Jou uurglas my kind
Jou uurglas my kind
My kind die dag met jou geboorte
het Ek jou uurglas regop geplaas
vol gelaai wat stadig begin deurloop
as baba sonder weet wie jy is of gedagte
korreltjie vir korreltjie, een vir een sonder haas
in jou lewe wat kom vol liefde geloof en hoop
My kind gebruik elke sekond elke minuut
in jou kleuter en jongmensjare aan jou geleen
in hartseer lag sonskyndae korreltjie jou uurglas
stadig maar seker in oud of nuut
elke dag elke nag elke tree elke asem ‘n seën
hou ek jou in my onsigbare arms vas
My kind verspeelde geleenthede en tyd
onvrugbare ure en dae van leeglê en niksdoen
het jy jou kanse vasgegryp of verspeel
jeugjare wat ingly in volwassenheid
was jy die lig op ander se pad en ander te versoen
het jy jou gawes en talente met jou naaste gedeel
My kind deur jou huweliksjare met jou gesin
het jou geesteslewe gesprankel vir My
jou uurglas dalk al op die halfpad merk
die tyd waar jou liggaam stadiger word beweeglikheid min
en jy al hoe meer tyd meer passief wy
want jou kragte word min en nie meer so sterk
My kind jou uurglas se korreltjies
nou bo minder word en meer
onder en jy dalk nou een-
saam terugkyk op
verspeelde tyd
jare maan-
de dae
ure
‘n
tyd
gemors
nou te laat
as die laaste
korrels deursif en
jou uurglas byna leeg
en jy dit nie weet as die
laaste korreljie val… val… val
en Ek jou boek van die lewe toemaak
jou uurglas wegbêre totdat Ek eendag
daarin kom lees hoe jy deur die uurglas gegly
het en hoe jy jou godgegewe lewenstaak
om die wedloop voltooi het na die prag
van die Ewige Lewe waarheen Ek jou na toe lei
maar ek sou so graag nog een maal wou sê
welgedaan my kind jy het gelewe soos ek dit wou hê
© Linda du Plessis kopiereg 16/11/ 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.