Ek Wonder
Ek wonder of hy weet
presies hoe jy jou oggendkoffie drink,
en weet hy dis twee suiker
en ‘n biejie net vir liefde?
Ken hy die sagte plekkie
in jou nek, waar ek jou altyd
soggens sag sou soen
om jou uit
droomland t’rug te roep?
Weet hy om jou
styf vas te hou
wanneer drome snags
jou lyf uit bang laat bewe?
Weet hy om jou winterkoue voete
met sy eie bene te verwarm?
Ek wonder of hy weet dat
branders wat ontstuimig
teen die rotse slaan
jou siel laat rustig word,
dat spookasem jou laat lag
en draai-roomys jou oë
sag laat word soos
‘n boklam aan haar ma se speen?
Ek wonder of hy weet jou plekkie
in my hart is altyd leeg.
Ek wonder of hy weet
‘n somer sonder jou
is erger as die winterkou?
Ek wonder, is hy ook so lief vir jou?
Ek wonder….
© Anton Bosch 21/08/2017
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Hierdie is 'n pragtige stukkie werk, wat die luisteraar laat stil staan en net die eenvoudige goed van 'n gedeelde liefde te waardeer. Jy weet dit is 'n liefdesverhouding wat uitgerafel het wat die fokus is en dat die verteller wonder of sy geliefde ook so bekend is aan haar nuwe beminde? Dit is hierdie bekendheid wat liefde so mooi maak. Om te weet die geliefde drink twee suikers, dat spookasem 'n kinderlike vreugde in haar opwek, dat sy van draairoomys hou en hoe om koue voete warm te maak, vertel die luisteraar dat daar 'n ligte, dartellende, speelse luim in die verhouding was. Mens kan nie anders as om saggies beamend te glimlag. Dit gee mens 'n tevredenheid van aardse kinderlike liefde soos mens dit in elke dag se kom en gaan deel. Maar daar is ook 'n dieper ken om te weet wat jou geliefde se vrese is en hoe om daardie storms te kalmeer. Ek moet op hierdie punt aanhaal "dat branders wat onstuimig teen rotse slaan jou siel rustig maak." Dis die suggestie en ironie wat hier neergelê is, wat dit briljant maak! Die onstuimige branders simboliseer die storms in die geliefde se siel, maar die ironie is dat juis die onstuimigheid van die see oor die rotse die geliefde se sielestorms bedaar. In die beelde vergeet mens amper dat jy al reeds by die inval van die gedig geimpliseer het, dat jou geliefde weg is. Asof jy die luisteraar wil herinner vergelyk jy haar afwesigheid met 'n leegte in jou hart, wat selfs die warm somersdag soos 'n winter laat voel. Die eenvoudige wonder "of hy ook so lief is vir jou?" Is net 'n skoon uitering van verlange. Tussen die lyne van die verteller se eie hartseer, is daar 'n stil beroep op die luisteraar om hierdie elke dag se gebeure te waardeer in die kosbaarheid van die bedoeling. Dit is 'n oproep om die ligtelike speelse aspek van ware liefde lewend te hou, maar ook om die dieper sy daarvan te verstaan en te erken. Dit sê ware liefde is nie opgesmuk in styl en praal, maar is eenvoudig en ongekunsteld. Die vraag is, ken jy, my geliefde, die waarde van ware liefde en ervaar jy dit nou by jou nuwe liefde? Uitmuntend!