Laika (Brons)
laika (brons)
ek sit en kyk na die sterre
saam met my hond roxy en wonder
of jy die mensdom sien skitter
of proe als galbitter daar
waar jy staar deur ’n patryspoort
soos laika die ruimtehond lank-lank gelede
voordat haar kapsule die atmosfeer kon tref
is sy verhef van rondloperbrak van moskou
tot ruimtehond met internasionale sterstatus
beskou jy jouself as ruimtereisiger
waar sy haar weerloosheid gewillig
in jou hande (wat lansering voortydig loots) lê
en sy jou valse liefde onvoorwaardelik beantwoord
angstig
alleen
versaak
oorverhit
hartklop (tripli)seer
’n laaste blink-oog glim tevergeefs tussen sterre
grim lewensverwagting (jy het dit geweet)
snel verswelg atmosfeer muttnik
‘n hondelewe in ruil vir tegnologie, kennis en bates
apologie
ek poog al vir jare
om in vrede
na die sterre te kyk
sodat alles in my
weer kan rym
©Retha van Deventer, 2024.
2 Kommentare
-
Cobus Kruger
Elke keer wat ek hierdie lees, kry ek opnuut hoendervleis. Pragtig, Pikettie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek