Geldmaak beloftes.
Geldmaak beloftes.
Ons leef in ’n wêreld waar sukses blink en aanloklik geadverteer word, soos ’n kitsoplossing vir al jou probleme. Veral op platforms soos sosiale media, waar sogenaamde digitale bemarkers (of “aanlyn digitale bemarkingsghoeroes”) hul mooi beloftes soos konfetti strooi. Hulle vertel jou hoe maklik dit is om duisende rande te maak, wys jou prente van luukse motors en eksotiese bestemmings, en verseker jou dat jy net hul stelsel moet volg.
Maar een vraag bly by my spook: As jy regtig so suksesvol is, waarom moet jy honderde video’s per maand maak om ander mense daarvan te oortuig?
Die Ironie.
Ek het onlangs een spesifieke vrou se profiel raakgesien. Sy plaas video-opnames, letterlik twee tot drie keer per dag, en haar boodskap is altyd dieselfde: “Sluit aan, maak geld, wees vry.” Op die oog af klink dit inspirerend, maar hoe opreg is dit as jy dit so aanhoudend in mense se kele wil afdruk? As jy werklik sulke astronomiese winste maak, hoekom gebruik jy nie jou vrye tyd om jou sukses te geniet nie?
Dit laat my wonder of hierdie digitale veldtogte nie dalk net ’n rooskleurige rookskerm is nie. Dikwels verkoop hulle nie ’n strategie nie, maar ’n illusie. Hulle nooi jou nie net uit om ryk te word nie, maar ook om deel te word van ’n oneindige sirkel van bemarking – ’n tipiese piramide waar die sukses van een persoon afhang van hoeveel ander mense hulle kan oortuig.
Wanneer Bemarking ’n Drukskans Word.
Digitale bemarking het ‘n magtige instrument geword, maar daar is ’n dun lyn tussen inspirasie en oordondering. Die konstante vloed van video’s en plasings voel soos ’n desperate poging om aanvaarding en vertroue af te dwing.
Dit sal werk, want mense soek altyd hoop. Hulle wil glo dat daar ’n maklike uitweg is. Maar die waarheid is dat sukses nie in paar minute aan jou verkoop kan word nie. Dit verg tyd, toewyding en werklike vaardighede – iets wat nie deur honderde generiese video’s vervang kan word nie.
Valse Verwagtinge.
Hierdie aanlyn ghoeroes skep ’n blink droom wat dikwels vals is. Die spreekwoordelike wortel word voor jou neus gehou. Hulle belowe jou dat jy “ryk” sal word, maar die prys wat jy betaal, is nie net jou geld nie – dit is ook jou tyd, jou hoop, en soms jou selfvertroue.
As jy aan een van hierdie stelsels dink, vra jouself:
* Wie baat werklik daarby?
* Het hulle bewese resultate?
* Lyk hierdie “sukses” volhoubaar, of is dit net nog ’n verkoopsfoefie?
Die Alternatief: Eerlikheid en Kritiese Denke
Ons moet ophou glo dat sukses ’n voorafverpakte produk is. Die werklikheid is dat ware sukses nie in ’n aantal oordrewe advertensies lê nie, maar in regte werk. Digitale bemarking kan ’n wonderlike hulpmiddel wees as dit met integriteit en werklike waarde gebruik word, nie as ’n manipulerende taktiek nie.
Die volgende keer as jy oorweldig voel deur iemand wat honderde video’s plaas, onthou: Wat waardevol is, hoef nie aanhoudend verkoop te word nie. Waarde verkoop homself.
©MarleneErasmus
30/11/2024
(502 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek