Helmets up Goud 443 woorde
Claudine vleg die tou deur haar vingers. Links om, regs deur. Sy speel die video nou al vir die derde maal. How to… op youtube. Dan glip die punt deur die gat. Uiteindelik. ‘n Traan vlek die palm van haar hand.
Dit is vandag presies ‘n jaar gelede. Die seer voel soos gister. Sy en Kobus was nog kinderlik opgewonde oor die nuwe voetpad in hulle lewe. Was dit sy of Kobus? Sy kan die eerste dag op die ysterperd se rug nog so goed onthou. Hulle het die teerpad onder hulle sien verbyvlieg. Die klein verlate bospaaidjie het hulle na versteekte skatte gelei. Daar het hulle die ander ryers ontmoet. Sy en Kobus is gou in die binnekring aanvaar en ses maande daarna het Kobus met trots die klub se kenteken op sy rug gedra. Dalk was dit sy wat hom te veel aangepor het. Kobus wou nie eintlik aan ‘n groep behoort nie. Hy het dit geniet om alleen die onbekende plekkies op te soek. Dit was hulle saamtyd, alleentyd. Hulle, wegbreek van die samelewing, tyd.
Twaalf maande. Elke maand op die kalender afgemerk. Sy ruk-ruk aan die tou. Stewig. Die rooi sirkel in die sewende maand forseer ‘n glimlag op haar gesig. Hoekom Kobus? Sy kon nie meer saamry nie. Die dokter het aanbeveel dat sy haar eerder stil moet gedra. Hierdie keer sou sy luister. Die nuwe lewe sou alles verander. Dit was juis die probleem. Kobus het gemaklik geraak in die club. Die laatnag kuiers en wilde byeenkomste het sy tol ge-eis. Kobus het later weggebly. Meer na drank geruik. Onverskillige spoedgrense oorgesteek. Tot daardie dag.
Die oproep het net na een die oggend deurgekom. Daar was ‘n ongeluk. Kobus het op die nat teer gegly. Die ambulans was betyds maar ook te laat. By die begrafplaas het die ryers ‘n erewag gevorm. “Helmets up” terwyl die draers onder die boog deur beweeg. Die motorfiets enjins brullend terwyl die lykswa stadig vorentoe beweeg. Met haar hand beskermend teen haar maag het sy sy baadjie op die kis neergelê. Haar trane het saam met die kis in die oop graf gesak. Sy het haar rug op die klub se lede gedraai.
Claudine sleep die houtstoel nader. Die Jakaranda skud sy blomme oor haar toe sy die tou met een swaai oor die skuinstak swaai. Sy sluit haar oë. Daar is ‘n glimlag op haar gesig toe sy die stoel wegskop.
“Helmets up” terwyl die draers die kis op die oop graf neerlê. Twee grafte wat nou ‘n eenheid vorm. Twee grafte met een kleiner grafsteen in die middel en ‘n marmer engel wat haar vlerke oor die trio sprei.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek