
Erongoberg se blou
iewers tussen pers en grou
huiwer erongoberg se blou
in die verte net ‘n silhoeët
‘n hersenskim, ‘n skaduweeportret
sagblou uitgespoelde glas,
deur die see uitgewas
mistieke diep geheime
lê in ravyne opgesluit,
waar das en klipbok ligvoets loop
moet ek en jy met onseker tred
ons spore trap in die vae hoop
om iets hier wys te word
diep verborge antwoorde
op kataklismiese gebeure
bly slegs eggos van ons vrae
legkaart-stories wat ons las
in die hoop om dinge te maak pas
-wie’t rotse, reuse balle
soos albasters rondgestrooi,
wie’t gewoon in grotte en skeure
en stories geskryf op klipmure,
wie het rotsformasies soos figure
uit die ruwe rots gekap
– ‘n olifant, renosterkop, ‘n kaart van Afrika
wasig blou tuur die erongos
oor die kaal, verlate vlakte
hul geheime in ‘n waas gehul
stories uit ‘n vroeër era
geskryf in rotsgravure
vae antwoorde slegs eggos
van ‘n baie vêr verlede
4 Kommentare
-
-
Koekekranka
PRAGTIG!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek