Sing my
Sing my – Brons
Die kluitklap op die kissie, so wit soos my gesig, weergalm in my baarmoeder waar ek reeds die nuwe lewe voel.
“O Here, gee my krag? Ek moet U nuwe skepsel net so lief hê, soos wat ek vir Christelle was?”
Ek voel die son se strale oor my arms, kaal soos my hart. ‘n Sensoriese troos, ‘n Hêlios-kus. “Sy sal die son in haar dra,” mymer ek, onbewus van die begrafnisgangers se meewarige kyke.
Vier maande later is sy gebore. Haartjies met sonvonke daarin … asof die gode my versugting gehoor het. Hemelblou oë, soos my liefling in die hemel.
Ek stort my liefde in oorvloed uit op Retha, probeer sodoende die seer in my stil. Sy floreer daarop en word ‘n pragtige, liefdevolle, sonskynkind.
“’n Sonstraal, ‘n sonstraal, Jesus roep my vir ‘n sonstraal…” sing Retha. Ek hoef nooit te roep om te weet waar sy haar bevind nie, as sy nie praat nie, sing sy.
“Mamma, sal Mam gróót asseblief vir my ‘n geel matriekafskeidrok maak?” kom Retha se versoek. My dogter raak groot. Die skeidingsangs wil-wil aan my hart kom krap. Ek maak die rok en voel weer die warm namiddagsonnetjie op my skouers. Hêlios-troos.
Retha lewe.
*
Elke steek van die graaf in die grond, om my kind se kis toe te gooi, deurpriem my hart.
“O God, wat het ek gesondig? Ek het U gevra vir nog ‘n kind, maar nie in ruil vir die een wat U reeds aan ons gegee het nie,” worstel ek met die Skepper. Dis na middernag. My vrou het uiteindelik aan die slaap geraak. Dit is goed. Sy is swanger met ons tweede kind. Oor vier maande moet sy geboorte skenk.
Ek staar na die sekelmaan. “Klein bietjie maan, kyk Pappa,” hoor ek weer haar engelstem, nou ewig stil. Die Here beveel Artemis om ‘n maanligstraal na my te stuur. Dit kom lê vertroostend koel in die traan op my wang. Die trane word meer, vorm ‘n straaltjie wat hartseer deur my baard drup-drup loop. Dit kon net sowel Christelle se vingertjies wees wat hier vroetel. My rou kreet skeur die nag. “My kind is dood! Dood, hoor julle? Dood…”
Die maande kom en gaan. Hartseer ten spyt, groei die lewe in Anna tot volrond. Op 21 April 1970 skenk sy lewe aan Retha (haar naam beteken: kind van die Lig).
Dis drie jaar later, Retha sit op my skoot. Die aand is Karoo-stil. “Pappa, kyk! Dis ‘n boeppens maan,” sê sy met haar kop op my skouer, net voordat sy aan die slaap raak. Artemis se glinster weerkaats op haar blonde hare. My hart is vol. “Dankie Here, vir hierdie kind. Dankie vir die volmaan,” fluister ek.
Ek sit in die skoolsaal. Retha is in matriek, volgende jaar gaan sy Stellenbosch toe. Kan ‘n man se hart terselfdertyd so gelukkig en so seer voel? Die musiekkonsert herinner my aan Christelle. Sy was so lief daarvoor om vir haar ongebore sussie te sing.
Retha se suiwer sopraanstem ruk my terug na die hede: “… vlieg oor die bome met my drome, kyk hoe glinster die maan…”
*
Iets is fout. Mamma se hart klop ineens te vinnig.
Dit doef-doef in my ore, hier waar ek in haar baarmoeder is. Haar gille vibreer deur my: ”Christelle is dood! Christelle is dood!”
Dood? Wat is dit? Hier waar ek is, ken ek net groei en lewe.
Ek wag dat Christelle my voetjies moet kom kielie deur Mamma se magie. Dis al aand, sy het ook nog nie vir my kom sing nie. Gisteraand het sy dan nog vir my kom leer sing: “Sterretjies wat skitter in die hemel blou, ek wonder o so dikwels of jul ooit onthou…” Sterretjies moet mooi wees. Sy sing so mooi.
Ek suig my duim, maar vanaand help dit nie. Ek draai my om in die vrugwater. My hart verlang na Christelle. Mamma het haar so gereeld vertel dat sy ‘n sussie gaan kry. Hulle gaan my Retha noem. Wat is dood?
Mamma huil, Pappa huil en Christelle is stil.
Vir maande werk ek hard om te groei en te lewe. Die baarmoeder druk my vas. Ek kan nie meer maklik beweeg nie. Ek verlang na Christelle se stem. Ek is gereed om te weet wat daar buite op my wag.
Dis 21 April 1970, ek groet Mamma, Pappa, die son, die maan, die sterre.
Ek huil, ek lag, ek praat, ek sing, want stilbly, is om dood te wees.
Ek mis Christelle…
(748 woorde)
©Retha van Deventer, November 2024.
Met eervolle vermelding aan die skeppers van bogenoemde musiek en opgedra aan my sussie, Christelle, wat voor my geboorte oorlede is.
Deel 1: Son: “’n Sonstraal, ‘n sonstraal, Jesus roep my vir ‘n sonstraal…”
Deel 2: Maan: “… vlieg oor die bome met my drome, kyk hoe glinster die maan…”
Deel 3: Sterre: “Sterretjies wat skitter in die hemel blou, ek wonder o so dikwels of jul ooit onthou…”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek