
Dogters van Afrika
daar is stories in jou oë
wat vertel van klein Krotoa
dogter van die Khoikhoi stam –
strandlopers aan die kaap –
vierhonderd jaar gelede al tot hottentot versaak
maar slim was jy en mooi
vir die Hollanders van die kaap
by hulle het jy opgegroei
selfs hul taal het jy leer praat
jou waarde díe van tolk want jy was ‘n hottentot-nooi
van heidensweë verlos
is jy – as christen –
herdoop tot Eva van die kaap
maar by joú mense was jy khoi
met jou kopdoek en karos
Van Meerhof het met jou getrou
want hy’t jou liefgehad
vir Eva was dit goeie tye daardie jare in die kaap
jou kinders het vermeerder soos sade in die wind
ja Eva, jy’s die stammoeder van die Afrikaner-kind
maar die terugslae in jou lewe
was helaas vir jou te veel
jou geliefde dood, jou kinders wees,
die eensaamheid te groot,
weer eens as hottentot deur die hollanders verstoot
maar as ek in jou oë kyk
verby pigment en wangprofiel
sien ek daar my eie siel,
jou bloed vloei in my are
ons is dogters van dieselfde aarde
ja Eva, iewers het die dice geval
iewers tussen jou en my
ons lot is nie deur ons bepaal
enkelinge is ons gebore
onder die son van afrika
6 Kommentare
-
-
Viooltjie
Goed gedoen, Estelle. Ja, ons is almal dogters van Afrika :-)
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carla Visser
Sjoe Estelle, ek is mal hieroor! Baie mooi geskryf.