In die sluimer van bome
In die sluimer van bome
Ek wil terugkeer:
na die wellustige gloed in jou lyf.
Vleg sonlig as vroedvrou
en baar my in dennewoude,
lê my teen die swel van jou bors
-wil my in jou oë eien-
nou, vir die eerste keer.
Laat my dan toe om jou neer te lê
-waar bome oor jou kan waak-
dit lyk (al hoe meer)
of jou skaduwee in jare krimp.
Daglig het haar trui toegeknoop
en die nag oopgevou soos ʼn kaart,
dennebolle in stilte uit jou mond gepluk –
in die ewige sluimer van bome.
© Ernst Fernando Dos Santos
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.