag in felheid toeneem. Die pille help ook nie meer nie. Ek wil ook nie onder verdowing hier lê en nie weet wat om my aangaan nie. Maar ek is nie bang vir die dood nie.” Hy kyk na Jan-Hendrik. Daar is iets anders in die lug vandag. Iets wat aan sy seun knaag. “Wat is dit wat jy wil sê of vra, Jan-Hendrik. Jy wil beslis nie oor die weer praat nie.”
Jan-Hendrik kyk lank en aandagtig na sy pa. Hy sien die uitgeteerde liggaam. Sy pa wat altyd so energiek was. Vir alles kans gesien het. Sy pa wat soveel vir hulle opgeoffer het. Hy sien hoe sy pa se gesig vertrek en hy weet dat daar pyn is.
Sy pa leun effens terug teen die kussing. “Wat is dit Jan-Hendrik?” vra hy met ‘n steun.
“Pa, Pa moet nou asseblief nie sleg dink nie. Maar daar is iets wat my vir baie jare al pla. Ek weet net nie mooi hoe om dit te sê nie.”
“Sê dit soos dit kom, Seuna. Laat die praat kom. Moenie dat daar dinge ongesê bly nie. Ons weet nie hoeveel tyd daar vir ons oor is nie.’’
Jan-Hendrik sit die koppie neer. Hy kyk sy Pa in die oë. “Pa, toe ek klein was, het ek iets agtergekom wat my …. wel …… soms het dit my baie ongelukkig gemaak. Ander kere het ek weer gedink ek verbeel my, maar dan was daar kere …… ” Hy bly stil en kyk na die koppie wat hy om en om draai. Dan kyk hy op. “Pa, dit het baie keer vir my gevoel asof daar ‘n afgrond tussen my en Pa was. Ek kon nie by Pa uitkom nie. Dit was asof ek nie Pa se oudste kind was nie.”
“Jan-Hendrik?”
“Daar is veronderstel om ‘n baie hegte band te wees tussen ‘n pa en sy seun, maar ek het dit nooit so ervaar nie. Ek was baie keer so jaloers as ek gesien het hoe Pa met Petronel praat. Met haar speel. Haar troetel. Toe Hannes gebore is, was ek al uit die huis uit. Maar ek kon nie help om te sien dat dit waarna ek gesmag het, my nie beskore was nie. Ek was; ek is ….. ‘n eenkantkind, Pa! Hoekom? Is daar iets wat ek nie weet nie, Pa?” Daar is ‘n angstigheid in hom. “Pa??”
Hy probeer so gemaklik teen die kussings sit as moontlik. “Jan-Hendrik,” sê hy terwyl hy weer Vlekkie se ore vryf, “Jan-Hendrik, ek is so dankbaar dat jy die saak aanroer. Ek het nie geweet hoe om dit te doen nie. Weet een ding. Ek is vir jou net so lief as wat ek vir Petronel en vir Hannes is. Maar hierdie saak waarvan jy praat, is vir my ‘n stuk hartseer waarvan niemand ooit geweet het nie en waarmee ek vir baie jare mee moes saamleef. Ergste van alles is; ek dink ek was die oorsaak van my eie pyn en ek het nie geweet hoe om dit reg te stel nie. Jy is die eerste een met wie ek vandag daaroor praat.”
Jan-Hendrik frons. “Pa?”
“Hoor nou wat ek vandag vir jou sê: nooit ooit moet jy toelaat dat iets of iemand tussen jou en jou kinders; veral tussen jou en jou seuns, kom nie. Niemand mag jou plek inneem nie. Nie nou nie, nie later nie; nooit nie! Jý moet hulle held wees.” sê hy driftig en met klem op elke woord. Hy maak sy oë toe. Wag dat die pyn ‘n bietjie skiet gee en hy bietjie asem in sy longe het voordat hy weer praat. “Toe jy gebore is, was ek uit my vel van blydskap. ‘‘n Seun is ‘n geskenk van die Here’ staan daar in die Bybel geskryf. Ek was bly. Ek, was, só, bly. Ongelukkig het ek jou Oupa Hannes toegelaat om my plek in jou lewe in te neem.”
“Pa? Ek verstaan nou nie mooi nie. Oupa Hannes?” Daar is ‘n duisend vraagtekens op Jan-Hendrik se gesig.
“Ja, Jan-Hendrik, toe jy gebore is, was jy vir hom die seun wat hy nooit gehad het, en nooit sou hê nie. Jy was sy alles. Jy was die oudste kleinkind; ‘n seun. Jou Oupa se oogappel. Jy kon niks verkeerd doen nie. Hy het jou geleer perd ry; trekker bestuur; kettie skiet. Hy was by toe jy die eerste duif met die windbuks geklits het; toe jy jou eerste kalf uitgesoek het. Ek het teruggestaan en gedink: ‘Hy is oud. Hy sal nie vir altyd lewe nie. Wanneer hy die dag dood is, sal ek outomaties weer my plek in jou lewe inneem.’ Help my ….. om bietjie regopper te sit ….. asseblief.” Hy kreun liggies as Jan-Hendrik die kussings agter sy rug uitpof en agter sy rug inskuif. “So ja. Dankie. Dit voel beter,” sê hy half uitasem. “Ek het gedink dat ek na jou Oupa Hannes se dood ‘n pa kon wees vir jou. Maar dit het nie so uitgewerk nie. In dié lewe is níks vanselfsprekend nie. Na sy dood, het jy ‘n pa gekry by jou Oupa Jan-Hendrik. Ek het stadigaan begin besef dat ek jou vir altyd verloor het die dag toe ek vir jou Oupa Hannes teruggestaan het. Ek wou so graag saam met jou gaan rugby kyk. Gaan jag. Pa en seun dinge saam met jou gedoen het. Maar as ek begin vra, dan het ek moes hoor jy het klaar ander goed met wie ookal gereël. Daar was nie regtig meer vir my ‘n plek in jou lewe nie. Altans, dis hoe dit vir my gevoel het. Dis hoe ek dit ervaar het. My plek het ek vrywillig tydelik afgestaan en gedink ek sal dit weer eendag permanent terugkry. Maar dit het net nooit gebeur nie. Dis nie dat ek nie vir jou lief was nie, inteendeel. Jy was net so ver. So, onbereikbaar, ver. Daar was wel dinge wat ons saam gedoen het, maar dit was min. Daardie herinneringe koester ek soos kosbare skatte. Ek verwyt jou nie, Seuna. Ek verwyt jou glad nie, verstaan my nie verkeerd nie. Ek verwyt mysélf vir seker die grootste verlies van my lewe. Selfs groter as jou ma se dood. Ek het jou verloor, maar jy het steeds gelewe. En ek kon dit nooit, ooit weer regmaak nie.” Hy maak sy oë toe. Sy bors dein op en neer. Hy voel so uit asem.
“Hoekom het Pa hoegenaamd toegelaat dat Oupa Pa se plek inneem?” Daar is ‘n paar oomblikke stilte.
“Jan-Hendrik; ja; …. jou Ouma het gesê sy sal na jou kyk. Ons sou nie ‘n dagmoeder moes soek nie. En dit was vir my en jou ma goed. ‘n Mens hoor soveel stories wat by dagsorg-sentrums gebeur. Ons sou gemoedsrus hê. Jy sou in veilige hande wees. In die oggend het ons jou daar op die plaas gaan aflaai en in die middae na werk het ons jou weer gaan haal. Jy was meer op die plaas as by die huis. Soms, …. soms naweke ook. Dit maak nie saak hoe ons gepraat het nie, die plaas was jou lewe. Nou nog. Jy is ‘n boer in murg en been. As ek iets gesê het, moes ek baie keer hoor ‘maar Oupa sê só’ of ‘Oupa maak só’. Jou oupa was jou held, en ek kon nie met hom kompeteer nie. Ek was tussen twee vure. Òf ek eis jou vir myself op en vernietig ‘n baie hegte en mooi verhouding, òf ek deel jou met iemand wat nooit iemand soos jy in sy lewe gehad het nie. Belangriker nog; ek wou jou nie voor ‘n keuse stel nie. Jan-Hendrik; ek was ….. ek was bang …. ek is die ….. die verloorder.” Hy maak weer sy oë toe. Wag dat die asem terugkom. Na ‘n rukkie maak hy weer sy oë oop. “Gee my jou hand, Jan-Hendrik.”
Jan-Hendrik gaan sit weer op die bed langs sy pa. Hy vat die benerige hande in syne vas. “Ons het albei so baie verloor, Pa. So, so, baie.” Hy baklei teen emosies wat hom wil oorweldig.
“Veg vir wat joune is, Jan-Hendrik. Moenie terugstaan nie. Ek is lief vir jou, my kind. Jan-Hendrik, ek is so baie, baie lief vir jou,” sê hy in ‘n skaars hoorbare fluisterstem.
Jan-Hendrik vryf die benerige hande. “Dankie Pa. En ek is lief vir Pa. Was nog altyd. Ek is bly ek het die moed gehad om te vra. Dit sou my lewenslank gepla het as ek nie met Pa oor die ding gepraat het nie.”
“Ek is jammer …. dat ek jou ….. afgeskeep het, Seuna! So …. jam ….. mer! Ek is ….. net ….. bly ek.kan dit ….. ook nou …. agter my sit.” kom dit hortend. Sy asem voel skielik vlak. Hy hoes. Dit voel asof daar nie asem in sy longe kom nie. Hy hyg. Een keer, die tweede keer, die derde keer. Hy sien hoe Jan-Hendrik vervaard deur toe hardloop. Vlekkie lek sy gesig. Hy voel die nat tongetjie, maar dit pla hom nie. Die kussings voel so sag. Die pyn kom ook nie meer in sulke vlae nie. Dit voel anders. Die lyf so sonder pyn. Hy is vaagweg bewus daarvan dat iemand hom regop help en op sy rug slaan. Hy voel hoe hy wegdryf. Weg en weg en weg.
“Hermien? Wat maak jy hier?” Sy asem is nie meer so vlak nie. Die pyn is vreemd weg. Hy voel so lig. Soos wanneer hy gedroom het hy vlieg. “Hermien? Jy lyk so anders? Soos toe jy jonk was? Die blink in jou oë. Jou glimlag. Hermien? Gee my jou hand, Hermien.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed