GOETERS WAT BETERDER IS AS DIE BESTE
GOETERS WAT BETERDER IS AS DIE BESTE
Lank gelede tydens daai Goddank-verby Satynlaken-dae het ek status, mag en ‘n stewige bankbalans in die palm van my hand gehad. Ja, Bokkie my babie – ‘I moved like Harlo in Monte Carlo and showed them what I’ve got. I got undressed by kings and seen somethings a woman aint suppose to see’….Ek was gewoond aan die beste en nou is ek beterder gewoond.
Enne nou is ek maar net die Queen van ‘n vuil (soms stink) koninkryk – my geliefde ou Ghwarriegat. Geen status, geen bankbalans. Wag – ek lieg nou die blou helemal van die hemel af; ek het steeds ‘n bankbalans, maar dis amptelik die manifes van die Looney Tune Convention – want jy lag jou dood as jy dit sien😁
Soos wat ek daai jare kon kies tussen dressed to kill (enne seker ook…for success) outfits – oorbekende name; ingevoerde skoene; als met pryse hoër as baie gewone mense se jaarlikse inkomste. En vandag pas my ganske klerekas in ‘n enkele tas.
Maar weet jy wat, Bokkie my babie; in my jean (gekoop by P.E.P Uitrusters, I will have you know) en T-hemp of een van my baie min ordentlike bloese voel my lyf gelukkig en my gees onbevange.
Ek het geken van peperduur restaurant kos met onuitspreeklike name wat die reuk van ryk en belangrik in jou keel afgedruk het – en waarom mense soveel blêrrie messe en vurke nodig het is toetentaal en al ‘n te groot gedagte vir my beperkte IK! Maar saam met ‘n vriendin by ‘n kombuistafel sit en teedrink uit my woefgesigbeker en brood met peanutbutter en jam eet; dit het seker nie soveel klas en status nie – maar dis ‘n stukkie Hemel wat kiekies kan maak binne-in jou hart. Nes kuier in ‘garage’ met cupcakes en tee Ek ken van loop op amper onbekostigbare persiese matte; die voel van marmer en die aanraak van ‘n egte Rembrandt. Maar groen gras, seesand, ‘n houtvloer se kraak (Hetetjie Peet, ek verlang na mooi ou Kaapland met sy berg en see) dis ‘n anderster, meer pryslose hartklop onder my kaal voete. Soos die voel van ‘n laslapkombers; die aanraak van ‘n vetkryt- prentjie geteken net vir jou. Rembrandt en sy cronies kan maar gaan doedoe!! Chanel No5, Opuim; en nou moet Shield roll on maar doen. Hoewel ek lief is vir Royal Secret parfuum; maar met Righ nie meer hier nie is dit so uit soos ‘n eerlike politikus! Maar die reuk van veldblomme (en Righ se old Spice) en die see; en bababoeier en…en…en…is liefdespaljas vir die dieperste diep van jou hele-ganske wees.
…Maar weet jy eers wat, Bokkie my babie; roomys is lekkerder as kaviaar en spookasem doen meer vir my siel as ‘n duur tjolit met ‘n onuitspreeklike naam wat soos ‘n vloekwoord klink. Ek’s seker maar die Villiage Idiot; maar om die GhwarriegatQueen te wees het sy perks; EN baie kere is daar goeters was beterder is as die beste.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag jou wees vandag Slowdance tussen die rou mistieka van geheime nog vasgevang in die Geboortekanaal van God.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.