Jolifikasie (Goud)
Die boordbome kon kwalik
hul skaterlag insluk
toe lente onthuts haar hande
oor die wind se tuitbek druk
genoeg is mos genoeg nou,
het sy beslis gesê
en ligpienk bloeiselsoene
op hul takke neergelê
sy’t loof met haar groen vingers
om die wingerdstok geweef,
en skielik was die groeiseisoen
oraloor fluks op dreef
die bont gesiggies in my tuin,
voorwaar ‘n ydel lot,
het goedig met die edelwit
van lelieblom gespot
geveerdes en gevlerktes
het die doenigheid beloer
en luidkeels uit die boomtoppe
hul goedkeuring gekoer
toe, met ‘n laaste moeë gaap
gee winter eindelik bes
hy sê daar’s nou géén salf te smeer
aan hierdie werfmoles!
©️ Elize Kruger
25 September 2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek