
Kind Wees
Kind Wees
O, om weer ‘n kind te wees
droom en realiteit was deurweef gewees—
Veldspaat was vol diamante en
groen mosbedekte klippe die ene koper—
Peperbome dra koljander wyl die ou
kokerboom in blomtyd ‘n droom van
vragte goudgeel dadels was en
van alles was ek hardekwas seker —
Die lewe was sonder sorge en
orals was verborge skatte so het die
stories gesê, en iewers moes hulle lê!
Nooit was ek weer so verryk met
soortgelyke kinderfantasieë
maar,
soos die ryper jare aanwas
hou ek my herinneringe vas—
Al het die skatte gekwyn
en uiteindelik uit die oog verdwyn
bêre ek sorgsaam die kwitansiestrokies
van al my kosbare skatte en sprokies
sag genestel in die juwelekis
binne ‘n veilige nis in my geheue —
Janetta – Helena [Babs] ©
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
dis so mooi en propvol nostalgie!! Laat my aan myself dink as kind wat skatte gesoek en gevind het op die plaas ... n regte dromer... dalk is ek dit steeds vandag...