Jongste aktiwiteit:

Kraaikuil

Kraaikuil
ʼn Hartverskeurende verhaal word vertel van ʼn arm maar hegte gesin (Tenminste in die oog van die publiek) in ʼn onbekende gedeelte van die land. Kraaikuil is ʼn klein gemeenskappie met ongeveer vyf en veertig siele, Suid, Suid-Oos van die N12 en Suid, Suid-Wes van Kimberley
Vertellinge wil dit hê dat hierdie gesin, na vyfjaar se dokters besoeke, vrugbaarheidtoetse, honderde duisende erf-rande uit die sak en rate vanuit verskillende oorde, Maretha uiteindelik swanger geword het.
Wilfred Venter, geliefde eggenoot van die nuut geworde moedertjie, het soos vader Beer beskermend om sy matriargiese eggenoot gekloek en soos ʼn trotse maanhaar, sy welpie met elke greintjie krag beskerm en tog met die sagmoedigheid van ʼn moederhen die brose liggaampie hanteer.
Soos die maande aan geloop het, is hierdie hegte gesin amper nooit in die publiek gesien nie, maar as hulle uitgekom het, was die een nooit sonder ander nie. As gevolg van die misterieuse kluisenaars lewe wat hulle geleef het, het hul vel ʼn onnatuurlike wit kleur begin kry. Die huis se vensters is ten alle tye toe getrek met swaar, donker gordyne.
Teen die tyd dat Hercules vyfjarige ouderdom bereik, kry die bisare familie se doen en late ʼn vreemde draai. Skielik het Wilfred alleen in publiek begin verskyn. Vinnig uit en vinnig terug, hy het die laaste ruk van hulle bestaan, alles teen ʼn verbysterde pas gedoen.
Hierdie man wat altyd ʼn groot deel van sy aandag daaraan toegewei het om so netjies as moontlik voor te kom, het verander in ʼn 132kg slop. Waggelend deur rye en rye van aantreklike kosse met ʼn trollie wat altyd tot oorlopens gelaai was. Welriekende sweet het groot nat kolle onder sy vuil gekreukelde hempsmoue gemaak.
Steselmatig het die vreemdheid van die omstandighede konklusies en spekulasies soos ʼn vloedgolf deur hierdie klein dorpie begin rol. Van molestering tot moord het langs braaivleisvure, by tee partytjies en selfs Bybelstudies uit gebreek. Die Polisiehoof, Kaptein Werner du Preez, se nek was in ʼn lus en stelselmatig was hierdie lus stywer getrek. Hy het geweet dat hy geen rede het om ʼn hofbevel te kry om daardie ‘Bose-huis’, soos dit deur meeste van die dorpsbewoners genoem word, te ondersoek nie. Dae, weke en maande lank het Werner die spookagtige huis dop gehou. Die tuin het ontaard in ʼn woesteny van onkruid, doringboom en bos. Daar was geen manier om die huis te bereik van enige kant nie, behalwe deur die voorhekkie, waar jy in elk geval moet vleg deur toonkrappertjies, hak-en-steek en swarthaak. Die tuin hekkie wat skeef en krakerig aan een skarnier hang, wieg liggies wanneer ʼn sagte briesie tussen die kort bossies op die sy paadjie deur draai en swaai.
Dit was omtrent drie maande nadat die oorgewig Wilfred laaste in die dorp gesien is, wat die bure begin kla het van ʼn onnatuurlike reuk wanneer die wind vanuit die rigting van Wilfred-hulle se erf waai. Aangesien die erwe groot is en dit moontlik is dat ʼn hond of kat sy laaste asem daar uitgeblaas het, het Werner geen keuse gehad as om aan die voordeur te klop om hulle attent te maak op die probleem nie. Dit is egter hier waar dinge skeef begin loop het. Hoe nader hy aan die huis gekom, met ʼn hemp en broek wat toe alreeds lelike skeur en hak plekke het, hoe sterker word die reuke van iets wat in ʼn ekstreme ontbindingsstaat is. “Hoe kon so oorgewig karakter sy weg baan deur so ʼn verskriklike boskaas, sonder om sy klere aan flarde te skeur. Ongeveer vyf treë voor die deur kon hy dit nie meer hou nie, vlieg om skeur sy klere aan flarde terwyl hy so vinnig as moontlik probeer pad gee. Buite die erf sak sy hande op sy knieë neer en strooi sy hele oggendete oor die droë grondstraat.

Presies ʼn uur en ses en dertig minute later. Huilende sirenes in die verte, dwing Werner se kop op en swaai sy kyk in die rigting van ʼn vinnig aankomende stofwolk.
“Dankie vader, dit was seker die langste uur en ʼn half in my hele lewe.” Brom hy onderlangs, terwyl hy opstaan van die sypaadjie. Hy stap na die oorkant van die pad en wag half ongeduldig die dawerende sirene en onnodige swaaiende ligte in.
Dok Malherbe, of soos hy na sy ou vriend verwys, Mal Dok. Hulle het ontmoet tydens ʼn jag ekskursie, waaroor nie een van die twee graag uitwei nie, bietjie meer as sewe jaar gelede. Die spel was: “Last man standing” ʼn bottel Rum en ʼn alkoholiese tweegeveg tussen Medies en Polisie. Wie het gewen? Dit is glo uiters geheim. Na daardie aand het hulle hegte vriende geword.
Dok se span en ʼn enkel forensiese beampte ingedruk in ʼn ou Toyota Ambulans. “Julle kon nou regtig nie ʼn groter ambulans kry nie, kon julle?” Vra Werner vererg.
“Sorry oom, Dok het gesê ons ry met die ou een, hy soek glo nie vrot kadawers in sy nuwe voertuie nie. Ons gaan nie vrot goed laai nie, gaan ons oom?”
“Ek weet nog nie of daar kadawers is of wat julle dit ook al noem nie. My naam is Werner, en julle is?”
Elkeen babbel sy en haar naam vinnig af, voor die groot en ongemaklike vraag. “Waarheen?”
ʼn Skewe skelm glimlag en ʼn vinger wat dui in die rigting van die ou spookhuis, laat sy omstaanders onmiddellik die Hansie en Grietjie asem intrek roetine doen.
“Daarin oom?” vra een van die jongmense verbouereerd
“Jip… daarin” skalkse glimlag op sy lippe.
Groot oog, met hangende kake, staar hulle die oerwoud aan
“Die probleem gaan homself nie oplos nie. Kom, ek het die snoeiskêr, julle bring julle gereedskap en dan gaan soek ons die lekkergoedhuisie.” Skerts hy, sy nuwe onbeholpe helpers tot sy eie vrees se redding.
“Ons sal kom haal net sodra ons weet wat ons te wagte is.”
“Net soos julle wil. Kom…” swaai sy arm in ʼn roep gebaar. Stadig en steselmatig sny Werner ʼn meter oop pad na die voordeur.
Dit was nog maar vyf meter van die deur, dat die eerste nuwelinge begin kos uitdeel. “Nee magtie mense, as hierdie enigsins ʼn misdaadtoneel is, dan besoedel julle die plek. As julle nie die maag het vir reuke nie, is julle nikswerd hier nie!”
“Sorry oom.”
“Die wat nie die stank kan vat nie, gee pad hier! Kom… kom. Al wie oorbly is die wat nie die toneel gaan bemors nie. “
Een van die dametjies wat alreeds haar oggendete verloor het, draai bedees om en loop terug in die rigting van die ambulans.

Na ʼn paar minute se klop en geen reaksie nie, draai Werner die knop van die ou deur. Die droë slot kraak onheilspellend en met moeite stoot hy aan die geroeste skarniere. Werner gee kort snork wanneer sy gedagtes vir ʼn oomblik terug warrel na een van Stephen King se senu verhale. Die deur gee mee en open krakend.
Daar is nie een waarvan die asem nie vinnig in getrek. Vir oomblik staan almal stom geslaan. Voor hulle oë, die kleiner weergawe van die mees onversorgde munisipale stortingsterrein wat hulle nog ooit gesien het. Die gons van duisende der duisende vlieë en brommers is oor verdowend. Die swart wolk van vlieënde insekte trek ʼn kegel by die deur uit terwyl waaiende arms en hande probeer om hierdie swerm uit die toeskouers se neuse en monde te hou.
Werner se oë volg die ingeoefende roetine deur van een kant van die vertrek tot die ander, die panorama op te neem en te verwerk. Amper die helfte van die vlieënde rumoer het deur die oop deur ontsnap, maar steeds is die swerm te groot om te waag om ʼn mond te oop te maak en die onnatuurlike prentjie te verwerk. Werner wys vir die groepie om stil te staan sodat hy die huis of rommelhoop kan beveilig. Stelselmatig baan hy sy weg deur hope vrot kosse. Wat lyk soos die kombuis het die meeste rommel en wil ook voorkom asof dit die eerste vertrek is wat as vullishoop gedien het. Stadig, sleepvoet baan Werner sy weg deur stinkende en verrottende lae wat eens kos moes gewees het.
Ongeveer tien minute later, wat vir Werner soos ure gevoel het, vind hy uiteindelik die eerste kamer. Hy slaak ʼn sug van verligting wanneer hy die komberse sien beweeg, na wat vir hom lyk soos die seun se bed. Met nuwe moed ploeg hy deur die verskriklike laag rommel in die kamer. Op hierdie stadium is dit die laaste ding op sy gedagtes. Die vreugde dat die seun lewend is en dalk mediese hulp nodig het, spoor hom aan. Met ʼn vinnig pluk, pluk hy kombers af en reik na die klein liggaampie. Hy pluk sy kop en hande net betyds eenkant toe en vir die tweede keer ruk sy maak asof die wil uitskeur van sy ingewande.
Die gesig voor hom is onbeskryflik, die stank van die ekstreme stadium van verrotting is oorweldigend. Miljoene maaiers wriemel deur halfskoon geëte bene. Leë oogkaste kyk die verslae polisie man aan. ʼn Gesig wat hy vir so lank as wat hy leef, nooit sal vergeet nie.
“Oom?”
“Kom hierheen, die eerste kamer regs in die gang af!”
Die gesigte van die drie jong vriende spreek boekdele en die jong forensiese patoloog kort op hulle hakke stop in sy spore van skok. Sy mond hang oop, vergetend van die swermende dreunende brommer en vlieg swerms. Hy herwin egter vinnig sy balans en stop die mediese personeel in hul spore.
“Almal uit, ek moet eers seker maak dit is nie ʼn misdaadtoneel nie. Kom… kom staan buite, gee my plek om te werk. Oom ek gaan net gou gereedskap haal, hou net almal buite asseblief.”
Net een kyk na die mediese personeel vertel die hele storie. Die bleek in hul gesigte en wit opgesperde oë spreek boekdele, nie een van hulle sal dit waag daar binne sonder dat hulle moet nie. Hy draai om en begin sy weg baan deur stukke ou kos, plastieksakke, polistireen bakkies, inkopiesakkies en soveel meer. Die volgende deur wat lyk of dit die hoofslaapkamer kan wees, se deur is gesluit. Werner stoot teen die deur, dit kraak maar gee nie bes nie. Hy gee paar tree terug, skop meeste van die gemors uit die pad, storm die deur en skop dit met soveel geweld dat dit met ʼn knarsende kraakgeluid uit die skarniere breek. Die stank wat soos ʼn vloedgolf die kamer uitrol, slaan Werner se asem weg. Die vensters wat dig gesluit is, het gehelp dat die hele brommer populasie nie nes gemaak het in hierdie kamer nie. Hierdie vertrek is dieper onder die gemors as enige van die ander vertrekke. Die tv nog ingestel op tv2, beeldsaai klankloos die herhaling van een van die vorige aand se programme, behalwe vir ʼn paar koue, leë oë wat staar na die plafon. Werner besluit dadelik dat hy hierdie kombers nie sommer goeds moets gaan aftrek nie. Na wat in die vorige vertrek gebeur het, waag hy dit nie weer nie. Waar is Wilfred? Hier lê Maretha, duidelik al ʼn paar weke oorlede en langsaan wat net Hercules kon gewees het.
“Ek het nie kennis van die tyd en aftakeling van ʼn liggaam na dood nie, daarom los ek dit in julle hande.” Sê Werner terwyl hy oor die groepie kyk wat voor hom staan. “Victor, is jy klaar met die seun se kamer.”
“Ja oom, nadat ek drie keer van my etes moes ontslae raak, maar ek dink ek het alles. Gelukkig het Dok Malherbe ʼn gekwalifiseerde lykbesorger, met forensiese agtergrond saam gestuur. Ek het alle bewysstukke wat ek bymekaar kon kry aangeteken en veilig geseël in die nodige koeverte en sakkies. Vanessa weet hoe om kadawers te verpak sodat geen bewyse, as daar is, verlore raak nie” Victor met ʼn klompie koeverte en sakkies in ʼn skoendoos baan sy weg na die ambulans.”
“Voor jy loop… jy is die forensiese deskundige, wat dink jy het hier gebeur?” vra Werner sag
“Ek wens ek het geweet oom. Al wat ek weet, dit het vir lang ruk aangegaan. Het niemand dan niks gesien of gehoor nie?” vra Victor, amper beskuldigend “Daar moes tog iets gewees het. Kyk hoe lyk die erf, hierdie reuke moes al ʼn lang ruk onder die neuse van die bure gewees het.”
“Miskien so Victor, ongelukkig is die erwe groot en die huise ʼn redelike afstand van mekaar. Met betrekking tot die erf; ek sal skuld daarvoor neem, want ek weet ek moes lankal gereageer het op die klagtes. Ek het net nooit rede genoeg gevind om die privaatheid van ʼn stil en stemmige huisgesin te betree nie.”
Victor kyk hierdie sterk man direk in die oë, die skadu van die gebeure lê vlak by die oppervlak. Dit is nie lank dat hy sy studies afgehandel het nie. Sy kennis van die lykskouings wet van Suid Afrika, wet 58 van 1959 is ongeëwenaard. Met ʼn Cum laude geëts in ʼn A++ sertifikaat plus ʼn bekroning van die beste student vir die laaste tien jaar, weet hy waarvan hy praat. Hy weet ook dat om ʼn forensiese oordeel te fel op ʼn onafgehandelde ondersoek, is fataal. “Oom het gepraat van drie persone, ek sien net twee.”
“Ek sien nie die man nie, Wilfred, is sy naam. Ek gaan agter kyk.” Werner se oë is neergeslaan en sy breë skouers hang verslae. “Wat het hier gebeur?”
“Ek wil geen kanse wag en antwoorde uitdink nie. Kom ons wag dat die bewysstukke vir ons praat. Dit is dalk ʼn goeie idee as oom kan begin soek, dalk lewe hy nog.” Victor draai om en baan sy weg na die bussie.
“Julle bly bymekaar, hier is my telefoonnommer,” Werner skribbel vinnig sy selfoon nommer op ʼn stukkie papier, “Julle loop nooit alleen nie, julle bly by mekaar. As enigiets gebeur bel my onmiddellik, hoe klein ook al. As ek kyk na die huis en sy mense en Wilfred is dalk nog lewend, sal ek op my pasoppens wees as ek julle is.”
“Reg oom”
“Bel my” sê Werner, pertinent. Hy draai om en loop in die rigting van die agterdeur. As daar een plek is waar hy dalk moontlik kan wees, is dit agter. Hy het die hele huis deursoek, daar is geen teken van Wilfred nie. By die agterdeur, skuil hy agter die muur, steek sy hand uit en maak dit versigtig oop. Die deur swaai krakend oop. Die erf agter is niks meer as twee by een meter loop-spasie nie. Soos rommel in die huis rond lê, so lyk die agter erf. Die bosse is so dig teen mekaar dat niemand daardeur kon gaan nie. “Hy moet hier wees, of hy moes in die nag uit gegaan het. In die dag kon hy nie uitglip nie, want elke sekonde van die dag was daar oë op die huis. Nou as hy nie uit is nie, is dit moontlik dat hy nog êrens in die huis moet wees. Die feit dat hy nie te voorskyn gekom het nie, beteken net een ding. Hy kruip êrens weg, of hy het soos ʼn ruggraatlose wurm in die nag ontsnap” rol die gedagtes deur Werner se oormoeë brein. Hy is nie gewoond aan soveel aksie onder sy beskerming nie. “Hy bespied weer die erf agter, tevrede draai hy om, maak die deur toe agter hom toe, sluit dit en druk die sleutel in sy sak. “As hy hier binne is gaan ek hom kry. As hy nie dood is nie en hy is die oorsaak sal hy nie sonder boeie hier uit gaan nie. Wat het hier gebeur? Kan so ʼn rustige en vredeliewende gesin ʼn donker skadu hê?”
Nadat Werner eers almal uit die huis gestuur het, begin hy metodies elke vertrek deursoek. ʼn Deur wat half oopstaan, langs die hoofslaapkamer, trek sy aandag. Met die eerste deursoek het hy hier in geloer, maar omdat dit lyk soos ʼn pak- en werkskamer, het hy hom nie daaraan gesteur nie. Die deur swaai krakend oop, Werner moet weer sy skouer in sit om dit heeltemal oop te kry. Hy besef skielik iets wat hy nie voorheen op gelet het nie. Vir meer as die helfte van die deur se beweging, het dit gemaklik geswaai wat beteken dat hierdie vertrek redelik onlangs gebruik is. Versigtig loer hy van een kant van die vertrek na die ander, ʼn rilling hardloop soos ʼn senuagtige rot teen sy ruggraat op. “Iets voel nie pluis nie.” Fluister hy sag. Sy nekhare rys en sy sesde sintuig skree so hard dat dit voel of sy ore daarvan tuit.
ʼn Blitsende bruin streep uit die hoek van sy oog, laat hom instinktief regs duik. Tussen hom en die deur staan daar ʼn vreesaanjaende brandsiek hond, met slegs enkele kolle hare op sy growwe droë vel. Die wreedheid en haat in sy oë laat Werner instinktief versigtig terug tree. Hy struikel oor iets agter hom en beland op die naat van sy rug. Die diep grom en flitsende geel tande van die ondier bring ʼn vreemde beroering in Werner se gemoed. Die hond se ribbes en rugstring steek wreed maer uit. Die vel om sy kop is styfgetrek en vaal. “Hierdie hond moet ʼn baie lang ruk reeds sonder kos wees.” Hierdie vreeslike aansig maak hierdie hondsdol hond net nog ʼn wreder prentjie en Cujo soos ʼn lammetjie. Stadig en versigtig haal hy die 9mm uit sy skede. Die grom word dieper en meer onheilspellend. Die volgende oomblik lanseer die gedierte homself met oopgesperde bek in die rigting van Werner. Hy duik regs, rig die pistool en vuur twee vinnige skote na mekaar. ʼn Kort tjank geluid ontsnap die hond se bek wanneer hy die grond tref enkele tree van waar Werner teen die muur sit. Sy hande bewe onbedaarlik. Die grusame gedierte beur na sy voete. Die skote het goed getref maar is nie dodelik nie. Hy lig die pistool versigtig, die loop bewe so dat hy amper wonder of dit die teiken sal tref of net die reeds dol hond net kwater sal maak. Hy vuur weer twee vinnige skote, een egter mis en tref die sementmuur bokant die hond en dit laat ʼn stofwolk van sement agter, die rondte skram fluitend weg tot binne die houtdeur van die ingeboude kas. Die tweede rondte tref egter sy merk en die bose wese rol leweloos eenkant toe.
Groot sweet druppels pêrel op sy voorkop. HY kyk na die pistool in sy hand en begin senuagtig giggel. “Polisieman, en ek skrik so vir ʼn hond?’ Spot hy met homself. Hy beur sy stram en stywe lyf op en gaan staan rustend met sy rug teen die muur, vir ʼn oomblik sluit hy sy oë.
Met slag wat hom terug gooi teen die muur en ʼn skielike en ontsettende brandpyn in sy linkerskouer, ruk die nuwe gebeure hom wreed uit sy tydelike ontspannings toestand. ʼn Warm bloed stroompie gly teen sy bors af. “Is dit ʼn droom?” vra hy homself ʼn retoriese vraag “As dit is, beter ek baie vinnig wakker word.” Sy oë vlieg oop en dan kyk hy skielik vas in die gestalte van Wilfred. Die man het geen draad klere aan nie, rondom sy mond skuimbolle, Sy voete wyd uitmekaar geplaas, bene gebuig en hande op sy bobene soos ʼn wafferse Sumo-stoeier. Die wildheid in sy oë oorskadu die van sy hond. Die man is vuil, die reuk van verrotte vlees en die vieslike reuk van ʼn stortingsterrein kleef aan hom. Werner, draai sy kop links en bekyk die vreemde besem spies wat uit sy skouer steek. ʼn Besemstok met die lem van vleismes in gewig en stewig gebind met tou. Sy pistool wat in sy linkerhand was, lê buite sy bereik op die vloer. Hy weet dat daar nie ʼn kans staan dat hy hierdie geveg kan wen nie. Die enigste sal wees om hierdie mes uit sy skouer te kry, te gee pad; dit is as hy by die deur kan kom. Hy veg om nie duiselig te word nie.
Skielik storm die vreesaanjaende mal wese met oerkreet op hom af. Hy probeer homself eenkant toe gooi uit die pad van die stoomrollende oermens. Hy kan nie… die lem het deur die sagte vlees gedring tot binne die muur. ʼn Skielike en verskriklike pyn skiet deur sy skouer wanneer hy beur teen die lem. Asof in stadige spoed skeur die logge-liggaam reg op hom af deur hoppe vullis. Dit is die einde, hy besef skielik dat hy geen verweer of krag het om terug te baklei nie.
Sy oog vang ʼn beweging by die deur. Die klank van ʼn groot kaliber handwapen klap teen sy oordromme. Die reuse liggaam ploeg deur gemors tot by sy voete, sy bene word lam, maar dan sak hy salig weg in die mistigheid van vergetelheid.

“Welkom terug Oom” ʼn groep jong mense staan rondom sy bed in die hospitaal. Werner se oë fladder vir ʼn paar oomblikke voordat dit fokus en hy die prentjie kan in neem.
“Waar is ek?” vra Werner nog half deur mekaar.
“In die hospitaal.”
“Wat het gebeur?” Vra hy terwyl hy van die een gesig na die ander kyk
Een van die meisies begin in stortvloed van woorde, maar hy beduie dat sy moet bedaar. “Stadig meisie, my brein is nog nie heeltemal op dreef nie”
“Terwyl ons angstig buite staan en wag het, hoor ons die skote klap. Ons het ons self boeglam geskrik. Victor het egter dadelik na sy toerusting gehardloop en kom toe te voorskyn met ʼn rewolwer. Ons het dit nie verwag nie, en ons het liewer ook nie vrae gevra nie.” Stoom die meisie voort
Victor vat egter oor en bring die verdere besonderhede van wat gebeur het na vore. ”Ek het net deur die gang, met my rug teen die muur, beweeg toe ek die onaardse geluid uit die kamer hoor kom het. Ek het dadelik besef dat dit amper soos die impie stormlope in die flieks is. Ek het om die hoek geloer en geweet ek moet dadelik reageer. Die res is geskiedenis.”
“Kon julle uitvind wat gebeur het daar?” vra Werner versigtig
“Die outopsies toon dat die ma eerste oorlede is, hulle het egter van haar vleis geëet. Dit wou egter voorkom asof dit die hond hondsdol was wat die ma eerste gebyt het, waaraan sy ook oorlede is. Die seun het ʼn meswond in sy bors. Ek kan net spekuleer wat daar gebeur het. Wilfred is die groot vraagteken. Hy en die hond was so deurtrek van die hondsdolheid dat daar nie ʼn konkrete antwoord is waarom hulle nog geleef het en waarom die twee mekaar nie verskeur het nie.”
“Kom uit julle klomp, los hom ʼn bietjie uit, hy moet rus.” Dok Malherbe klap Victor goeds moets op die skouer en wys hulle die deur. “Julle sal baie tyd hê om nonsens te praat wanneer hy gesond is.” ʼn Spuitnaald met ʼn deurskynende vloeistof stoot ʼn vergetelheid en rustigheid deur Werner se hele liggaam. Hy voel hoe wegdryf van die werklikheid en rustig deur groenweivelde sweef…




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed