
KLIPPE SKOP OPPAD HUIS TOE
Die ingevoerde gietyster skoolklok dril van lekkerkry
as Meneer aan sy naelstring hang
en ons geleerdheid in meelsakkies verpak
oor ons skouers gooi
Ons ploeg ‘n stofstorm in die optog hek toe op
want Dawid se donkiekar se as
lê soos argiefmateriaal verstrooid op die grondpad
en ons moet huis toe stap
met Bata skoene, Kiwi politoer en klippe skop
“Stop dit!” skree Magriet
as Sandberg se opskopklippe tromme op haar kuite speel
en Sarel se skoenpunte
vermink glimlag met wit bloed strepe
Flooi trap trekkerspore in die donsbaard van die grondpad
terwyl Ore klipgooi na die wit goed op die telefoondrade
en ekke klippe skop en lekker lag
… ek hoop Dawid se donkiekar bly altyd stukkend
wanneer die rooi kuif kapokhaan môre homself wakker skree
en ek my Bata skoene vermooi met Kiwi politoer
terwyl Sarel skree “Dit was nie ek nie Pa!”
en ekke lag vir die klippe skop wat wag
4 Kommentare
-
-
Anze
ai dis mooi en nostalgies, jou beeldspraak is besonders aangewend
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
laat my so dink aan my laerskooldae in die plaasskool toe ons kaalvoet oor die treinspoor gehardloop het