Jongste aktiwiteit:

Nanag van die stomp skêr

Nanag van die stomp skêr.

 

Die krakende houtvloer eggo nog in Ninke se ore, toe die kamerdeur stadig, krakend oop swaai.

 

Versigtig trek sy die laken tot onder haar ken en knip-knip haar oë om beter te kan fokus in die maanverligte slaapkamer. Dis 03:00 in die oggend. In die donker deurraam neem die vae lyne van ‘n skimagtige figuur gestalte aan.

 

Die gestalte se asemhaling weergalm bonatuurlik deur die vertrek, sodat Ninke impulsief haar hande oor haar ore druk. Die geluid daarvan is skokkend bekend.

 

Haar ouma het emfiseem gehad. Ninke onthou maar te goed die vinnige, hortende asemhaling, die kroniese hoesie en die lug deur haar slymgevulde longe gefluit het.

 

Die krom figuur met onmiskenbare voetsleep, slof stadig, treetjie vir treetjie nader. Ninke ruik die vrot asem wat in swaar walms oor haar neerdaal. Dit pers die lug uit haar longe en stoot haar bykans-verteerde aandete in haar slukpyp op.

 

Die wete kom lê met beslistheid in haar … hierdie nagtelike, bonatuurlike besoeker is beslis haar oorlede ouma! Haar ouma wat reeds twee jaar gelede gesterf het.

 

Koue sweet slaan oor Ninke se liggaam uit. Sy bewe van angs.

 

Halfpad op pad na Ninke se bed, gaan staan die wese langs die spieëltafel. ’n Benerige, blou, klouagtige hand met lang, hekserige naels, neem die skêr wat daarop lê.

 

Met ’n dramatiese beweging, knip sy ’n stukkie vlees aan haar eie binne-arm af. Ninke gil van die pyn wanneer sy ook aan haar arm, op dieselfde plek, voel hoe daar deur die vel gesny word. Bloed sypel stadig uit Ninke se binne-arm waar ’n wond uit die niet verskyn.

 

Dit herinner Ninke aan die afgryslike dag waarop sy in haar ouma se kamer gekom het. Ouma het tjoepstil daar gelê. Sy het nie asem gehaal nie.  “Ouma! Ouma!” het sy geroep. Ninke het haar aan die skouer gegryp en geskud, maar geen reaksie gekry nie. Daarna het sy haar hand uitgesteek en haar aan die binne-arm geknyp, vasbeslote om enige teken van lewe te vind … tevergeefs.

 

Hoe is dit moontlik? Kon haar ouma dan tog voel? Sy het dus nog gelewe!

 

Die besoeker se hoonlag sny deur murg en been.

 

“So jy onthou?” vra haar demoniese ouma met ’n skril, bewerige stem.

 

Sy lees my gedagtes, mymer Ninke.

 

“Ja, my liewe kind. Waar ek my bevind is daar niks wat ek nie kan sien of hoor nie,” antwoord haar ouma op Ninke se gedagtes.

 

Weer lig haar blou klou die skêr. In afgryse aanskou Ninke hoe haar ouma hierdie keer haar tong uit steek. Sy lig die skêr tot voor haar oopgesperde mond en knip die punt daarvan met een beweging af. Dit val met ’n plof geluid op die kamervloer.

 

Ninke proe die metaal smaak van bloed voordat die pyn van die wond aan haar tong in haar brein registreer. Sy vlieg regop op in haar bed, onseker of sy die bloed moet sluk of uitspoeg. Dit loop in dun straaltjies by haar mondhoeke af en drup op haar nagklere.

 

Trane van vrees loop vrylik oor Ninke se wange.

 

Wanneer sy haar mond oopmaak om te gil, val die punt van haar tong op die spierwit laken. Bloed sypel stadig uit die tongpunt om ’n donker vlek daarop te laat. Versteen staar Ninke daarna.

 

Haar ouma gee nog ’n skuifeltree nader aan die bed. Dis asof Ninke uit ’n droom ontwaak. Sy spring van die bed af om afstand tussen haar en haar ouma te kry. Sy gaan staan angsbevange met haar rug teen die verste muur.

 

“Here!”

 

Haar smeekroep is tevergeefs en laat haar tong van nuuts af bloei.

 

“Here! Here! Here!” kom daar opeens stemme van alle kante.

 

Dit voel vir Ninke of sy besig is om mal te raak. Sy kyk na die mure en sien gesigte daarin van mans, vrouens en kinders van alle ouderdomme. Hul lyk soos reliëfwerk vasgevang in die pleister van die muur.

 

“Nou wil jy bid? Noudat jy vervul is met vrees? Waar was jou gebede toe ek hygend na asem op my sterfbed gelê het? ” vra haar ouma kortasem.

 

“Verstaan tog Ouma, ek was net ’n kind,” lispel sy gepynig. Die punt van haar tong bloei onverpoosd.

 

“Ek was net ’n kind! Ek was net ’n kind! Ek was net ’n kind!” weergalm dit in die kamer.

Met rukkende bewegings braak Ninke van die wrang smaak in haar mond. Die bloed vorm psigedeliese krabbelpatrone in die kots op die matjie voor haar bed. Dis bykans fassinerend.

 

Ninke word na die werklikheid teruggeruk wanneer haar ouma weer beweeg.

 

Die blou hande word voor haar uitgestrek en sy draai dit met handpalms na bo. Stadig lig sy haar hande op.

 

Verstom voel Ninke hoe haar voete die grond verlaat. ’n Allesoorheersende vrees neem van haar besit, sy gryp wild om haar rond terwyl haar voete skop-skop.  Sy kry die gordyn beet; dit skeur wanneer haar ouma haar tot teen die plafon oplig en horisontaal maneuvreer tot reg bokant haar bed met haar gesig na onder.

 

Met afsku staar Ninke na die gemors onder haar. Die kots, die bloed, die blou tong en die verwronge, afstootlike postuur van haar ouma.

 

“Sit my neer, asseblief Ouma!” gil Ninke.

 

“Sit my neer. Sit my neer. Sit my neer,” hoor sy die mure roep.

 

“Ag, hoe aandoenlik,” smaal haar ouma, hande steeds omhoog.

 

Midde haar angs onthou sy die dag toe haar ouma haar op haar sesde verjaardag opgetel het. Sy onthou die vrot, rookasem in haar gesig en hoe sy gespartel het om daarvan weg te kom.

 

“O, so nou het jy allerlei verskonings hoekom jy my vermy het. Nou kry my asem die skuld,” verweer die weersinwekkende vrou met die halwe tong.

 

Die volgende oomblik laat val sy haar hande slap langs haar sye. Ninke val plat op haar maag op die bed met haar gesig in die kussing. Rou snikke ruk deur haar tengerige liggaam wanneer sy haar omdraai en weer van die bed af klim, hierdie keer staan sy ’n entjie van die muur af, gedagtig aan die geeste daarin.

 

Ninke voel hoe die fyn haartjies op haar arms rys by die blote gedagte aan die mure vol geeste.

 

Stadig kom haar ouma om die bed gestap, die skêr flits steeds in haar hand.

 

Ninke spring bo-op en oor haar bed om by die deur uit te vlug.

 

Met ’n oorverdowende knal, klap die deur voor haar gesig toe. Sy ruk en pluk aan die deurknop, maar dit beweeg nie ’n aks nie.

Ninke loer oor haar skouer. Haar ouma staan reg agter haar.

 

“Nee-nee … so maklik gaan jy nie wegkom nie, Kleintjie,” smaal sy.

 

Ninke snik magteloos.

 

Die geeste in die mure maak weer hul metafisiese verskyning en snik almal saam met haar. Die kakofonie van klanke is opeens te veel vir haar, sy voel hoe die swart newels haar bewussyn verswelg.

 

Haar bene swik onder haar en sy sak inmekaar met haar rug teen die deur. Wanneer sy haar oë oop maak, sit sy in ’n verwese bondeltjie, plat op die vloer. Sy druk haar vuis in haar mond om die rou snikke te keer; bang dat die geeste weer te voorskyn sal kom van agter die mure.

 

Sy kyk vreesbevange op na haar ouma voor haar, wat nou die skêr onheilspellend teen haar oumenspols hou.

 

“Nee, asseblief, Ouma spaar my lewe, moet dit nie doen nie!” roep Ninke uit.

 

“Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie,” kom die poltergeesstemme van agter die mure.

 

Sy voel die koue, skerp lem op haar linkerpols wanneer die ouvrou deur die plooierige vel begin sny met die skêr se lem. Daar kom geen bloed by die ouvrou se pols uit nie, maar Ninke se bloed spuit ’n boog deur die lug.

 

“Eina!” gil Ninke en gryp met haar regterhand na waar die sny langer en langer word al teen haar arm op.

 

“Eina! Eina! Eina!” skree die stemme uit die muur.

 

Die ouvrou draai om en skuifel tot waar die stuk gordyn wat afgeskeur het, op die bed lê. Die klou-hande tel dit op.

 

Sy drapeer dit vermaaklik om haar oumensnek, oorkruis die punte daarvan en begin dit al hoe stywer trek. Ninke voel hoe haar lugweë toegedruk word. Sy los die wond wat sy probeer toe druk en gryp vervaard na haar keel. Sy is besig om te versmoor.

 

Daar is net een uitweg, sy moet die gordynstrook by haar ouma probeer af neem.

 

Met ysere wil staan sy op en storm met mening op haar ouma af. Sy kry die gordynstrook beet en ruk daaraan. Dit trek egter stywer om haar ouma se nek en syself voel die effek daarvan om haar eie. Sy kry nog minder suurstof in haar longe.

 

Die bloed pols by die wond uit haar arm van die gestoei om die gordynstrook te probeer afneem en ’n euforiese gevoel neem geleidelik van haar besit … bloedverlies, registreer haar brein…

 

“En die hemel weet ek was lief vir jou. Sal ek jou nooit vas kan hou,” dring die musiek van my selfoon-alarm tot my slaapbenewelde brein deur. Die son skyn deur my venster. Ek lig my linkerarm op. Daar is geen teken van ’n wond nie.

 

©Retha van Deventer, November 2024

Woordtelling: 1540

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed