Ek onthou… (Goud) 246 woorde
Gevoelsmens wat ek is, drink ek reeds van kleintyd af alles wat om my gebeur, in met my hele wese.
Die tyd waarvan ek die meeste en mooiste herinneringe koester in hierdie nostalgiese siel van my, is Kersfees. Ek klim baie maklik in my kinderskoene en beleef weer die verwondering, vreugde en magic (my kinderbeskrywing van Kersfees) asof ek gister nog ‘n kind was.
Ek onthou die heerlike rilling wat deur my gespeel het wanneer ek verby die kersboom met al die geskenke gestap het. Ek beleef weer die opwinding van in die bed klim met die wete dat dit Kersfees is die volgende dag. Soms het ons wakker gebly tot middernag en dan geskenke oopgemaak. Ander tye het ons die volgende oggend wakker geword met geskenke op die voetenend van ons beddens.
Kersoggende het ek die lug ‘n tikkie blouer, die wolke ‘n skakering witter en die son ‘n aks warmer as gewoonlik beleef. Dit het soms vir my gevoel asof ek sweef soos ‘n engel deur die tuin, terwyl ek Kersliedere neurie. Ek onthou…
As ma het ek probeer om dieselfde verwondering, vreugde en magic te bewerkstellig vir my kinders en mee te help dat hulle Kersfees jaarliks beleef as die mooi en geseënde tyd wat dit is. Ek het egter deurentyd in gedagte gehou dat hulle dit op hulle eie manier ervaar het, soos kinders doen en vandag weer op hulle beurt, só onthou.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek