Jongste aktiwiteit:

Junie 2021 – Intertekstualiteit projek

Beste INKers

Hierdie maand gaan ons “intertekstualiteit” ondersoek. Ek het met opset hierop besluit om die belangrikheid te belig van die norme en standaarde aangaande die gebruik van brontekse om nuwe werk te skep. Daar is ‘n morele verantwoordelikheid om altyd genoegsame vermelding te maak van andere se werk indien ons daaruit aanhaal of enige gedeelte daarvan gebruik as bronteks of verwysing.

Die volgende reël geld vir al die afdelings in hierdie projek.

1. Daar gaan streng beoordeling wees vir die wyse waarop jy met die bronteks omgaan en hoe jy aandui wat en waar jy dit gebruik het.

Alvorens almal inspring en hierdie heerlike uitdaging aanpak, wil ek graag intertekatualiteit so eenvoudig as moontlik verduidelik. Ek wil nie aanneem jy verstaan dit nie, maar ter wille van dié wat duidelikheid wil hê, verduidelik ek graag.

INTERTEKSTUALITEIT is om die betekenis van `n reeds gepubliseerde skryfstuk (hetsy poësie of prosa) in die vorm van `n nuwe skryfsel te ondersoek. Wat beteken dit? Jy lees en interpreteer iets, en verwoord dan hoe jy die werk verstaan. Nie twee persone sal selfs uit een skryfsel dieselfde pitkos haal nie, en juis daarom is intertekstualiteit so belangrik.

Jy tree dus in gesprek met die geskrewe teks en omvorm dit in jou eie interpretasie. Dit is belangrik om te verstaan dat jy “sin” daaruit probeer maak om vir ander lesers duidelikheid, soos jy dit sien, te skep.

Ek gaan `n eenvoudige voorbeeld gebruik:
Uit Psalm 23, “na waters waar rus is, lei Hy my heen”
Die vraag moet wees: “Wat wil die outeur sê?”
Jy kan dit op welke manier interpreteer maar ek sien dit so:
“Waar innerlike vrede in my vloei,
daar berei Hy vir my `n plek” of,
“Hy versorg my binneste sodat ek vrede en rus kan smaak.”

Die moontlikhede is legio. Dit is `n heerlike manier om jou gunsteling skrywers só te eer, en terselfde tyd die nuanse wat jy ervaar te verwoord. Doen `n bietjie eie navorsing om hierdie opdrag te bemeester.

Sterkte INKers.

GEDIGTE:

1. Gebruik die aangehegte gedig as bronteks en woeker intertekstueel daarmee.

Plak my teen die linies,
maak my staan
bont en sterk en luid
geveg-gereed en bewapen;
die aanval is pylsnel
op klank en woord en wyse,
op aanbou en plant en saailing –
laat ek onbesuis,
onbedaard lewe bloei
in die voertaal van my erfmaking.

Plak my teen die linies,
slaggereed, in laer met pen en ink.

© Ink Moderator

GORREL:

1. Gebruik `n bekende Afrikaanse gesegde / uitdrukking en gee jou mening oor die waarde daarvan.
2. Nie meer as 400 woorde nie.
3. Pas die reëls van intertekstualiteit toe.

RUBRIEK:

1. Gebruik enige, opgetekende lewensles(se), hetsy Bybel verse, die Rubaijat, of enige ander en behandel jou siening daaroor, of die invloed daarvan in jou eie lewe.
2. Nie meer as 400 woorde nie.
3. Dui jou woordtelling aan.

ARTIKEL:

1. Beantwoord die vraag: “Is vertaling van boeke uit een taal na `n ander intertekstualiteit, of nie?”
2. Doen goeie navorsing en win menings in om jou standpunt te ondersteun.
3. Nie meer as 600 woorde nie.
4. Dui jou woordtelling aan.

VERHALE:

1. Gebruik enige gepubliseerde kortverhaal en tree intertekstueel daarmee op.
2. Nie meer as 800 woorde nie.
3. Dui jou woordtelling aan. Sterkte, en geniet elke oomblik om in Afrikaans te skryf.

Gebruik die geleentheid om jou eie stempel op jou werk af te druk.

Skryf heerlik in Afrikaans.
Skryfgroete
Projekbestuurder
*Skryf in Afrikaans, dis ‘n goeie gewoonte.

*ONTHOU SLEGS 2 INSKRYWINGS PER AFDELING PER LID ASB. ELKE LID MOET OOK ASB SY STERGRADERING VIR ONS DEURGEE AAN DIE BOKANT VAN SY/HAAR PUBLIKASIE ASOOK DIE WOORDETAL VAN JOU PUBLIKASIE INDIEN DIT NIE N GEDIG IS NIE




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

2 Kommentare

  • morne du preez

    Geagte Moderator moet ek die aangehegde gedig gebruik by beide my inskrywings, of mag ek ander bekende gedigte saamvoeg in een bronteks?

  • Inkmoderator

    Beste Morne., Ja jy het my nou vasgevra. Ek het nie in aanmerking geneem dat sommige twee plasings in dieselfde kategorie maak nie. Ek dink jy kan in een gedig slegs die gegewe vers as bronteks gebruik en dan in die volgende een kan jy ander brontekste insluit. Ek sien nie name as ek beoordeel nie, maar ek sal die navraag in gedagte hou wanneer ek krit. Solank jy alle brontekste aandui sal daar nie `'n probleem wees nie. Dankie vir jou navraag. Lekker skryf. IM

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed