Jongste aktiwiteit:

Laat lente se klanke

Laat lente is net voor somer. Die rypwordingstyd van plante wat hul kleur uitstoot. Tot daardie wonder wanneer hul in volle blom hul kleur en geur ten toon sal stel. ‘n Heugelike gebeurtenis wat so onder ons neuse gebeur. Dit kruip al nader, omhul jou gemoed en word deel van ons – sonder moeite.

Laat lente het sy eie unieke klanke; gevul met die gezoem van bye. Die fladder van opgewonde vinke om die voëlbak. Van die mossies wat hulself met borrelende gespartel bad. Al spelende tot hulle blink. Die wind wat baljaar deur jong blare. Die geur van bloeisels uitgestal in kleure van wit, pienk en rooi; in elke skakering. Gun wonder Salomo het genoem dat ons na die natuur moet kyk nie. Niks kom by die skouspel daarvan nie. Ons lug gevul met geure van skoon grond na dit omgeploeg is; afwagtend op saad. Die sprankelende lus vir die lewe soos ‘n elektriese stroom wat gedurig suis; sonder ophou.

Ja, die natuur is in afwagting. ‘n Swanger afwagting vir nuwe lewe. Soos ‘n vrou wat reg maak vir die geboorte van haar kind so maak die aarde hom reg vir nuwe vrug. Al jubelend en juigende – ‘n kakofonie van klanke gevul met kosbare sap.

Te midde van die knellende droogte, die pyn en snak na asem haal die natuur asem in elke klank en geritsel. ‘n Stille vibrasie van emosies en liefde. ‘n Dans op die ritme van tyd.

Daar is ook ʼn ander gezoem – die tussen mense. Maar, dit is meer een van kla, mor en ontevredenheid. ʼn Nimmereindige gekla oor niks. En ons sien nie die nuwe lewe om ons gebeur nie. Ons is so vasgevang in ons eie wêreld dat ons die kosbaarheid van lewe mis en dan wonder ons waar die tyd heen gaan. Ons horlosies die maatstaf om tyd te meet sonder om te luister. Sonder om stil te staan. Sonder om in te neem. Vasgevang met ons besige programme. Haastige afsprake. Jaag hiernatoe, jaag daarnatoe… ʼn Knaende geskarrel na wind wat soos ‘n poep vlietend is met die enigste bewys van ‘n onwelkome reuk. Net om te sê, ja, ek was hier. Geen aangename reuk van my af nie. My dreksel vlietend met geen aagename geur nie. Die weerspiëeling van wat ons in ons om dra. So is ons mense. ʼn Poep wat beweeg deur binnegoed se opmekaar gekrulde derms. Die enigste doel om dit wat ons in neem in ongemak uit te stoot. Weg van ons. Dit laat ons ongemaklik. Verleë selfs. En die klanke en geure is onaangenaam, stinkend en onsmaaklik.

Wanneer kyk ons verby die eie onvergenoegdheid na die natuur en luister met lus na sy klanke? Geniet ons weer die mier wat oor ons bord skarrel om die suikerkorrel eerste te kan kry in plaas van om hom verergd af te vee of dood te druk. Die vlieg, hoe lastig ook al wat zoem van lewe; geniet die geur van poepe en is min gepla oor jou vies gesig. Die spinnekop wat meesterlik sy web spin, sonder enige handboek.

Wanneer laat ons toe dat die laat lente ook vesting vind in ons siel, gees en liggaam? Gevul met ons eie klanke van lewe. Klanke wat jubel bloot net omdat die lewe mooi is. ʼn Lied wat geskep is waarop ons konstant kan dans omdat ons elkeen ons eie musiekstuk ontvang het.

Ons doel is immers nie oor nie. Ons doel is om te heers… in die herfs, in die winter, in die vroeë lente en laat lente en om te bloei in die somer. Die natuur die prototipe van hoe ons moet leef. Ongekompliseerd met ‘n lus. ‘n Huppel in ons stap en al wat ons agterlaat is die aangename geur van uniekheid. Ons wese gevul met prag en stralende glans.

Laat lente laat my dink aan reën, hoëveldse donderstorms, soet heuning, vars grond en nuwe lewe. Weg van die kommersiële leefstyl van doen dit gou. Doen dit nou. Hoe lank gaan ek wag, jy is laat. Die tyd loop. Die tyd staan nie stil nie…. Dit als is ‘n gejaag na wind. Soos daardie poep.

Ons skeppingsdoel is immers om ‘n aangename geur na te laat. Om te heers oor die lewe, tyd en die klein jakkalsies wat ons vreugde probeer steel. Ons word omring deur laat lente lewe. Kom ons tap daar in en verander ons gejaag na genot. Na ‘n positiewe uitkyk wat selfs die vlieg op die drol kan waardeer.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed