my huis se mure kreun en span
en bult soos opgeblase wange
weens die opgegaarde gemors
van die rommelversamelaar
extraordinaire
stapels papiere tot teen die plafon
hou register van vergeelde flaters
hul hoeke gekrul en ink dalk verdof
maar binne bereik met effektiwiteit
wat nie eens dewey kan klop
wasbalie tot barstens gestop
met die vaal sweetpaktop van verhoudings
wat glad nie meer pas nie
ʼn verrekte t-hemp van opinies ontgroei
en drome deur dekades van onbruik ontrafel
druk toe jou neus vir laas vrydag se pasta
wat stink soos verrotte berou
oorgroei met swamme en ou-ou beloftes
by hul vervaldatums lankal verby
en die stokou gekrummelde vis
so bros soos my jeug se ambisies
en selfs die vergete sny pizza
(al is pizza partykeer net dit)
maar lente is tyd vir vernuwing
vir skoonmaak en uitsmyt en brand
daarom besluit ek nou: sommer môre
sleep ek die hele kaboedel na buite
en pak dit op ʼn sypaadjiehoop
want my huis verdien hierdie spring clean
ʼn uitskrop en nuwe laag verf
net een probleem spook by beloftes van môre:
dis ook wat ek gesê het in herfs
© Cobus Kruger
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek