Januarie 2025 – OOP projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan die 12 lede!
Wenners
GEDIGTE
Brons
(1) No 21 Rosalee Meyer met Uurglas
(2) No 11 Johan Jansen van Rensburg met’n Ou se U-draai
(3) No 20 Elize Awona Pucillo met Rebelse held
Silwer
(1) No 2 Coenie Horak met Tjailatyd – Ode aan Theuns Jordaan
(2) No 42 Marlene Erasmus met ’n Haikoe
(3) No 40 Cobus Kruger met Om middernag
Goud
(1) No 25 Hester Steenkamp met Leonardsville
(2) No 34 Elize Kruger met Uit die kombuis
(3) No 38 Andries Fourie met Stormwolf
PROSA
(1) No 8 Aniki Joseph met Blom waar jy geplant is
(2) N0 2 Pieter Mostert met Bonsaiboompies – integrale deel van die mikro-kosmos
(3) No 7 Hester Steenkamp met Aankomsaggressie
VERHALE
(1) No 9 Amanda de Meillon met Onrus op Nooitverdiend
(2) No 7 Retha van Deventer met Hemelse park van Liefde
(3) No 6 Johan Jansen van Rensburg met Jannie Fiskaal
KOMMENTAAR
BRONS:
- Vormlose skaduwees
Ek het begrip vir die wyse waarin jy die vers aangebied het. Dit moet die warboel van gedagtes en emosies duidelik verbeeld en daarom is die eerste 3 stansas baie kripties. In die 4de en 5de ervaar ek `n verandering in die toon juis omdat dit meer geskryf is soos ons sou praat. Ek wil tog hê jy moet daarop let, en verál in `n enjambiese vers, dat die gedagtes steeds georden moet wees en nie sommer lukrake en loshangende gedagtes behoort te wees nie. Maak gebruik van die arsenaal van gereedskapstukke wat die digter tot beskikking het. Koppel- en lidwoorde help om te orden, maak dit beter leesbaar en speel `n belangrike rol in die meter en ritme.
Hierdie is `n vers met groot potensiaal en kan ontwikkel word tot `n skitterende leeservaring.
- In gedagte my passie
Die sentiment van stilte en `n stadiger pas in ons daaglikse bestaan word deur baie lesers gedeel. Ek het egter `n voorbehoud oor die aanbieding, die tipografie en die gedagtegang. Jy begin jou vers deur te verwys na die bokke in die pad en dan verskuif die aandag totaal na perde en die voorliefde wat die skrywer daarvoor het. Miskien as die vers nie enjambies aangebied is nie, en daar effe orde kon wees deur die gebruik van punktuasie, sou die gedagtes nie so lukraak op die papier gelyk het nie. Die vers het baie potensiaal maar daar sal ernstige redigering moet gebeur.
- Jesus se skemerskildery
Ek vind jou titel besonders prikkelend. Ek maak toe vir my `n skets in die kop (net met die titel ingedagte)hoe Christus tydens Sy kruisdood `n verduistering veroorsaak het. Helaas, ek was verkeerd. Ek sou dink dat dit tegnies meer korrek is om die skeppingswerk en die gevolge daarvan aan God eerder as aan Jesus toe te skryf. Die titel dus: “God se skemerskildery.”
Die gedig is nietemin keurig. Let daarop dat herhaling soms steurend kan wees. Ek gee een voorbeeld uit jou laaste stansa:
“met die nag wat my toekombers
bêre ek skemerherinneringe
in my skatkis vir wéér onthou. ”
Jy raak dus ontslae van die dubbelgebruik van “my” en die slotsin is aangepas om die ritme te help.
Ek hou van jou vers. Klein aanpassings kan `n groot impak hê.
- Swaar verby
Die assimilasie wat jy skep tussen beide die “slawernye”, een van armmoede en `n ander van die korporatiewe, is opvallend. Dit is natuurlik as ek die vers korrek interpreteer. Die gebruik van “bek” in beide gevalle pla my oor so effe.
Die slotparagraaf is treffend. Mooi gedoen.
- Die wildsbok van die dagbreek
Die verpersoonliking van die wildsbok wat om die mens en sy/haar uitdagings dui is `n goeie invalshoek. Jou laaste strofe is veral treffend omdat dit die vers positief swaai en belofte inhou vir die wat uithou en aanhou. Die 3de stansa is `n mooi volta wat die grond fertiel maak vir die vierde. Mooi gedoen. Ek wonder tog of die vers nie sterker sou wees met `n nie-enjambiese aanbieding nie? Miskien kan ek en jy op inkmoderator@gmail.com verder hieroor gesels.
- skuif ons Vader hemelsluise oop
Die beskrywing van die reën in menige metafore laat my met kritiek. Alhoewel dit vir die digter nodig mag wees, vind ek dit oorbodig, selfs effe oordrewe. Verder sal ek “skepping” in die laaste sin met “handewerk” vervang. Dit skep `n ekstra lettergreep en help dus die ritme. Alhoewel ek hieroor voorbehoud het, is die vers keurig.
- `n Ou se U-draai
Dit is sonder twyfel `n heerlike ritmiese aanbieding. Ek hou van die tipografiese óók. Daar is wel `n paar klein jakkalsies wat pla:
- Omte kan wel as een woord gebruik word, nl. “in die omte”, maar ek dink dit is verouderd. In hierdie geval is “om” `n voorsetsel en kan nie aan die “te” gekoppel word nie. Ek het in die bronne tot my beskikking nageslaan maar kon nie regverdiging vir jou weergawe vind nie.
- Jy gebruik lukraak hoofletters in jou vers sonder motivering daarvoor.
Die ritme hierin is heerlik en die aanbieding mooi ten spyte van die lelike “grip” wat ingesluip het. Ek hou hiervan.
- Vooruitskouing
Jou vers behandel die eeu oue vraag van die menslike toestand. Die aanbieding is egter baie omslagtig. Ek ervaar dieselfde vraag en argument word herhaal. Jy kan hiervan `n treffervers maak want dit beskik oor baie potensiaal.
- Eerste liefde
Die vers het `n eerlikheid daaraan. Daar is egter `n paar funksionele uitdagings hierin. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
- Roep van die Aandvoël
Let op die deelteken op die “ë”. Ek is nie seker presies waarna die aandvoël in hierdie konteks verwys nie. Kontak my op inkmoderator@gmail.com
- Sneeustorie
Daar is woorde wat herhaal word wat vir my onnodig is. Ek dink nie dit is die optimale waargawe van hierdie vers nie.
- Menswees
Ek dink nie die vers is optimaal ontwikkel nie.
- Rebelse held
Jy het die verhaal mooi verwoord. Ek het hiervan gehou.
- Uurglas
Jy het `n ongelooflik aangrypende vers gedig. Dit is teersaam en lieflik. Ek wil graag klein voorstelle maak wat die ritme en woordorde betref. Aangesien jy enjambies aangebied het en nie op punktuasie steun nie, my voorstelle:
- Lyn 6 – verwyder “met”
- Lyn 7 / 8
- “maar ek onthou
jou hande se warm”
- Lyn 9 / 10
- “die koestergly
soetmooi van bemin”
- Lyn 13 / 14
- “sterre kon vang
liggies teen die bang”
Die slot is aangrypend en die hele gedig beïndruk. Baie goeie vers wat meesterlik aangebied is.
- Soeke na reënboë
Daar is sekere sinne hierin wat my verwar, en dan veral met die herhaling van konsepte nl. “wil ek dwaal met `n verdwaalde kompas los…”
Ek verstaan die konflik maar dit moet ten minste georden aan die leser oorgedra word. Die vers is ongelukkig onsamehangend en nie werklik georden nie.
- Liberté
Dubbelontkenning in Afrikaans is `n spelreël. Dit mag onder goed gemotiveerde omstandighede vermy word maar oor die algemeen is dit `n gegewe. Ek vind jou vers effe ordeloos en omslagtig op plekke. Ek ervaar dit steeds keurig nietemin.
- Soek my in elke reënboog
Let op die woordorde en -keuses wat jy uitoefen. Kyk na jou aanvang sin:
“Dit is tyd vir my
om die aardse bestaan te groet”
So vermy jy onnodige woordoorbodigheid.
Leer ken die aksente in digkuns nl. “mooi én pyn”
As jy `n sin vorm soos “soek vir my in elke reënboog…” dan klink dit asof die digter die karakter opdrag gee om iets in die reënboog te soek. Doen dit eerder so:
“Soek my in elke reënboog.”
Ek vind jou idee mooi en keurig maar die aanbieding het akademiese uitdagings. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
- Affodilblom
Die derde strofe behoort met `n vraagteken te sluit. Miskien kon die strofes korter wees deur van jou sinne saam te voeg. Keurige vers.
- Die ewige silo
Die keuse van woorde en die orde waarin ons as digters dit gebruik speel `n integrale rol in hoe die leser ons werk ervaar. Ek krap bietjie aan jou eerste strofe nét as voorstel sodat jy kan sien hoe omslagtigheid vermy kan word:
“In die yskoue Vrystaat, sny die lem
deur die dorre kors, om sooie te tem
ontbloot lê die lewebarende aarde
en, ontkiem die saad in kosbare waarde.”
In die voorbeeld vermy ons herhaling, herstel die metrum (nl. lewegewende, waar die “we” en “ge” beide ligte klanke is terwyl “ba” `n harde klank is). Ook word oorbodigheid in die kiem gesmoor. Ek gesels graag verder met jou op inkmoderator@gmail.com indien jy dit sou verkies.
- Visioenere held
Daar is baie gedagtes wat in sinne opgeneem is wat losstaande voel. Punktuasie sou hier kon help maar dit wil voorkom of die enjambiese aanbieding jou geval. Ek sal graag saam jou deur hierdie vers wil krap om te sien of ons die volle potensiaal kan ontsluit. Kontak my op inkmoderator@gmail.com
SILWER
- Elogium
Alhoewel die vers ‘n donker toon het hou ek hiervan. Ek wonder of lyn 7 tot lyn 12 nie sou kon baat met funksionele punktuasie nie? Die slot hierin is aangrypend. Keurige werk.
- Tjailatyd
Dit is ‘n meesterlike vers. Ek het geen kritiek hierop te lewer nie.
- Vars
Die vers is effe kripties, alhoewel dit steeds beeldryk en mooi is.
- Twintig vyf en twintig
Dit is ‘n goeie konsep o die verloop van tyd met musiek te vergelyk. Die herhaling van “nou” en “toonhoogte” in die vers pla. Die vers is vir alle praktiese doeleindes geslaagd en keurig.
- Ek
Dit is keurig maar ek is nie oortuig dat dit op silwer standaard is nie.
- Ob(ster)naat
Ek verstaan hoekom jy die “ster” in jou titel wil uitlig, maar, onthou, indien jy ‘n woord so wil aanbied moet dit wat buite die hakies staan op hul eie ook iets beteken: “obnaat” is nie ‘n erkende woord nie.
Die vers is ‘n versameling loshangende sinsnedes wat nie mooi vloei nie. Ek dink nie dit is die optimale weergawe van hierdie vers nie.
- Skakerings van blou
Dit is ‘n mooi ode aan die see en die vrede wat dit soms in die gemoed kan bewerk. Netjies.
39. Verlore dinge
- om middernag
Dit is ‘n skerpsinnige vers wat mooi omgaan met die tegnologiese euwel van die skermgogga. Skerpsinnig en keurig.
- Na die lig
As ek kritiek moet lewer sal ek die laaste sin geheel weglaat. Die tweede laaste sin is kragtig. Weldeurdagte en keurige vers.
- ‘n Haikoe
Ongelooflik skerpsinnige haikoe. Die lettergrepe voorskrifte is raak en die inhoud is werklik nie net skerpsinnig nie, maar ook keurig en smaakvol.
GOUD
- Hartstaal
Dit is ‘n besonders keurige vers. Netjies en welgedaan.
- Afskeid
Skerpsinnig en teer. Besonderse vers. Welgedaan.
- Leonardville
Dit is ‘n besonderse vers met die mooiste beelde. Baie gepaste en keurige vers wat die leser attent maak op ‘n sosiale euwel. Jou vers is besonders aanmekaar gesit. Dit is ritmies akkuraat van begin tot einde. Baie goeie werk.
- Spatsels van verraad
Onthou die ‘n merker (hakie).
Ek weet nie of dit is optimale weergawe van hierdie vers is nie, en veral in die goue klas.
- Magiese hipnose
Dit is ‘n vars invalshoek om die see en sy woelinge te verwoord. Die laaste sin hinder effe: “in my angstige bang”
waar angs en bang in dieselfde sin effe oorbodig sou wees. Miskien kan jy jou vers sonder daardie sin sluit. Netjiese vers met mooi hipnotiese beelde.
- Herhaalde
Eerlik dink ek die vers is woordswaar. Dieselfde “boodskap” kan oorgedra word selfs met funksionele redigering hieraan.
- Tussen klanke en skaduwees
Keurige vers.
- Uit die kombuis
Wat ‘n besonderse mooi vers. Daar is min dinge in die denke en herinneringe van die Afrikaner as kos, die oorsprong, oorspronklike resepte, samesyn en die liefde vir ons Moedertaal. Jy het alles besonders mooi saam verweef in ‘n glans- en beeldryke belewenis. Welgedaan.
- Stille waters giftige grond
Ek weet nie of jy ‘n Pantoem probeer skep het nie, want dit voldoen nie aan die voorskrifte nie. Dit wil egter lyk asof jy net van refreine gebruik gemaak het. Ek hou van jou vers wat keurig refrein in mooi beelde.
- Liefde sal my besiel
Keurige vers wat mooi refrein om klem op die boodskap te plaas.
- Stormwolf
Wat ‘n besonderse manier om ‘n donderstorm te verdig. Heerlike beelde.
PROSA
- Nooit alleen
Onthou om die postroof te gebruik waar dit gebruiklik is nl. daar’s
Keurige aanbieding.
- Bonsaiboompies – integrale deel van die mikro-kosmos
Die term Bonsaiboompies pla. In my mening beteken “Bonsai” reeds “klein” en is die verkleinvorm van boom dus onnodig.
Jou aanbieding en navorsing is weldeurdag en netjies.
Ek moet net noem, ter wille van my eie gewete: die kunsvorm van Bonsai nie met afgodediens of enige ander godsdiens in verband gebring behoort te word nie, net omdat sekere groepe dit gekaap het. Die Chinese het hierdie kunsvorm reeds 500 jaar voor enige religieuse konnetasie daaraan gekoppel is, beoefen.
- Vaderskap
Onthou die ‘n sonder die hakie is ‘n spelfout!
Die skrywe is netjies genoeg maar dit lees baie herhalend.
- Skoonheid is ‘n illusie
Let op spelling. Die skrywe is keurig.
- Geroeste slotte en blink nuwes
Dit is ‘n netjies, amper digterlik mooie skryfstuk. Die leser ervaar die omgewing saam die skrywer. Werklik keurig en netjies.
- Wat is die plan?
Keurige skryfsel.
- Aankomsaggressie
Dit was ‘n heerlike leeservaring. Baie netjies aangebied en lieflik vertel. Welgedaan.
- Blom waar jy gepalnt is
Heerlike verteltrant. Baie keurige aanbieding met lieflike progressie. Baie mooi vertel.
9, Selfondersoek
Teer en aardse vertelling. Keurige werk.
- Geloofopvoeding in die skool
Jy behandel ‘n groot vraagstuk wat ek dink jy keurig behandel het. Jou skrywe is natuurlik met ‘n persoonlike mening en ek vertrou die leser sal dit so ervaar. Netjies gedoen.
- Wees bedag op brandgevaar
Goeie inligting en oordenking oor die gevaar van vuur. Jy het dit keurig aangebied.
- Privaat- of staatskool?
JY het goeie sosiale kommentaar gelewer op hierdie onderwerp. Jy was beredenerend en keurig in jou aanbieding. Netjies gedoen.
VERHALE
- Dribble
Netjies poging tot ‘n vonkverhaal. Let op jou spelling.
- Ouma skop die emmer asseblief
Komies. Kinders is so letterlik in hul onskuld,
- Engelse en Paasfees
Lekker leesverhaal.
- Kerneels pas skape op
Lekker leesverhaal. Netjies geskryf.
- Op die plaas “Ope hande”
‘n SONDER die hakie is ‘n spelfout. Let op spelling o.a. “intelligent”
Die verhaal lees lekker nietemin.
- Jannie Fiskaal
Goeie karakterontwikkeling. Netjiese verhaal.
- Hemelse park van liefde
Baie netjies aangebied. Uitstaande.
- Die viooltjie
Keurige verhaal.
- Onrus op Nooitverdiend
Goeie karakterontwikkeling in die verhaal. DIe verhaal is netjies en goed ontwikkel. Baie goed gekryf.
- Krummels van hoop
Teer en netjies geskryf. Goeie ontwikkeling.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.