
Laventelhuis
Wanneer die lenteson
– laatmiddag –
haastig na benede sak
en die laaste strale
lou en goud
oor jou stoep
en teen jou mure bak –
dan wonder ek:
Wie het jou gebou,
wie’t jou stene op mekaar gepak,
sement so teen jou mure aangeplak;
wie het die pleisterwerk gedoen,
by watter naam sou ek hom noem –
dié een met druppels sweet
wat teen sy voorkop blink,
hý wat met sy hamer
spykers in jou dak se plate sink.
Had hy ooit ‘n vrou gehad
op wie hy werklik staat kon maak,
hoeveel kinders in hul kroos?
En was daar liefde in die huis
en verdraagsaamheid?
Ek wonder –
het hy dan nooit ‘n roos geplant;
net ry op ry laventelbos
(al om jou) op die land?
En wat van al die bye;
het hul hom gepla
as hy deur die blomland loop?
Of, kon hy heuning uit hul korwe stroop;
kon hul só in simbiose leef –
mekaar die ongerief vergeef?
Was daar
– met elke nuwe môrestond –
die geur van pers laventel
in sy neus en in sy mond?
En het hy vrede uit sy dag kon put
– sawens –
wanneer hy aan tafel sit?
*
Wanneer (vroegaand) die lenteson
lomerig na benede sak
en die laaste goue strale
so lóú
oor jou stoep
en teen jou mure bak
– dan wonder ek …
© Carma Shaw
3 Kommentare
-
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Somerreën
Ek het jou gedig geniet, baie goed verwoord.