Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kringloop Silwer 374 woorde

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 18 Augustus 2021 Aantal woorde: 375 109 Kere gelees 5

Hand aan hand stap ons deur die aftree-oord se strate. Die son smelt in herfskleure oor die bruin tëeldakke van die tweelinghuisies. Huis Herfsblaar. Genade, kon hulle nie eerder Huis Lentebloeisel, of Groen Koringaar gebruik nie. Herfsblaar. Vaal, dof en nutteloos. Ek swaai ritmies Lafras se hand. Dat ons twee nou so op die vooraand van ons winter nog mekaar se vingers kan vind.

“Lafras, dink jy die Here het aspris die kleure van die herfsblare uitgekies? Ek meen nou, kyk na Lente, sy spog met pienk baba kleure. Sagte poeiergeel en wit blommetjies versier die bome. Dan kom die somer met sy helder rooi, groen, oranje – wispelturig, as jy my vra. Soos ‘n lawwe tiener wie se kleurprisma rondomtalie draai en nuwe kleure voortbring. Dan kry jy ons. Die herfsblare. Ons hare verdof. Ons oë verdof. Ons gehoor is nie meer wat dit was nie. So asof ons vervaal voor die winter ons finaal laat uitdor.”
Lafras druk my hand. Hy glimlag en tel ‘n koperbruin blaar op vanaf die teer.

“Liefste Lenie. Jy weet, ons kan nie vir altyd jonk bly nie. Lente dans met haar sagte kleure omdat sy nog versigtig is. Onskuldig en onkundig. Somer bring hoop en lewe. Sy dans baldadig en vrolik want sy is vry. Sy ondersoek alles. Dan kry jy ons. Ons wals en waai waar die wind ook al gaan. Ons los die uitspattige helder kleure agter. Ons het die ryk volkleur van klatergoud. Ons is allermins dof en kleurloos. Die Here het ons die mooiste van al die kleure gegee. Ougoud, oker en wynrooi. Weet jy Lenie, God is ons genadig. My sig verdof sodat ek nie die plooie op my gesig raaksien nie. My gehoor is nie meer so skerp nie en daarom hoor ek nie die lelik in ander se woorde nie. My hare is silwer want dit is die kroon van wysheid. Nee Leen, ons is nie vaal nie, ons is perfek. Winter bring weer die hoop op Lente en dan is ons kringloop voltooi.”

Ons het in stilte verder geloop. Ek vang ‘n traan met my snesie. Oor my skouer warrel die eerste herfsblaar grond toe. Ons sing ‘n laaste Psalm terwyl die kis stadig in die donker gat afsak.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    18 Augustus 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 83
Kommentaar telling: 36

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 223 gaste aanlyn

Bydraes – Argief