Artikels, ‘n Bron van Inligting
(Woordtelling : 783)
Dit is geen geheim dat die skryf van ʼn artikel direk gemik word op ʼn spesifieke leser nie. Dit is ook ʼn werkstuk wat gewoonlik in koerante en tydskrifte gepubliseer word, geskryf deur ʼn kundige persoon. Dit is nie ʼn storie nie, maar moet betroubare feite bevat om die leser se aandag te trek. Dit sal gewoonlik plekke, mense en gebeure beskryf wat onlangs plaasgevind het. Soms sal ʼn artikel belangrike inligting van ʼn opkomende gebeurtenis aan die leser oordra.
Dit die klein dingetjies wat die skryf van ʼn goeie artikel kan kelder, soos ʼn opskrif wat nie die leser se aandag trek nie. Dieselfde basiese beginsels wat ons op skool geleer het rakende die skryf van ʼn opstel of ʼn brief, geld ook vir die skryf van artikels, naamlik, die opskrif, inleiding, die inhoud, en dan natuurlik ʼn paragraaf om die inligting saam te vat en af te sluit.
Die inleiding sal die toon stel vir die artikel. As dit te lank en oninteressant is, sal die leser nie verder as die eerste paragraaf lees nie. Die inhoud van die artikel, die plek waar die grootste hoeveelheid van die inligting oorgedra word, kan bykans enige vorm aanneem. Die slot is so belangrik soos die inhoud en ʼn opsomming van die hele artikel. Dit kan selfs ʼn oproep wees om aksie te neem of om die leser bietjie dieper te laat dink.
Ongekwalifiseerde persone sal nie as ‘n reel by ‘n koerant aangestel word nie en ‘n graad wat by ‘n erkende universiteit verwerf was, sal vereis word. Mens neem ook aan dat ʼn verslaggewer geskool is in die skryf van interessante en insiggewende artikels waar hy sal verstaan dat die oordra van inligting baie belangrik is. Hoe nou gemaak wanneer daar ʼn artikel in die plaaslike koerant verskyn oor ʼn gebeurtenis wat slegs een maal per jaar plaasvind, maar sonder om te noem wáár dit gaan gebeur. Die verslaggewer noem wel in sy artikel dat die leser die nodige inligting op Facebook moet soek. In plaas daarvan dat hy sy werk deeglik doen, skuif hy die verantwoordelikheid af op die leser.
Eerstens, nie al die inwoners van die land stel belang om Facebook te gebruik nie. En dan, die verslaggewer was sekerlik nie beperk tot ʼn sekere hoeveelheid woorde nie, so waarom nie die broodnodige inligting oor die presiese lokaal waar dit gaan plaasvind, met die lesers deel nie? En, siende dat hy daarvan bewus is dat die inligting op Facebook gevind kan word, waarom nie die moeite doen om dit op te soek en dan sommer met die hele dorp te deel nie?
Sowat ʼn week voor die groot fees (Whale Festival), het daar ʼn perskonferensie by ʼn bekende hotel in die dorp plaasgevind. Sekerlik was almal wat by die geleentheid betrokke is, ook deel van hierdie perskonferensie? Dit is nie sommer maar net ʼn fees wat so in die verbygaan gebeur nie, maar veel eerder ʼn belangrike gebeurtenis waar daar vele inligtingsessies aangebied word. Belangrike onderwerpe rakende die toestand van ons kus en seelewe word hier gedeel.
Die lesers van die plaaslike koerant se vrae het so half in die lug bly hang. Hulle hoor die klok lui, maar kan nie die bel vind nie. Dit is nou ongelukkig ook nie asof die koerant die moeite doen om navrae wat per e-pos aan hulle gerig word, te antwoord nie.
Daar is kommunikeerders, en kommunikeerders. Party kan hulself goed uitdruk en oorval mens byna daagliks met strome onnodige inligting, genoeg om jou te laat sug. Met ander moet jy so half tussen die lyne deur lees en raai wat hulle wou sê, die inligting letter-vir-letter uit hulle trek. Dit is soms nodig om jou vraag drie of vier maal te herhaal voordat dit teësinnig geantwoord word. Wat ʼn frustrasie.
Is dit maar net nog ʼn teken van die tegnologiese tyd waarin ons leef? Omdat inligting maklik bekombaar is, is dit maklik om te vergeet dat dit steeds belangrik is om sekere goed op sekere platforms te deel. Dit is werklik ook sleg om aan te neem dat “almal” toegang tot sekere platforms of inligting het. En dit is sekerlik nie net die jonger geslag wat verkeerdelik aannames oor wat ander weet of nie weet nie? Om die kroon te span, is daar dan nie ʼn redakteur wat álle berigte behoort na te gaan voordat dit op bladsy drie verskyn nie? Bladsy twee en drie is net ʼn kortkop agter die voorblad, dus moet dit nog steeds ʼn redelike belangrike berig wees.
Dit is seker nie nodig om elke artikel met ʼn vergrootglas te lees nie, maar dit is darem seker belangrik om die geleenthede waaroor jy berig, akkuraat te kan oordra.
Verwysing na ʼn artikel wat in die PE Express op 29 Junie 2024 verskyn het. https://www.news24.com/news24/community-newspaper/pe-express/humpbacks-make-entrance-in-algoa-bay-20240527-3
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.