In somer en winter
ek was besig om jou ‘n brief te skryf
waarin ek my stiltes tussen somer en winter,
toe rooistofwolke die aarde gestroop het
en winterkouebergwinde weer als verkluim het,
wou verwoord, wou net met jou praat
ek wou my verbeel ek sien jou weer
met jou oë laggend en jou stem wat huppel
toe jy tussen veldblomme en struike
baljaar en gedans het, gedraai het
ek was besig om jou ‘n brief te skryf
waarin ek vertel het hoe ek jou mis, somer en winter
wanneer ‘n kaggelvuur se knetter stom raak
en druppels koue spore oor my wange trap
wat sout op my lippe kom lê
ek wou weer jou lippe proe
met jou oë vol liefde en teerheid
toe ons in nuutgevonde omhelsing
versmelt het in ‘vir-altyd’
my pen en papier lê nou stil eenkant
my brief se woorde net halfpad klaar
waar natkolvlekke die ink verwar
en leë lyne hul eie storie vertel
van hoe ek soms steeds na woorde soek
in somer en in winter
©callie 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.