Jongste aktiwiteit:

Moedersmart

…Waarom brokkel die lig voor haar oë verby
en wat is dit wat oor haar bleek wange gly?
Wat is dit wat haar wêreld in skerwe versplint
En vanwaar dan die waas wat haar oë verblind?

Haar drome word gisters; ja nog verder verby
toe sy blosendverlief as ’n vrou kon gedy.
Sy belewe intens elke vrees, elk genot
van ’n vrou met die lente wat diep in haar bot.

O die lewe was pragtig; die blomme só mooi
(So asof die die skepping vir ’n feesdag wou tooi!)
toe sy haar eersteling teen haar boesem kon druk
deur die trane van kraam en van vreugde, geluk!

Maar die Prediker sê als is pure verniet;
selfs die lag, die traan –so ook plesier en verdriet.
Tog: Vir haar sou die Noodlot groot droef haar toemeet
as diep geesteswond wat geen vrou kan vergeet!

Soos wat stoom ’n druppel teen die vensterruit maak
koers haar hartseerverlang na ‘n laaste nagwaak,
na ‘n wiegie waarbinne haar kleinding só moeg
teen die mag van die dood se verderfengel swoeg…

Dagbreek, met die son wat in die Ooste deurskyn,
het die lig uit die oog van die kindjie verdwyn
en sy, met die lewelose wig op haar skoot
het geweet sy’t verloor teen die lag van die Dood!

Die winter stort druppels wat tot pêrels verdou
om koud maar veersag te val uit ’n hemel van grou
en somber –swaarswanger soos die wolkdak omhoog-
lê hartseerverlange in die staar van haar oog…

Waarom brokkel die lig voor haar oë verby
en wat is so nat wat oor haar bleek wange gly?
Wat is dit wat haar wêreld in skerwe versplint
En vanwaar daardie wasem wat haar oë verblind?




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed