EK STUUR VIR JOU ‘N N (natuur) -POS BRIEFIE
Ek stuur vir jou ‘n n-pos briefie
goud getint met die son se oorskot skilfers
en die volmaan se oopbek lag
by my kamervenster in
Ek klik en stuur ‘n ja-woord toe die son my nooi
om te gaan kyk waar hy
homself in die nag se skadu’s
in die krake van die randjies bêre
Ek stuur vir jou ‘n n-pos briefie
met die dag se geleende uurglas in my hand
goudgeel refleksies
wat branderplank op die rippels
by die klipdam waters ry
Ek stuur vir jou ‘n n-pos briefie
moeg-lam agter stofpad dwarrelwinde aangedraf
om my n-pos briefie
op sy sandkorrel rug na jou te dra
Ek stuur vir jou ‘n n-pos briefie,
verpak in moerbyblare
met ‘n duiker voetspoorseël
en ‘n spinnerak valskerm
as die wind my n-pos briefie na jou dra
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
pragtig louie