Jongste aktiwiteit:

Soveel dae, soveel dinge

(Woordtelling : 728)

 

Wie sou nou ooit kon raai dat die dag sou aanbreek waarop jou minderjarige kind jou kan aankla en ’n beskermingsbevel bekom omdat jy en jou eggenoot baklei?

Dit is seker waar dat ʼn kind trauma ervaar deur dít wat hy in sy ouerhuis waarneem, maar om ʼn bakleiery te rapporteer en om ʼn beskermingsbevel te bekom, is erger as om die dam onder die eend se *** uit te ruk.

Ek kan nie help om te lag oor die Wysigingswet wat maak dat dit ʼn oortreding is wanneer kinders huishoudelike geweld aanskou of selfs net deur dit te hoor nie. Die oortreding is nie teenoor die kind nie, maar dit is die ouers wat nie hul probleme soos grootmense kan oplos nie.

Ek sê nie dit is reg om ooit ʼn kind onveilig te laat voel nie. Dit is wel ʼn feit dat mens nie altyd “reg” en verantwoordelik optree nie, en daar wel die een of ander tyd woordewisselings in enige verhouding sal gebeur. Selfs in die wonderlikste verhoudings word daar een of ander tyd ʼn deur geklap of onnodige woorde aan die ander persoon toegesnou.

ʼn Luidrugtige woordewisseling kan sekerlik nie as huishoudelike geweld geklassifiseer word nie, tensy jy borde begin rondgooi en fisies hardhandig optree nie. Dit regverdig ook seker nie die dreigement dat jou kind jou daarvoor sal kan aankla nie.

Ek kan nie help om te wonder wie hierdie nuwe wet gaan toepas nie. Daar is duisende wette wat minder werd is as die papier waarop dit gedruk is.

Ek kan ook nie help om te wonder na watter plek van veiligheid hierdie kind geneem sal word nie, siende dat byna elke instansie onder groot geldelike druk verkeer.

Ek kan nie insien dat daar genoegsame pleegouers beskikbaar is om hierdie nuwe “gier” te akkommodeer nie. Elke ding wat leef en beef moet beskerm word, maar ons almal weet dat dit nie altyd prakties moontlik is nie. Ons raas en blaas met allerhande wette, maar daar is bloot net nie genoeg hande om als te hanteer nie.

ʼn Jong kind weet gewoonlik nie dat die omstandighede in sý huis anders is as in ander huise nie. Waar gaan hy die inligting kry dat hy ʼn beskermingsbevel mag bekom? En dan, wie gaan hom daarmee help? As ek bewus is van die feit dat die bure se kind elke Vrydagaand onder die vuiste van ʼn dronk pa deurloop, honger in die hondehok gaan slaap, of daar seksuele misbruik plaasvind, is dit my plig om in te tree en te vra dat daardie kind beskerm moet word. Maar gaan ek noodwendig intree omdat die bure op mekaar skree?

Ek wonder of ek my tiener sou kon aankla vir ongehoorsaamheid, terugpraat, en openlike ongeskikte gedrag?

Ek wil ook ʼn klag van huishoudelike geweld gaan aanmeld asseblief. Namens my kinders wat nou lank reeds nie meer kinders is nie. Daar was nie op ons geskree nie, maar die emosionele afknouery het dag na dag plaasgevind. Ek wonder of die staat sou ingryp en die kinders na ʼn “veilige” omgewing sou verplaas waar die versorgers wonderlike emosioneel-gesonde volwassenes is wat self hul kinderjare se trauma ten volle verwerk het? Is daardie huis van veiligheid ooit werklik veiliger? Dit is ʼn bekende feit dat kinders wat in die stelsel opgeneem word, meestal op een of ander manier deur die krake val.

Dit klink so edel om te sê dat daar gepoog word om die siklus van mishandeling te breek en vrouemoord te voorkom. Ja, ons moet ons kinders beskerm, maar hierdie voel asof ons ʼn pleister op ʼn gebreekte been probeer plak en spreek nie die kern van die probleem aan nie. Miskien is dit tyd dat ouers behoorlike ondersteuning het en selfs opleiding kry voordat hulle nog swanger raak. Dit sal reeds help as die staat nie elke tienerma met ‘n karige paar rand onderhou vir elke baba wat gebore word, en waarvoor sy duidelik nie kan sorg nie.

Wanneer die volwassenes dit kan regkry om gesonde verhoudings te handhaaf, sal die kinders noodwendig ook ʼn beter grondslag vir sy eie toekoms hê. Maar ons droom nou van wors in ʼn hondehok. Hierdie is ʼn siklus wat slegs met groot moeite gebreek sal kan word, en om die kinders toegang te gee om ʼn beskermingsbevel teen hul ouers te lê, voel nie na die regte antwoord nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed